Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Ons hoort hier!

Tuinwerk is verfrissend. Ek kan my hartsgeheime na willekeur aan my blomme en struike uitblaker. Sonder vrees dat iemand daarvan te hore sal kom. My frustrasies kan ek op die onkruid uithaal en my verbeel dat ek al die ongewenste onkruid op twee bene in die samelewing uitroei. As my hand so ’n klomp grond vasvat, is dit ’n nek wat ek met my kaal hande wurg. Daardie nek wat die oorsaak is dat al wat huis in die omtrek is, met hoë mure en dik staaldiefwering spog. Die gevaar word van buite af verwag. Niemand dink aan ’n gefrustreerde geliefde wat sy gesin agter daai hoge mure met ’n vuurwapen dreig nie.
    Hier in my spogtuin met die blomme en grasperk en struike wat tot teenaan die sypaadjie staan, voel ek veilig. My groot waghond met sy lang slagtande duld nie nonsens nie. Hy sal eers ordentlik byt en dan blaf. En in hierdie onveilige tye verkies ek hom so.
    “Môre, Mêrem!”
    Die stem is vlak agter my. Van pure skrik val ek amper bo-op die aster waar ek op my knieë staan en onkruid uittrek. Ek het die vrou nie eens gehoor of sien kom nie. Ek betrag haar van die voete af. Sy’s kaalvoet. Die gebleikte geel lang rok se skewe soom wys so plek-plek vuil voete met lang toonnaels. Die son sê tieng so warm is dit, maar sy is tot die nek toe toegeknoop. Dis net haar verrimpelde hande met die stukkende naels wat by die moue uitsteek. Die wit kopdoek is styf onder die ken gebind en wapper by haar rug af. Ja-nee wat, die Ethiopieërs het ’n bewonderaar gekry. Maar hulle loop nie kaalvoet nie. Hulle dra manskouse en oop sandale wat hulle so sleep-sleep mee loop. Die geel, plat, breë gesig lyk onskuldig. Ek wonder hoeveel brood ek nog het om van haar ontslae te raak.
    “Mêrem! Die rose is so pragtig!”
    Ek wonder van wanneer af asters en madeliefies soos rose lyk. Terwyl sy praat, sukkel ek op en vryf die jigkrampe uit my knieë uit.
    “Toe ek sien hoe lekker Mêrem met die rose praat, toe sê ek vir my ou en tjinners: daai lieflike vrou gaan ons help! Net so sê ek toe! Dis mos net ’n vrou van die Jirre wat so lekker met plante kan gesels.”
    Ek vermoed dat sy kos wil hê, en ek wag dat sy moet vra. Maar iets pla. Wagter is stil en hy blaf gewoonlik die wêreld doof sodra iemand hulle voete op die erf sit. Ek loer ongemerk na die oop voordeur toe en kan net daar die stuipe van viesgeit kry. Hy lê vas aan die slaap op die stoep!
    Daar is niks om te vrees nie. “Ek is besig. Wat wil jy hê? Ek het nie werk vir jou ...”
    “Kiewiet! Bring daai tjinners! My mêrem gaan vir ons iets gee om te eet. Ek sê jou mos al lankal ek ken to-do mense.”
    Wanneer het ons kennis gemaak? Ek draai stadig om en toe die man en drie kinders om die hoek van my buurman se hoë muur aangestap kom, kan ek net daar omkap. Hy is nie ’n gewone bedelaar nie. Hy is ’n koerant op twee bene! Die tatoeëergoed lyk eintlik lewendig op sy ligbruin gesig.
    Nou die aand het die polisie mense, veral bejaardes soos ek, gewaarsku om nie alleen buite rond te drentel nie. Maar hy sal my seker nie voor sy snotneuskinders aanrand nie. Ek gee ’n tree na die voordeur toe en roep met ’n benoude stem. “Karneels! Hier is mense wat jou wil sien! Wagter se ore lig en val weer slap teen sy kieste net toe ek dag dat hy gaan opspring.”
    Die man is by ons. Met ’n breë glimlag dat die blou tandvleis van sy haasmond eintlik son kry. “Aau, check vir ouma! Karneels nogal. Ek het die plek al die hele week uitgecheck en weet dat Mams alleen bly. Maar moetie worrie nie. Ek soek net ’n bietjie daait vir die kinners. Mams het mos kos, of wat praat ek nou als?”
