Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Stemdag

Snaaks hoe skandes in ’n mens se lewe vir jou uitgesit is. Vat maar vir my. Die een oomblik is my voete nog stewig op terra firma, en toe ek my weer kom kry, lê ek pens en pootjies op die naat van my rug. Nugter alleen weet hoe ek toe-oë in dié posisie gekom het.
    Op die tweede Junie 1999 besluit al my sondes mos om my oral te agtervolg. Die oggend is ek vroegdag al by die stemlokaal. Om my kruisie langs my party se naam te gaan maak. Met my identiteitsboekie styf teen my bors vasgedruk asof iemand dit van my af gaan steel, staan ek in die lang ry vol mense en wag geduldig dat die deure moet oopgaan. Hierdie keer is die atmosfeer en die geselskap rondom my anders as in 1994. Daai tyd was almal opgewonde en praterig — van hoe lank die kruisie op die stemblad getrek moet word, tot die kosse wat elke politikus eet. Almal het iets te sê gehad. Als goed en tog so verwarrend! Verwarrend oor mens nooit sou dink dat die wit, swart en bruin velle wat so mooi saam kon praat, nog net ’n paar dae tevore mekaar wou uitmoor nie.
    Hierdie keer is dit anders. Die opgewondenheid is afwesig. Die geselsery is net onder kennisse wat mekaar lank laas gesien het. Maar daar is iets nuuts wat nie in 1994 aanwesig was nie. Nou loer almal agterdogtig na mekaar. So asof elkeen in sy binneste wonder vir wie die ander een gaan stem. Ek ken die gevoel, want ek wonder al vandat ek my lyf in die lang ry kom plant het.
    Toe die deure oopgaan, is almal in die ry stil en kyk mekaar openlik agterdogtig aan. So asof elkeen se party se naam op hul voorkoppe gelees kan word. Ek steur my nie daaraan nie, want ek sit met ’n probleem. Ek was so angstig om nie my identiteitsboekie by die huis te vergeet nie, dat ek my dik leesbril vergeet het! En omdraai en huis toe gaan, doen ek beslis nie, want ek sien nie kans om in nog ’n langer tou te kom wag nie. Blind is ek nie. Dit is net dat ek nie ’n dooie woord sonder my bril kan lees nie, en my oë raak verskriklik tam as ek iets van naby moet bekyk. Dan swem als voor my rond en kan ek niks sien nie. Maar bril of nie bril nie, is ek die lokaal in om my kruisie te gaan maak.
    My identifikasie verloop sonder haakplek, want die beampte lees my naam hardop. By die volgende tafel moet die beamptes glo met my duim peuter om seker te maak dat ek nie weer op ’n ander plek ook gaan stem nie. By die tafel gekom, is als vaag voor my. Toe daar na my hand gevra word, hou ek dit met palm na bo voor my uit. ’n Hand draai my hand om en ek draai dit weer vinnig om sodat my palm weer na bo wys. Ek vererg my ook oor die mense dink dat ek onnosel is. In 1994 moes ek mos my palm op ’n blad sit sodat ’n ultraviolet lig oor my hele hand gaan. Maar nou wil hulle die agterkant van my hand hê. Met al die heen en weer draaiery voel ek koel water oor my hele hand vloei terwyl ’n hele paar mense na asem hyg.
    “Is jy olraait, miesies?” wil iemand besorg weet. Ek knik my kop vinnig. Nooit as te nimmer sal ek ’n siel laat weet dat ek niks naby my kan sien nie!
    Die stemme gons om my. “Jirre. Ek het gehoor die goed is van rinkhalsgif gemaak. Wat as sy die ewiggeit ingaan?”
    “Los die ewiggeit! Wat as sy allergic vir die goed is?”
    “Miesies, ek’s ’n witness. Ek’t gesien hoe daai vrou die goed aspris op jou hand uitsmyt. As jy vandag dood, sue ek en jy die government kaalgat!”
    Terwyl ek wonder waarom en hoe my dooie lyf die government gaan sue, voel ek ’n sagte hand op my skouer en hoor ek die mooi stem in my oor. “Mevrou, aanvaar asseblief ons verskoning vir die ongeluk. Als sal oor ’n maand afgewas wees.” Sy druk twee bladsye in my hand en verduidelik wat ek daarmee moet doen. Sy wys my ook na die afskortings in die verste kant van die saal waar ek my kruisie moet gaan maak. Die afskortings kan ek duidelik sien en ek stap na die naaste een terwyl die mense agter my ontevrede brom oor ek als gelate aanvaar.
    My probleem raak eers ’n werklikheid toe ek die stembriewe in my hand het. Ek het dit nou al armlengte gehou; in die lig bokant my kop gehou; hiertoe en daarnatoe gehou, maar kan nie my party se naam sien nie. ’n Beampte moes my rondswaaiery seker dopgehou het, want ’n man met ’n wit lap om sy linkerarm kom vra my of hy die kruisie vir my kan maak. Ek vererg my net daar.
    “Nee dankie! Doen jou eie votery en los my uit! Môre, oormôre verloor my party oor jy my op ’n verkeerde plek laat vote het. Loop leen net vir my iemand se leesbril dan sal ek my eie stemry doen.” Ek onthou eers agterna om asseblief te sê, maar hy is alreeds weg.
    Na wat soos ’n ewigheid voel, is die beampte terug. Met drie paar brille wat hy in my hand druk. Die eerste paar is hopeloos. Ek sien vier stembriewe in my hand terwyl ek net twee vas hou. Die tweede paar laat als voor my só ver lyk, dat ek dadelik duiselig en naar voel. Die derde paar is perfek en ek maak my kruisies tevrede en met ’n diep gevoel van genoegdoening.
    Dit is mos toe ek die twee stembriewe klaar gevou het en net die bril vir die beampte wil gee, dat ek iets sien en van pure skok net daar in ’n floute inmekaar sak. Toe ek bykom, lê ek op die naat van my rug op ’n draagbaar. Ek klou nog steeds krampagtig aan my stembriewe en my identiteitsboekie vas asof my lewe daarvan afhang. Iemand is besig om die stembriewe uit my hand uit los te wikkel, maar ek klou daaraan. Ek trek my longe vol lug en skree amper die lokaal se dakke af. “Los my votes! Ek is nog nie klaar nie!”
    Die draagbaar met my daarop word tot by die houer wat al die stembriewe bevat, gedra en ek gooi my kosbare stembriewe voel-voel deur die houer se opening. Eers toe ek weet dat my votes sit waar hulle hoort, onthou ek waarom ek flou geraak het, en raak histeries. Van pure angs. “My hand! My hand!” skree ek benoud. Met my linkerhand hoog in die lug, spring ek van die draagbaar af en hardloop skree-skree die lokaal uit.
    Buite gekom, kyk almal in die ekstra lang ry verskrik na my. Maar ek steur my nie aan hulle nie. Ek is bekommerd oor my hand, en moet so gou moontlik by my huisdokter uitkom. Ek kan my nie indink wat ek sonder ’n linkerhand sal doen nie. Toe ek vroeër by die stemlokaal ingegaan het, het ek twee lewendige ligbruin hande gehad. Nou sit ek met ’n pikswart linkerhand wat lyk asof ek dit iewers per ongeluk geleen het. Skielik kom die gedagte by my op wat my nog meer histeries laat skree. Wat as daar regtig rinkhalsgif in die ink is en ek nou allergies daarvoor is?

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.