Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Hêppie Millennium!

“Ma! Klim maar iet! Mr Why To Kay het ons misgekyk!” skree Saartjie met verligting toe sy op die tweede Januarie haar oë oopmaak en haar broer se stem in die voorkamer hoor. Maar sy skree ook eers nadat sy haarself ’n paar keer geknyp het om seker te maak dat sy regtig nog lewe.

Met ’n tevrede sug wil sy haar doodsklere uittrek toe haar broer benoud na haar roep. “Aai, Ouboet,” brom sy terwyl sy haar na die voorkamer haas. “Kon jy nie maar net ’n rukkie langer weg gebly het nie? Die huis was so lekker stil sonder jou.”

Sy is reg. Die huis was vir twee dae grafstil terwyl daar in die buurt jolyt gehou was om die nuwe jaar te vier. Saartjie en ouma Doorie het niks gevier nie. Hulle het op die einde van die wêreld gewag. Sonder Ouboet. Hy is al ’n dag voor Oujaarsdag weg om die millennium met sy vriende in te sien. Hulle is gewoond aan sy uithuisigheid.

Maar die huis was nie altyd so stil nie. Dit was net so vrolik en raserig soos enige ander huis in die buurt. Tot hier laat in November verlede jaar.Toe die hele buurt al klaar hul Kersfeeskosse en Nuwejaarsdranke mooi beplan het. Ouma Doorie en haar volwasse kinders het net so hard beplan.Tot daai dag toe. En toe neuk als in die huis volgens Ouboet skeef. En dit nogal op ’n Sondagagtermiddag. Oor sy ma vergeet het om haar hearing-aids reg in haar ore te druk toe sy die televisieprogram dopgehou het. Sy’t skaars na die program gekyk, of hy moes haar suikerwater inja en Saartjie moes met die versterkdruppels regstaan.

“Het djulle gesien?” het sy ma soos gewoonlik geskree asof almal saam met haar doof is. “Die boks sê lat almal op Oujaarsnag gaan dood! Hulle het nou net gewys hoe ’n Mr Why-dinges sommer netso,” sy klap haar rumatiekvingers om hulle te wys hoe vinnig die man is, “die djulle wêreld op een slag gaan vat! Saartjie! Nog versterkdruppels, my tjint. Gooi sommer ’n paar wonderkroondruppels ôk by. Ouboet, djy sal djou moet bekeer.Voor Oujaarsdag. Djy sal moet ophou om daai wynbottels te loop en sus!”

Ouboet is sommer net daar omgekrap. “Dis my eie geld, Ma! En dis nie Mr Why-dinges nie. Dis die Y2K bug, en ek’s al siek en sat van die ding gehoor. Die grootkoppe wil net geld met dit maak.”

Saartjie, wat al van kleintyd af vir haar broer wil wys dat sy ouer as hy is en daarom alwetend is, maak haar mond oop. “Die boks is reg, Ma. Daai Y2K-ding sit al vir die hele jaar op al die plekke. Die hele wêreld sal mos nie staan en lieg nie. Maar ons hoef ook net na die wêreld te kyk om te weet dat die einde naby is. Kyk maar wat het in Mannenberg gebeur. Kyk maar hoe verspoel al die plekke in die wêreld. En moenie al die aardbewings en vure vergeet nie. Die einde is naby. Maar, Jirre, dis darem nie lekker om te weet waneer jy gaan doodgaan nie. Is Ma seker dat Ma als reg na geluister het?”

Broer en suster se stemme is kliphard vlak by hul ma se regteroor.

Ouma Doorie kyk haar kind verontwaardig aan. “Moetie op my skree nie! Ek is nie doof nie. Of course het ek reg gehoor wat die mense sê!”

