Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Droom-oog-reënboog-idealis

Kytie Koekblik

As droom-oog-reënboog-idealis was ek ’n tydjie gelede by my eerste Suid-Afrikaanse ambassade-partytjie in Washington DC.

Die kleurskakering van die ambassade het my beïndruk, daar was selfs twee jong wit ouens, die een nogals single ook.

Nou ja, Kytie K, het ek gedink, en jy dag wit, jong mans kan ’n beroep in die diplomatieke diens maar op hul mae skryf en afvee met ’n nat lap, soos my ma sou sê.

Heelwat later, nadat die meeste pers-persoonlikhede hulself getroos het met Suid-Afrikaanse wit wyn en Amarula, het die ambassade- ouens voorgestel dat ons SA teen die All Blacks gaan kyk, ’n goeie bonding experience.

Hoe meer ons gepraat het, hoe meer het ek die donker wolke agter die silwer rante begin raaksien.

Die jong manne ry blinke karre, bly in netjiese woonstelle en betaal nie self huur of water en elektrisiteit nie; boonop kry hulle hul salarisse in die allemagtige dollar EN ’n salaris in rand wat in ’n spaarrekening in Suid-Afrika oploop.

Het hulle met hul alies in die botter geval, of wat? Ek wou nie eers die sommetjie maak nie, veronderstel elke diplomaat kry twee salarisse, is dit waarheen ons belastingbetalers se geld nou eintlik gaan?

Niemand klim op die soustrein nie, jy klim in ’n vliegtuig land-uit en maak asof jy so vreeslik baie omgee vir ons Afrika-landjie se probleme ...

Dit is wel die een ding wat jy besef as jy eers in ’n ander land gaan bly, dat jy wel vir ’n Afrika omgee, al is dit dalk ’n Afrika wat bestaan uit jou herinneringe aan ’n safari in Namibië; of ’n Afrika in jou kop wat jy vereenselwig met donkiekarretjies in die strate van Grahamstad.

Ewe skielik voel jy half skuldig as jy besef hoe min jy regtig weet oor ons land binne sy groter prentjie — die meeste African Americans weet meer as wat ons van Afrika af weet.

Ons het nooit eens in skoolgeskiedenis werklik op Afrika gefokus nie, ons was ’n geïsoleerde Suid-Afrika wat homself van die kontinent gedistansieer het.

Dit terwyl ons nog altyd die vermoë gehad het om die leier van die kontinent te wees.

Wie ek ook al ontmoet hier in die Capitol City, African-Americans, politici, au pairs, surfers, die yuppie-regstudente van die gesogte George Washington University — almal beskou jou as “African”, binne die groter prentjie.

Daarom wonder ek of ons ou deurmekruis volkie onsself as “African” sien. En of ons African is?

’n Miljoendollar-vraag, ek voel elke dag anders.

Ek het hierdie tipiese New York clueless poppie-tipe ontmoet toe ek ’n rukkie gelede ’n draai gaan gooi het by die Grote Appel. Sy was duidelik nog nooit buite New York nie.

“You have light skinned people in Africa?” het sy gevra, verstom deur my onthulling dat ek van daardie kontinent af kom. Sy het my met vrae gepeper, soos alle Amerikaners as hulle ’n African ontmoet.

Hulle laat jou verskriklik eksoties voel, en terselfdertyd voel jy meer as clueless as daardie New York-girl.

Jy wens skielik jy het meer geweet van Suid-Afrikaanse jazz, mbaqanga en maskando-musiek; jy wens jy het daardie draadkarre en tarentale langs die paaie in SA gekoop om saam te bring na hierdie bo-blink land. Jy wens jy besit Johnny Clegg en kwaito-CD’s. Jy wens jy het meer nuus gekyk op SABC sodat jy kon weet wat nou eintlik in Zimbabwe aangaan.

Alle expat-Suid-Afrikaners val terug op hul Afrika-identiteit hier in die VSA.

Die laaste een wat ek tot dusver ontmoet het — hulle noem hulself Suid-Afrikaanse Amerikaners — pak hul huise vol curios wat hulle in die curio-winkels in die Waterfront kan koop. Matte, lugfoto’s van die Berg, nommerplate soos “Bakgat” of “Madiba.”

Ontmoet jy enigeen uit Afrika, of dit nou Tanzanië of Kenia is — hy is ’n brother, man! en hierdie “Americans, they take everything for granted. They are so materialistic!”

Materialisties is hulle wel. Ag aarde, vir die eerste keer in my lewe maak ek met ’n “dress code” kennis. Nie daardie kennisgewings buite die Green Man in Claremont wat sê dat jy nie jou flip-flops mag aantrek nie, ek bedoel “dress code vir suburban night life in Jo’burg” — net tien keer erger.

Die ouens is maar altyd geklee in netjies gestrykte langbroeke, ’n baie grênd hemp en soms nog das ook. Verder is die meisies geklee in enigiets blink, of vere, baadjies, toppies, leer, of smart casual aandrokke. Natuurlik hoe meer strappies en meer vel, hoe beter.

En dit is geweldig polities inkorrek om te rook.

Ek moes laas Saterdagnag 10 dollar vir ’n taxi betaal om te gaan hoëhak-skoene soek nadat ek en my Adidas-staatmakers uit ’n trendy cafee gegooi is. Toe het ek maar besluit om tot ’n mate toe konformeer.

Nodeloos om te sê, hierdie African in haar leersandale het gaan boots en ’n leerbroek koop.

Enigeen wat my ken, sal onmiddellik lag, ek is daardie klokbroekjeans-wat-op-die-vloer-sleep- tipe ... My Nelson Mandela T-shirt, hoewel ek dit dra met soveel patriotisme, gee nou wel aan my ’n identiteit, maar dit is soos om in pajamas skool toe te gaan ...

Dit is dus ietwat van ’n reinvented Kytie Koekblik wat op die oomblik hier in die strate van Washington DC rondstap.

’n African in Amerikaanse drag? Ek probeer nog hierdie antwoorde kry.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.