Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Die prediker

Woensdagoggend 26 Augustus 1998 is ek soos gewoonlik douvoordag op Blackheathstasie om die trein werk toe te kry. In plaas van op Bellville afklim, ry ek vandag tot in Kaapstad. Ek moet by die hospitaal langs die Waterfront kom waar my studente hul praktiese eksamen doen. Die stasie wemel van pendelaars, maar iets is anders. Die harde gepratery ontbreek. Oral staan mense in bondels saamgedrom.
    Elke groepie wat ek verbysteek, praat oor dieselfde ding:

“Het jy gehoor wat by Planet Hollywood gebeur het? Is dit nie terrible nie?”
    “Wat dink jy van die bomontploffing by Planet Hollywood? Die tiewie sê daar is drie dood en hulle weet nie of die ander gaan recover nie. Wat dink jy daarvan?”
    “Jirre, my broe, wat word van ons land? Niemand het meer respect for life nie!”
    “Het jy die lelike ding van Planet Hollywood gehoor? Almal dink dis terrible, maar vra vir my. Ek was daar! Dis waar! Die Jirre kan my doodslaan as ek lieg. Ek en my ou wou daar gaan afkoel, maar toe ons daar kom, toe wemel dit van cops en goed. En weet jy wat? Die hele building is in sy malle moer in opgeblaas! Dis net die neon-sign wat nog daar hang. Jirre! As ons net ’n klein bietjie vroeër daar gekom het, was ek nou my glory in!”
    Ek staan langs die groepie en luister hoe die vrou oordryf terwyl haar vriende swaar sugte gee. Ek sug stilletjies saam, want ek is nog te verslae en verbysterd om enigiets te begryp. Vanaf Februarie is daar om elke hoek en draai ’n bomontploffing in die Wes-Kaap en dit het my nie juis baie gepla nie. Maar hierdie keer is dit anders. Ek ken die plek, want ek was al ’n hele paar kere daar. Voorheen het ek medelye met die slagoffers gehad. Hierdie keer voel dit asof hulle my eie familie is.
    Die trein trek die stasie in, en ek wurm my met eersteklaskaartjie en al by die oorvol derdeklaskompartement in. Ek wil wees waar die geprekery en gesingery en gebiddery is terwyl sommige kliphard vloek en lag en tekere gaan. Selfs die stink sweetreuke skrik my vandag nie af nie. Ek is te verslae om met my eie gedagte in ’n eersteklasplek te sit.

2
In die kompartement is almal se gedrag ook anders as gewoonlik. Niemand skerts of lag nie. Almal luister aandagtig na die gesange en gebede. Dit lyk asof almal nes ek voel. Verslae oor wat in die land gebeur.
    Op Bellville verlaat die sanggroep ons en ’n vrou begin met ’n heserige stem in gebroke Engels te preek. Ek wonder vir die hoeveelste keer waarom my mense van ons moedertaal wegskram. Gelukkig pynig sy my ore net tot op Mutualstasie. Ons is so twintig mense in die kompartement oor en sit ver van mekaar af. Niemand praat ’n woord nie.
    Net toe ek weer aan Planet Hollywood begin dink, spring ’n middeljarige man op en haal ’n Bybel uit sy rugsak. Hy slaan die Bybel met die stukkende omslag oop, en loop eers op en af en kyk ons goed deur. Elke keer as hy ’n voet neersit, gee hy ’n harde sug, en ’n paar van ons sug saam. Ek sug om die swaar gevoel op my bors weg te kry. Ek sug nog so, toe begin die man te preek, en sy klipharde stem laat my amper van die klipharde geel plastiekbank afval.
    “J-a-a, my broers en susters! Die koms van die Here is naby! Glory! Laasnag se ding by Planet Hollywood is maar net die begin. Die Woord sê daar kom erger dae. Amen! Kom ek lees vir julle wat die Skrif ...”
    Hy wil nog sy vinger op die vers sit, toe die trein met ’n rukbeweging tot stilstand kom, en hy maak dit net betyds tot by die naaste sitplek. By die venster uitgekyk, sien ek dat ons tussen Woodstock en Kaapstad staan. Dat die trein tussen stasies staan, pla my nie. Dit gebeur alte dikwels. Maar toe ons na ’n halfuur nog steeds net daar staan, begin ek bekommerd te raak. Die studente het my al agtuur by die hospitaal verwag, en dis reeds tien oor agt!
    Intussen het die prediker weer begin te sug en te preek. En na elke sug soek sy vingers ’n vers in die Bybel op. Ons almal luister aandagtig en ek wonder wanneer sy nekare van al die skree-praat gaan bars. Hy is net mooi op dreef, toe een van die mans vir sy maat sê: “Hey broe, check daai score!”