Ouboet maak ’n onbeskofte snorkgeluid en stap die voorkamer uit. Saartjie se oë is groot en sy gaan sit langs haar ma op die rusbank en hou haar ken vas. “En nou, Ma?” vra sy met ’n bekommerde stem. Sy, wat al die jare die besluite gemaak het en na haar ma en haar broer se welstand omgesien het vandat haar oorle’ man haar kinderloos gelos het, sit nou stom in die aangesig van die onbekende probleem.

“Nee, tjint,” sug ouma Doorie, “ek weet nie. Ons sal ons maar vir die einde moet reghou. Maar sit die wireless ôk aan solat ons maar na als kan luister.”

Ma en dogter het van daai dag af na elke nuusberig oor die draadloos geluister en elke program wat met Y2K te doen gehad het, op televisie dopgehou.Tot Ouboet se groot verergenis. Sy geliefkoosde sportprogramme was daarmee heen. Sy ma en suster se optrede het hom nog meer die joos in gemaak. Elke keer as daar oor die Y2K-ding gegis is, moes hy hulle winkels toe ry. Hy’t die twee vrouens nog nooit so bedrywig in sy lewe gesien nie. Sy ma het skoon vergeet dat sy op amper tagtigjarige ouderdom elke kwaal onder die son gehad het. Toe die splinternuwe doodskis op die middag van 29 Desember by hulle huis afgelewer word, was als vir hom net te veel. Hy’t ’n paar stukkies klere gepak en hom uit die voete gemaak. Sy ma en suster was te besig om hom te vra waarheen hy op pad was, en dit het hom ook net mooi gepas.

Op Oujaarsdag het ouma Doorie en Saartjie al die bekendes in die buurt gaan groet, en vir oulaas kerk toe gegaan en Nagmaal gaan vat. By die huis gekom, het hulle die deure en die vensters toegemaak, geëet en gebad en mekaar huilend gegroet. Saartjie het haar doodsklere snikkend uit die onderste laai van haar hangkas gehaal en dit aangetrek. Daarna het sy uitgestrek op haar bed gaan lê en haar hande op haar bors gevou. En op Mr Y2K se koms gewag. Ouma Doorie het haar pers kostuum met bypassende hoed en skoene aangetrek. Sy’t dit nog net een keer aangehad. Die dag toe sy haar oorle’ man tot ruste gelê het. Nadat sy seker gemaak het dat Saartjie al haar instruksies uitgevoer het en ook al die spieëls in die huis toegemaak het, het sy ook koers gekry.

“Goodbye, Saartjie!” het ouma Doorie vanaf haar gedeelte in die huis geskree.

“Bye, Ma!” het Saartjie geskree en die wit lapkappie op haar kop reggetrek. Later het ouma Doorie se snorke die geraas van die buurt uitgesluit. Vir Saartjie was dit ’n bekende, gerusstellende geluid, en sy het haar oë met ’n tevrede sug toegemaak.

“Ma! Saartjie! Hêppie New Year! Hêppie millennium!” skree Ouboet toe hy die deur slingerend oopstoot.

Hy skrik homself amper nugter toe hy in die voorkamer rondkyk en sy ma se kop by die doodskis sien uitsteek. En toe gil hy. “Jirre, Ma! Was dit nou norag! Saartjie!”

Hy slaan amper om toe sy ma haar oë oopmaak en haar kop lig en rondkyk. “Die djimil lyk dan nes my huis!” sê sy ongelowig. Tóé eers raak sy van ’n bleek man langs haar bewus, en sy gaan benoud aan die skree. “Saartjie! Help! Mr Why To Kay is hier en hy lyk amper nes ons Ouboet!” Van pure vrees knyp sy haar oë styf toe en haar kop val na ’n rukkie slap agteroor.

Toe broer en suster later met behulp van die groot vrouens van die buurt vir ouma Doorie uit die kis haal om haar vir die laaste keer te was, sien hulle dat die bodem van die kis onnatuurlik hoog is. Ouboet het later snikkend al die geld, blikkies kos, kerse en bottels water uit die kis gehaal waarop sy ma twee dae lank gelê het.

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.