    My maag gee ’n draai en my blaas loop vol. Ek kyk hoopvol na die staalhekke van my bure, maar daar is niemand in sig nie. Die vrou gaan sit met uitgestrekte bene op die gras onder die boom en roep die kinders nader. “En, Babsie, hoe op om jou snot soos ’n uitgeteerde kameelperd te vreet! Kiewiet, trek solank die onkruid uit solat Mêrem vir ons ietsie kan gee.”
    Kiewiet gaan kniel by die blomme en spring aan die werk. Ek vlieg die huis in, maar Wagter spring my amper onderstebo soos hy eerste binne wil kom. My voordeur het ek nog nooit so hard agter my toegeklap nie. En toe begin die bewerasies dat my plastiekvalstande amper middeldeur breek. Ek nodig suikerwater vir my hart.
    My hande ritteltit so, dat ek eers met die vyfde probeerslag by die polisie uitkom. En toe gaan pak ek brood en kaas in ’n plastieksak vir die kinders. Hulle het nie hul ouers gekies nie.
    Dis toe ek die sak toemaak dat die herrie buite losbars. Ek vlieg na die venster toe om beter te kan afloer wat gebeur. Dis ’n bakleiery tot bo-oor my struike en blomme. Als oor wyn.
    “Ek het nog net een dop van die hele kan gehad en nou’s dit leeg! Ek het sommer lus en bliksem jou!” Sy mond het lus, maar sy hande en voete bliksem alreeds.
    Die vrou skree en vloek dat dit ’n aardigheid is. “Sit net weer jou donnerse pote aan my, dan sal ek jou ’n ding wys! Mêrem, help! Toe, slat nog! My geld is ook in daai vyfliter in. Mêrem, help!”
    Mêrem klou haar bors van pure vrees. Die man skop en slaan die vrou terwyl die kinders alles belangstellend dophou. Die oudste een, wat so na agt jaar lyk, hou die leë wynkan voor haar mond en lek der laaste druppeltjie op wat nog uittap. My ore gons van die ongewone geraas. Buite is dit erg. Maar in die huis is dit nog erger soos Wagter onder die bed lê en blaf.
    Die polisiewa daag op toe hulle al my blomme stukkend baklei het. Toe die een offisier aan die man pluk, toe pluk die vrou aan hom.
    “Los my man uit en gaan soek werk vir julle hanne. Daar’s ’n klomp moorde wat aangaan terwyl julle hier rondneuk.”
    Waar ek in die huis agter die kantgordyn staan, vererg ek my vir die beampte se mooi maniere. “Mevrou, julle is op private eiendom en julle kan nie hier kom staan en raas en baklei nie.”
    Kiewiet ruk hom uit die offisier se hande los en kom staan vlak onder my venster. Ek wonder of hy my vrees kan ruik en die harde slae van my hart hoor.
    Hy skree-praat eers toe hy onder my venster staan. “Watse privaat eiendom! Daai dae is verby. Dis ’n nuwe Suid-Afrika en ek kan wees waar ek wil. Ek hoort hier!”
    Die vrou se doek is skoon van haar kop af baklei. Die gevlegte hare lyk of dit nooit ’n kam gesien het nie. Sy beaam als wat haar man sê. “Ja, sê hulle ’n bietjie, Kiewiet. Ons het gaan vote en dié plek hoort aan ons. As dit ’n private plek gewees het, sou daar mure om was! Los ons uit want ons pla niemand nie.”
    Toe die offisier hulle met mening gryp, spring die kinders rats op en gaan klim in die vangwa asof dit ’n ou gewoonte is. Die leë wynkan lyk soos ’n monster op my kort geknipte groen gras. My struike en blomme lyk nog meer onooglik.
    Wagter vlieg eers onder die bed uit toe die vangwa met ons kruis weg is. Ek staan en vererg my só vir sy gegrom, dat ek lus voel om hom die huis te belet. Maar ek nodig hom vir geselskap, want aan blomme en goed sit ek nie weer ’n vinger tot ek die hoogste muur onder die son het nie. Ek wens hy stik homself lewendig aan die brood en kaas wat ek vir die kinders wou gee.

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.