Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Attitude

“Veels geluk met die kleintjint! Wannir kom hulle huis toe solat ons die pis kan drink?” vra buurman Jappie opgewonde toe ek na nog ’n besoek aan my kind en kleinkind wat in ’n privaat hospitaal lê, by die huis kom.

Sonder om hom te antwoord sluit ek die deur oop, en plak my lyf in die naaste stoel neer.

Hy’s kort op my hakke en gaan sit oorkant my. “En nou?” vra hy verbaas maar besorg. “Vir wat is jou oge so dik en rooi getjank? Is daar iets met die tjinners vertjeert?”

Ek maak my mond eers na ’n klomp sugte en ’n lang stilte oop. “Nee, Jappie. Daar’s niks met my kleinkind verkeerd nie. Hulle kom môre huis toe. Sy’s die pragtigste baba wat daar ooit was. Dis my hart wat pla. Dit bloei. Ek het die hele pad huis toe gesit en dink en tot ’n besluit gekom. Net môre gaan gee ek my bedanking in. Dié ekke wil niks meer met verpleging te doen hê nie. “ My bors vibreer soos ek met elke woord van die laaste sin daarop klap om hom te wys hoe ernstig ek is.

“Nou is daar dan iets met jou meisietjint vertjeert?” vra hy ongeduldig.

“Liggaamlik is sy heeltemal goed. In daai vyfsterhospitaal wat daar in Stellenbosch is en wat nes ’n hotel lyk, is dit ’n wonder dat sy nog nie dronk is van die pragtige natuurskoon van daai wêreld en die druiweplase nie. Maar sy bly seker nugter oor dokter Bouwer elke slag sy kop by haar deur gaan indruk.”

My gedagte dwaal en ek dink aan die dag toe ek by mense gaan kuier het. Arm maar gasvrye mense wat hul laaste bietjie vir jou op die tafel sal sit. Vir middagete het ons elk ’n bord vol pap druiwe gehad. Hulle het weggeval en tot op die druiwepitte fyn gekou en gesluk. Met my het dit maar stadig gegaan. Ek was te skaam om vir die huisvrou te sê dat daar iets met die druiwe verkeerd was. Teen die tyd dat my bord leeg was, was ek al van pure dronkgeit aan die hik. Niemand het my gesê dat die man by ’n plek werk waar hulle mampoer maak nie.

“Magriet! Wat het jou werk met daai hospitaal uit te waai? En wat praat jy van notice sjee? Jy het dan al ’n klompie jare t’rug al ’n goue watch vir long service gekry. Hoe kan jy dit sommer netso los?” vra Jappie met ’n diep frons wat sy grys winkbroue opmekaartrek.

“Jappie,” sê ek sugtend. “Ek het vandag klaar besluit. Ek gaan bedank. Maar ek gaan dit verlang. Tot vier dae gelede, net nadat my kind geboorte gegee het, was verpleging vir my als. Ek het daarin grootgeword en daarin oud geword. Maar tot hier toe en nie verder nie. Ek gaan dit verlang. Deur al die swaarkry en harde werk was daar altyd iets om oor te lag ...”

Ek dink aan die ou dae toe ek nog as saalsuster in ’n chirurgiese saal werksaam was. Daai dae toe die pasiënte net-net begin besef het dat hulle uit hospitaaldagvaardings sit-sit ryk kan raak. Ek was besig om al my pasiënte se rekords na te gaan, en het later van pure moedeloosheid al die verpleegpersoneel bymekaargeroep. “Mense,” het ek ontsteld gesê toe almal om my staan, “ons maak mos ons inskrywings in Afrikaans en in Engels. Ek vra groot asseblief dat ons wat Afrikaanssprekend is, liefs ons inskrywings in ons taal moet doen. As dié kaarte in ’n hof moet beland, dood almal van die lag. Hier’s maar net een voorbeeld: in Engels is ’n inspuiting ’n ‘injection’, en nie ’n ‘injunction’ nie.”

Almal het verstaan, of so het ek gedink.’n Paar dae daarna is ons almal weer tydens indiensopleiding saam, en moet ’n verpleegkundige vir ons wys hoe om resussitasie op ’n pop te doen. Die pop lê reg en ons almal wag vir die verpleegkundige om te begin. Maar sy gee elke slag ’n tree na die pop toe en spring dan weer ’n tree terug om met hande op die heupe en skuins kop na die pop te kyk. Later kon ek dit nie meer hou nie, en vergeet skoon waar ek is. “Dierbare, nurse!” sê ek toe kliphard. “Was dit ’n mens wat daar gelê het, was hy lankal deur die Pearly Gates en anderkant uit en klaar met die weegskaal! Dóén die demonstration! Moenie net sakkie-sakkie sonder music staan en dans nie.”

Die arme kind het my verskrik aangekyk terwyl haar kollegas stilletjies aan die proes was. “Dja, suster.” En sy trek weg met ’n praat sonder om een keer aan die pop te raak. Spring toe nog steeds vorentoe en agtertoe. “Sien, suster. As ek sien die man kap om, dan hol ek na hom toe. As ek by hom kom, dan staan ek ’n bietsjie agtetoe en check sy breathing. Hu-aa, niks. Dan staan ek ’n bietsjie voerentoe en voel sy pols. Nay, oek niks. Ek check sy oë. Djarre! Die pupils is delighted! Ek roep vir hulp.”

