Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

A Tribute vir Johannes Kerkorrel

Chutney de Ridder

Dinsdag laatmiddag verlede week lui die telefoon net toe my gunstelingsnit op Two Wheels Good, ’n langspeelplaat van die Britse groep Prefab Sprout, sy hoogtepunt bereik. Die liedjie se naam is “Goodbye Lucille #1” maar mettertyd het die aangrypende lirieke bly vassteek en het die treffer in die volksmond as “Johnny, Johnny” bekend begin staan.

So sing Paddy MacAloon: “Ooh Johnny, Johnny, Johnny, there is time for tears/Ooh Johnny, Johnny, Johnny you won’t make it any better/Ooh Johnny, Johnny, Johnny you might well make it worse ...”

En die koor: “... life’s not complete, till your heart’s missed a beat, and you’ll never make it up, or turn back the clock ... no you won’t ...”

Dis hier waar die telefoon begin lui het.

Ek het hom nie geken nie. Wel ontmoet ja, ’n paar keer, om onderhoude met hom te voer, om sommer te chat oor die gifpenne op LitNet, en een keer om my kant van die saak te stel na hy in ’n woedebui my per e-pos uitgekryt het oor ’n resensie wat ek oor een van sy onlangse CD’s geskryf het. Ons het blad geskud en belowe om saam ’n bier te drink. Al was ek nie gaande oor sy musiek in die negentigs nie.

Maar ek sal nie aanspraak maak op ’n vriendskap tussen ons nie. Nog minder uitwei oor die aandagtige manier van luister as mens met hom gepraat het, of oor sy afgemete, amper dromerige stem as hy vrae beantwoord het.

Die lofbetuigings stroom in van heinde en verre. Almal wat al skouers geskuur het met hom, poets nou sy beeld en stof ou herinneringe af van eerste ontmoetings en blywende indrukke.

Die stem aan die ander kant van die lyn behoort aan ’n kollega. “Ons het ’n rumour gehoor dat Johannes Kerkorrel dood is — hy het glo selfmoord gepleeg. Weet jy iets?”

Partykeer voel dit mos asof die wêreld om jou vir ’n oomblik stilstaan — “… life’s not complete, till your heart’s missed a beat ...”

Die vier kunstenaars wat ek na hierdie oproep gebel het, was onbewus van wat gebeur het. Daar was lang stiltes aan die anderkant. Dis dan soos skok en afgryse klink, het ek gedink, onwetend dat ek self later daardie aand na my plafon sou lê en staar en uiteindelik in die vroeë oggendure, met die kassetopname van “Gee jou hart vir Hillbrow” in my ore, aan die slaap sou raak.

Dit sou onregverdig wees van my om in die bestek van 560 plus woorde hulde te bring aan Ralph John Rabie. Ek wil nie. Te veel gedagtes, te veel bakens, te veel om op te noem. Te min woorde. En te laat. Helaas. ’n Koning word nooit in sy eie land geëer nie.

Ek sms my maatjie Esther in Plettenbergbaai. Ons was saam Maties in 1989 toe die Alternatiewe bom groot gebars het. Ek het daardie jaar met haar verjaarsdag vir haar ’n bottle Tas gegee, maar ek het die etiket vervang met ’n gefotostateerde foto van Johannes Kerkorrel.

“Die drywer van die regte, egte rock & roll ossewa is dood,” sms ek. “Ek het nou nog daai bottel,” laat sy weet. Ons was fans. Ons het ons Afrikaanse musiektande in daardie jaar gekry.

Die revolusie in Afrikaanse musiek het in 1989 amptelik uit die underground opgestaan. Daardie revolusie moes ’n gesig kry. Daardie gesig het behoort aan Johannes Kerkorrel. Nee. Dis verkeerd. Daardie gesig behóórt aan hom. Ek bly vir ewig dankbaar.

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.