Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kytie hang uit

Kytie ontdek sy is in ’n filmDie laan bome langs die snelweg, skadu-torings met blare wat verweer gelyk het in die donker.

Geen huise was sigbaar deur die bome nie. Dit was in die woud, afgesluit van die ligte, paaie, karre en mense.

Die uitnodiging is versprei deur ’n e-mail-netwerk: “Daar is ’n afdraaipaadjie wat jy maklik kan misry,” het die aanwysings gelees. “Ballonne sal die afdraai merk, en volg die pyltjies na die tweede stone entrance.”

Ons het afgedraai, die Landrover groot en lomp op die grondpad.

Ons het oor ’n dik mat herfsblare gery, die bome dreigende vingers wat jou op die paadjie hou.

Rye karre was aan die kante van die laning geparkeer. Soms het daar monsters of hekse of vreemde figure uit die karre gepeul, donker nag-insekte wat uit die krakies van die woud kruip.

Die Landrover het my afgelaai; bewerig het ek my gestaal, ’n vinnige fladdering in my maag soos ’n oogknip, daar, en weer weg — dit was immers ’n Ervaring, nog ’n Nuwe Ervaring.

Grynsende gesigte in die woud, gloeiende wit lappoppe spoke geraamtes en: Supergirl, ’n oranje flits, daar en weer weg.

Ek het deur die stone entrance geloop en hy het daar vir my gewag met lang, gloeiende, geswelde vingers, groen in die flou lig. Hy het gelag, sy oë groot balle are, sy gesig vertrek in gryns.

Ek het ook gelag; ek het geweet my oë was rooi kringe en swart pupille, my tand ’n leë gapende swart gat.

“Ek sou jou nooit kon gevind het nie,” het ek aan die alien gesê, en hy het sy masker afgehaal.

“Dis soos ’n movie,” het ek gelag, en die swart lipstiek van my tand afgelek. Ons is in die huis in, elke vertrek gevul met obskure karakters, die gloeiende mure, die ligte, almal se glimlagte stralend wit in die die sagte pers lig.

“I love halloween,” het ek vir omtrent 300 Amerikaners vertel daardie nag. My eerste halloweenpartytjie, ’n underground event in die hartjie van die voorstede van Washington D.C., in Noord-Virginia.

Een van vele halloweenpartytjies, die uitnodigings wat meestal deur vriende van vriende versprei word, soos ’n groot ondergrondse netwerk. Alle ouderdomme, snorre, tannies in Egiptiese gewaad, twentysomethings, die hele establishment vermom in maskers en ekstravagante kostuums.

Nog ’n nag uit in Washington D.C., nog ’n aand vir die jollers. ’n Groot nag.

Halloween is miskien die mees spesiale nag, want almal drop die daaglikse maskers en jou ware self kom uit as die uiterlike in ’n belaglike kostuum wegkruip. En almal maak dit los ...

So anders as die Washington wat ek nou so goed begin ken. Image en ambisie en lastige libido’s kenmerk die Washington sosiale scenes...

Ek weet al waar om nie uit te hang nie: die “meat markets”, of pick-up joints, waar ryk diplomate se lui kinders en yuppiestudente van Georgetown of George Washington Universiteit hulle one night stands optel. Die hele crowd sing nog steeds “I will survive” en al daardie ander tipiese “chick”-songs.

Die aasvoëls en hul prooie se klere is soos uniforms: meisies in swart met hakskoene en bootse, ouens in wit hemde en gewoonlik kakiekleurige broeke, bruin of swart leerskoene, en hulle beweeg in hulle alewige groepies.

Die groepies ouens hang uit op die dansvloere (hulle rook nie omdat dit nie polities korrek is in Amerika nie), en hulle check die girls uit. Dit is hulle sosiale lewe, Saterdag en Vrydag in en uit ... Die girls dans en hulle Vrydagnag sosiale personas skitter ...

Maar D.C., of Deecee, soos ons daarvan praat, is vol verskillende plekke met verskillende dinge en mense ... jy raak nooit verveeld nie.

Daar is honderde klein volgepropte kroegies, hier en daar ’n doodgewone S.A.-styl pooltafel vir die meer laidback tipes; en as jy die bars by naam begin ken, en weet watter aande happy hour is, gaan die biere vir ’n dollar of twee. As jy nie deel is van die een of ander inner circle nie, dan dok jy op.

Verder is daar jazz bars gevul met suits en styl van alle kleure en nasionaliteite waar die musiek jou meesleur; jy voel asof jy in die hartjie van Amerika is waar alles gelyk gebeur: ritmes, verleidelike hees stemme; lewe, lewe — as jy jou oë toemaak sou jy dink jy het dit gevind: die outentieke Amerikaanse ervaring, die Ontwykende Droom ...

My gunsteling hangouts is musiekvenues met raserige bands en nagkruipers wat jy nooit in die dag op straat sal kry nie, gemerk deur ringe en tatoes oral oor hul lywe. Dit is soos window-shopping, jy kan nie ophou kyk nie.

As jy nie in bars of pick-up joints wil uithang nie, is restaurante geweldig gewild in D.C — om die waarheid te sê, hier is geen laatnag coffeeshops nie, so jy gaan sit maar in ’n restaurant met ’n bord kos. Dis ook die rede hoekom so baie mense oorgewig is, want as jy nie die bartipe is nie, eet jy. Hier is honderde Mexican, Tex-Mex, Mongolian, Afghanistan, Ethiopian en duisende ander soort restaurants — die geure en smake van die hele wêreld is te vind in Washington.

Die meeste pubs maak om twee-uur toe, en restaurante selfs vroeër. Maar as jy weet waar om laatnagjols te soek, is die naglewe vol verassings. ’n Tipiese Vrydag nag 3:00 a.m. in ’n obscure afterhours-jol is soos ’n nuwe wêreld wat oopgaan: donker klein kroegies waar cocktails en etniese musiek saam afgesluk word ... donker figure stomend voort in ’n kring van rook … polsende dromme, liggame skaars sigbaar in die klein spasie. ’n Drommer hamer dit uit, meedoënloos, gefokus op die blitsvinnige beweging van sy hande op die dun leer velletjie van sy trom; dans, dans, en die lywe van Washington D.C. draai om en om, om en om ...

Nag na nag, die lywe gespil op die strate, dit is Washington D.C. se joolbuurte. Op die oomblik is Adams Morgan, Dupont Circle en Georgetown vol uitbundige mense, hul stemme die musiek in die strate snags.

Die nag is die ander wilde kant van D.C., die kosmopolitaanse stad, Capital City van die wêreld se superpower.

Bedags is die lug is skoon en helder, die blink geboue is simbolies van ambisie. Steriel, sou jy kon dink as jy nie weet waar alles gebeur nie. Maar onder sy oppervlak van politiek en ambisie, woel dit. Elke nag speel talle films en stories af, en jy kan die hoofakteur wees in die talle nuwe wêrelde wat jou lok.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.