Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afropessimisme of Reënboog-idealisme?

Kytie Koekblik

Hoe skop ek die rubriek “Ekspat Ekskursies” af ? Waar begin ek om so ’n magtige ervaring te beskryf?

Die wel en wee — en wilde avonture — van ’n verdwaalde Afrikaanse meisie wat haarself vir die eerste keer buite die grense van Suid-Afrika bevind. Nogal in die “Land of Opportunity” tussen die Yanks.

’n Magtige ervaring is dit beslis, daardie wete dat die geld en mag van die hele wêreld onder jou voete broei as jy in die strate van Washington DC stap.

Jy sien dit in die waaksame oë van die polisiemanne — hulle noem die stad nie verniet “the Capitol City of the world’s superpower” nie.

Jy voel dit agter die donker vensters van limousines laatnag in die joolbuurte van Washington DC.

Mag en geld. Hulle sê as jy dit eers geproe het, is jy verslaaf. Net soos crack. Dis mos al wat die Amerikaners weet van Suid-Afrika. Na ’n voorbladberig in die Washington Post laas Sondag, is Johannesburg die nuwe Crack Capital.

Natuurlik weet al die Amerikaners ook van die AA-faktor: Aids en apartheid — ons klein landjie staan eintlik bekend as ’n kontinent as gevolg daarvan. Sê jy is van Suid-Afrika, en hulle vra, “Oh, from which country?”

Sommige weet meer as ander, hulle weet byvoorbeeld daar is ’n geweldige plat berg, Tafelberg. Maar ongelukkig verstaan hulle nie hoekom ons dan nie op die Berg bly nie.

Boonop is al die stories waar wat ons hoor oor die olifante en wilde diere in die “Wild Africa”. Baie Amerikaners dink regtig ons bly in die boendoes en ry skool toe op olifante se rûe.

Maar in my ses weke in Amerika het ek reeds meer bokkies en eekhorings in die voorstede gesien as ooit in Suid-Afrika.

Die ex-Suid-Afrikaners beweer hulle weet genoeg oor die land om as ambassadeurs op te tree. En hulle ly aan afro-pessimisme, gedeeltelik te wyte aan die media se beeld van ons land.

Om met ex-Suid-Afrikaners oor ons landjie aan die voet van Afrika te gesels, bly tot in hierdie stadium vir my ’n regte tameletjie. Natuurlik is dit te wagte, die meeste mense immigreer tog omdat hulle negatief of skepties is/was oor die situasies in ons land.

My eie reënboog-idealisme het reeds ’n knou gekry as gevolg van die berigte oor Suid-Afrika se motorbomme en kapings en die steeds stygende misdaad.

Hier in Amerika het ek ervaar wat ’n goeie ekonomie regtig behels, en wat dit regtig beteken om veilig te voel in jou land.

Ek het nooit besef hoe verskriklik versigtig ons in Suid-Afrika leef nie, ek het grootgeword in die skadu van paranoia. Sluit die kar, die huis, moenie alleen rondloop in die nag nie, installeer alarms, veiligheidshekke, diefwering, hou vas jou handsak, en so meer.

Vrees en onsekerheid. Dit volg my steeds. Ek verstaan hoekom die Amerikaners nie hul karre intrek in die aand nie, die deure word soms nie eens gesluit nie. Tuinmeubels word nie gesteel nie. Tipies Suid-Afrikaner, sluit ek tot almal se ergenis alles rondom my toe.

Gisteraand het my huismaat die voordeur oopgelos en ek het salig op die derde vloer lê en slaap. Hulle weet dit is veilig. Ek ken net die vrees. Om sonder vrees te lewe, is werklik ’n voorreg.

Ek het ook besef dit is een van my fundamentele regte om vrylik te kan beweeg in my land. As daar misdaad is, moet dit met mening hanteer word, ons het die reg om dit van ’n regering te verwag.

New York City is skoongemaak, Washington DC is skoongemaak, ons kan ons land opruim. Ons moet ons land opruim, anders gaan al ons ekonomiese mag padgee en gaan ons baie Afrika-lande se voorbeeld volg.

Dit is ook goed om hierdie negatiewe opmerkings te hoor by ’n wye verskeidenheid perspektiewe, en nie net by die ex-SA blankes (die sogenaamde “Chicken Run”-gemeenskap) nie. Ek het onlangs ’n onderhoud gedoen met die Nigeriese Afrobeat-pionier Femi Kuti, wat in DC opgetree het ten bate van ’n Africa Alive Aids-geldinsameling. Femi is die seun van die legendariese Nigeriese politieke aktivis Fela Kuti.

Femi het gesê die leierskap van Afrika is te blameer “forAfrica going down, Zimbabwe and South Africa’s going”.

Miskien wou ek hom glo. Hy het die mentaliteit van Afrikane geblameer en voormalige pres. JF Kennedy aangehaal: “My fellow Americans, it is not what the country can do for you, but what you can do for the country.”

What I can do for the country? Dit het iewers in my kop gaan nesskop, ondanks die aantrekkingskrag wat Amerika op die oomblik vir my het.

Kuti het nie eens die beter tweede gedeelte van Kennedy se aanhaling vir my vertel nie, en toe loop ek tromp-op vas in die uitgegraveerde woorde van die gewilde Amerikaanse president by sy graf. “Fellow citizens of the world, it’s not what America can do for you, but what together we can do for the freedom of man.”

Met die konflik tussen my African ubuntu-gewete om iets vir my eie land te beteken, en die American dream soos ’n gawe geelwortel voor die oë, het Kennedy se woord my gewete gepla.

Vryheid. Ondanks die probleme in Suid-Afrika, het Suid-Afrika ’n enorme bydrae gelewer om by te dra tot die vryheid van die mensdom. Ons mag dit nie vergeet nie, idealisties of nie.

In die Arlington National Cemetery waar al die Amerikaanse oorlogshelde se witgepleisterde graffies lê, het ek hierdie ongelooflike uitsig gehad oor DC, die Kongres se Capitol, en al die monumente wat getuig van die geskiedenis en mag van hierdie stad.

Ek was so bewus dat ek in die hart van die wêreld staan, en reg rondom my het die geskiedenis gepraat, die geskiedenis wat ons so swaar veroordeel. Ek het aan my land gedink, en aan ons eie geskiedenis.

Uitgegraveer by ’n fontein, net duskant Kennedy se graf, merk ek sowaar die woorde South-Africa 1966 op.

My ongeloof en verwondering en trots: In die hartjie van die wêreld se hoofstad — as ek Washington DC maar so mag noem — tussen die grafte wat getuig van ’n wêreld se stryd om vryheid, ons naam, Suid-Afrika. Geen ander lande word genoem nie, net ons ou kleine landjie aan die suidpunt van Afrika. Die rede hoekom ons ons plekkie in die geskiedenis ingeneem het? It is from numberless diverse acts of courage and belief that human history is shaped. Each time a man stands up for an ideal or acts to improve the lot of others, or strikes out against injustice, he sends forth a tiny ripple of hope, and crossing each other from a million different centers of energy and daring, those ripples build a current that can sweep down the mightiest walls of oppression and resistance. South Africa 1966. Ons het ons rimpels gemaak. So, miskien kan ek maar idealisties wees.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.