Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Laat julle skryf...

Verskoon tog maar as ek vanoggend ’n bietjie ligte politiekery pleeg, en dit boonop op die rug van ’n artikel deur daai kwaai oom Boetman wat ek gelees het in die Februarie-uitgawe van die meningstydskrif Insig. Die artikel het my laat wonder oor protesliedjies. En vernaam die afwesigheid daarvan deesdae.

Daar is tog baie dinge wat krap en pla. Hoekom sing onse mense dan nie meer so gereeld oor juis dié dinge nie, soos wat die geval was in die jare tagtig?

Ja, ek onthou hoe ons as pikkies by die inryteater gaan kyk het hoe Lieb Bester en sy makkers in Ses Soldate die “terries” op hul herrie speel. Dit was in die dae voor TV en Pokemon en skopfietse, maats.

Terug by die huis het ons natuurlik middag na middag in die bloekombos dieselfde oorlog gevoer. Ons was die helde van ons eie Grensbasis 13, Wild Geese en soortgelyke silwerdoeksensasies.

Onskuldige kindervermaak? Op die oog af, ja. Watter euwel kan daar immers skuil in ’n klompie wit onder 12’s wat die Rooi Gevaar (lees: die Swart Gevaar) met hand en tand beveg? Ons was altyd die wenners, want “goed” moet mos seevier oor “sleg” — dis hoe ons “geleer” is. Watter euwel inderdaad?

Ek het die spoke uit die verlede opgeroep na Boetman te velde getrek het teen ’n Afrikaanse TV-kanaal se besluit om in April daardie rolprente uit te saai wat gedurende die sogenaamde “grensoorlog”, die era van die “Totale Aanslag” geskiet (verskoon tog die woordspeling) is — die genoemde Ses Soldate, al daai Boetie gaan Border Toe-rolprente, en so aan. Dis daai flieks wat ’n oorlog verromantiseer en verheerlik het waarvoor daar (binne die nuwe Suid-Afrikaanse demokrasie) geen morele basis is nie, sê Boetman.

In die kol. Maar wat het dit met musiek uit te waai?

Wel, dit het my tog herinner aan die tweespalt binne Suid-Afrikaanse musiekkringe toe ek ’n paar ou langspelers gaan opdiep waarop Bles Bridges se “Tawwie Tienies”, Marie du Toit se “Man op die Grens” en Rina Hugo se “Troepie Doepie” juis die “manne in uniform” verheerlik. Die kunstenaars en hul musiek is verafgod.

Die teenpool het natuurlik (ondergronds) bestaan. Groepe soos Wild Youth, die Gay Marines, Dog Detachment, Le Merto Troi, Safari Suits, Corporal Punishment, Kalahari Surfers, Radio Rats, Bright Blue en Jennifer Ferguson het op hul beurt die status quo bevraagteken, en die “stelsel” uitgedaag, getart en blatant beskuldig. Sulke groepe/kunstenaars is gebrandmerk, hul musiek is verban.

In die laat tagtigs sou die tweespalt bly voortbestaan: die Afrikaanse hoofstroom wat aanpiekel agter musiek en liriek aan, teenoor die “nuwe generasie” wat ’n ander tipe musiek wou maak — musiek wat gemik was op die establishment, die regering van die dag — ouens soos Johannes Kerkorrel, Bernoldus Niemand, Andre LeToit en die Genuines.

Maar ek keer terug na my aanvanklike vraag. Waar staan ons vandag? Waar is die musikante/liriekskrywers wat daardie steurende dinge bevraagteken wat om ons gebeur? Waar is die protesskrywers dan? Hulle is maar dun gesaai — veel dunner as die dik klomp probleme waarmee ons opgeskeep sit: die hoë misdaadsyfer, die sinnelose geweld, die sluimerende rassisme, die groeiende VIGS-epidemie … en vele meer.

Kunstenaars het die mag om in die taal van ’n vrydenkende generasie te praat. Die invloed wat musikante destyds gehad het op mense wat apartheid bevraagteken het, kan vandag ook trefkrag hê op mense wat wonder oor hedendaagse probleemkwessies. Laat julle skryf...

  Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JB en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.