3
Ons almal se koppe hang soos nat lappe by die vensters uit. Die prediker s’n ook. En toe gewaar ek hulle langs die voorkant van die trein: ’n swerm polisie-offisiere en honde! Wat gebukkend langs die treinspoor af soek.
    Ek sal nooit weet wie gepraat het nie. Al wat ek hoor, is: “Daar’s ’n bom op die spoorlyn!”
    Sonder dat ons wis wat ons regtig doen, skuif ons almal styf teen mekaar en vat hande. Dit maak nie saak dat ons mekaar nie ken of mekaar miskien nooit weer sal sien nie. Ons klou van pure banggeit aan mekaar se hande vas. Eers toe die prediker weer aan die woord is, besef ek dat al die mans by ons bly sit het en nie uit die trein gespring het nie. Ek probeer om my aandag te vestig op dit wat hy preek, maar dis moeilik. My kind bly maal deur my kop en die gedagte dat ek nie gereed is om deur ’n bom fyn en flenters die ewigheid ingestuur te word nie.
    Maar toe sê die prediker iets wat almal verskrik na hom laat kyk. Veral die mans.
    “J-a-a, broers en susters. Hier staan dit geskryf.” Sy vinger druk op elke woord wat hy lees: “Wie ore het om te hoor, laat hom luister! Glory! On the last days silicon chips will be planted on your hand and on your fore-skin! Amen!”
    Hy druk amper ’n gat in sy voorkop toe hy “fore-skin” uitbulder.
    “And that, broers en susters, will be the only time that you will be able to buy something!”
    Ek luister al lank nie meer nie. My verstand het by “fore-skin” gaan stilstaan. Liewe vader! Ek sal nou nie sê dat ek die Bybel van voor na agter ken nie, maar ek sweer my Bybel bevat nie daai vers nie.
    Ek sou normaalweg nooit in ’n lagbui uitbars nie. Regtig. Ek het al deur snaakse preke gesit en nog nooit gelag nie. Maar hierdie keer kan ek dit net nie verhelp nie. Ek meen, ons hou nog almal mekaar se hande so vas, toe slaan die prediker se woorde ons voor die kop. En toe ek weer kyk, knyp die man aan my linkerkant sy bene styf teen mekaar, ruk sy hand uit myne en klou sy skoot vas asof hy die hele Namib se diamante daar bewaar. Jy kan sweer hulle staan reg met die silicon chip!
    My gelag laat die ander klomp na my kant toe loer, en toe hulle die man se aksies sien, skater hulle ook van die lag.
    “Satanskinders!” bestraf die prediker ons.
    Ek steur my nie aan hom nie. Die ander ook nie. Ons lag dat die trane rol.

4
En so tussen die geskater deur besef ek dat ek nie meer vir die man langs my lag nie. Ek lag van verligting omdat ek binne nie meer so swaar en bedruk voel nie. Toe die trein uiteindelik na ’n uur se vertraging by Kaapstadstasie intrek en ons almal ongedeerd op die perron afspring, sak ons op die prediker toe en skud sy hand.
    Toe my beurt kom, loer ek na die oop Bybel in sy linkerhand en vergeet net daar wat ek wou doen. Die man het vir meer as ’n uur teksverse aan ons voorgelees uit ’n onderstebo Bybel! Ag, dag ek, miskien het hy dit net omgedraai toe hy ons moet groet. Maar my nuuskierigheid kry tog die oorhand.
    “Broer,” sê ek ewe sedig, “daai vers met die silicon en goeters. Dit raak waar niemand dit wil hê nie. Lees hom net nog ’n slag, asseblief.”
    Die paar mans wat agter my hul beurt staan en afwag, begin te proes. Die prediker lyk in sy skik oor die versoek.
    Net voor hy begin lees, draai ek gou die Bybel reg. Hy gee ’n breë glimlag, blaai so ’n paar keer rond, en kry dan die plek en lees die presiese woorde van vroeër: “Wie ore het om te hoor, laat hom luister! Glory! On the last days silicon chips will be planted on your hand and on your fore-skin! Amen!”
    Ek staan styf teen hom en my oë volg sy vinger oor die verse en lees die woorde stil vir myself. Ek lees nie wat hy lees nie! Hy lees van die voorhuid en ek lees Psalm 25:2: “My God, op U vertrou ek ...”
    Toe weet ek verseker: Onse prediker kan nie ’n dooie woord lees nie! Hy weet nie eens wanneer ’n boek onderstebo is nie! Maar met sy silicon chips en fore-skin en al het hy ons onwetend gehelp om die Planet Hollywood-gebeure en die amper-treinbom in die oog te kyk en die onveilige wêreld met moed in te gaan.
    Ek bly beskaamd doodstil staan tot hy tussen die menigte op die stasie verdwyn het. Wat ’n prediker!

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.