Nugter alleen weet wat sy verder gesê het, want niemand het meer geluister nie. Die trane het gerol en almal was kruipend. Van lag. Maar van daai dag af was gesimuleerde of werklike resussitasie vir my nog nooit weer dieselfde nie.

“... hè, Magriet?” Ek was so ingedagte dat ek niks wat Jappie gesê het, na geluister het nie. “Ek het gevra waarvan jy gaan lewe as jy jou werk gaan los.”

“Ek weet nog nie. Sal seker maar maak soos van my mense maak, en my kleinkind vat en op Bellvillestasie en Kaapstasie met haar op die arm gaan staan en bedel. En ek gaan haar nes daai mense ook lekker knyp sodat sy kan huil as niemand vir my geld wil gee nie. Jirre, Jappie, dis ’n grap!” moet ek vinnig byvoeg toe my vriend na asem begin hyg.

Hy’s sommer net daar vies. “Dis ’n vieslike joke! Ek weet nie hoe die Welfare daai mense kan los om hulle kleingoed so te mishandel nie! Ek sweer daai mannetjie wat op Bellville staan, vat anner mense se tjinners, want hy staan elke slag met ’n anner tjint in sy arms. Wat was die geneukery by die hospitaal?” verander hy die onderwerp.

My sugte is weer terug. “Dis daai Hepatitis-B van my kind wat die probleem is. Sodra sy weet dat sy ’n inspuiting of ’n ding gaan kry, vertel sy mos vir almal dat sy dit het. Net sodat almal versigtig kan wees. Jy weet, toe sy in die kraamsaal en later in die teater was, het ek gedag dat almal snaaks teenoor haar gaan wees soos dit al in die verlede by ’n ander privaat hospitaal die geval was. Maar niemand was nie. Die verpleegkundiges en dokters het haar nes ons dokter Bouwer en dokter Van der Merwe doodnormaal behandel. Maar toe sy in die post-natalsaal kom,was dit ’n ander storie ... Jy weet self hoe daai dokter Bouwer en dokter Van der Merwe haar geleer het om met die ding saam te leef. Jy weet self hoe sy nou beter as enigiemand weet hoe die hepatitis versprei word, en watter kosse en pille sy moet vermy. Ek, wat my kind al die jare self grootgemaak het, makeer niks. Jy self eet al vir jare uit haar hand uit en makeer niks. Sy het jou versorg toe jy verlede jaar so siek was. Jappie, in daai post-natalsaal is dit asof my kind en kleinkind melaats is. Nes haar toesighouer haar by haar laaste werk behandel het, en sy maar liefs daar weg is. En dit als oor haar tandstopsel al daai jare gelede in die stad by ’n eetplek uitgeval het, en sy van pyn by die eerste tandarts se deure in is om gehelp te word ...

“Jappie, my hart bloei oor my kind en my kleinkind. En dis nie oor ek ’n nurse is dat ek so voel nie. Dis oor ek ’n ma is. Jy weet, dis nie daai groen jasse wat by haar kamerdeur hang, wat pla nie. Ook nie die bak ontsmettingsmiddel waarop groot “Infektief: Ontsmet Asseblief” geskryf staan nie. Ook nie die feit dat sy, volgens ’n suster, in ’n kamer lê wat net vir aansteeklike siektes gebruik word nie. Dis ook nie dat my kleinkind al Maandagmiddag kwart-oor-ses gebore is en al die bloed en vetterigheid eers Dinsdagoggend van haar lyfie afgewas is nie. Dis ook nie dat my kind ’n kombersie geweier was omdat die werker bang was om aangesteek te word as sy dit sou aangee nie. Dis ook nie oor ’n verpleegkundige ’n groen jas en handskoene aangetrek het net om op ’n afstand na my kleinkind te loer waar sy in ’n wiegie langs haar ma se bed gelê het nie. Dis ook nie oor my bruin kind en bruin kleinkind vir amper die heel tyd in daai saal deur bruin verpleegkundiges verpleeg word nie. Jappie, vandag het ek besef wat al die AIDS- en HIV-mense al vir jare oor kla. Almal van hulle sê altyd: Dis nie die treatment wat my onderkry nie. Dis die attitude van mense. Vandag weet ek wat hulle bedoel en stem volkome saam. Dis net verskriklik jammer dat so min verpleegkundiges enigiets van Hepatitis-B weet.”

Jappie is hoogs ontsteld. “Maar, Magriet, jou bek staan dan altyd reg om oor ’n vertjeerde ding te praat! Het jy dan niks aan die saak gedoen nie?”

Net daar begin ek snot en trane te huil. “Jappie,” sê ek tussen snikke. “Ek het met die suster wat in die kraamsaal na my kind gekyk het, gepraat. God sy dank dat sy darem om elke hoek en draai by my kind gaan inloer. Ek het met haar gepraat, maar kon haar nie als sê nie. Die seer was te groot. Want hoe kon ek vir daai witvrou sê dat dit net my eie mense is wat my kind en kleinkind so sleg behandel? Jappie, en als oor ’n attitude!

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.