Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ek skrik nie vir vrot pampoene nie

Ek is sommer de hoenders in vir Billie “Bittergal” Corgan en sy Vrot Pampoene! Kyk nou net so ’n houdingtjie wat die spul rocker inneem kort na hulle in gasvrye Suid-Afrika aangeland het.

Laat my opsluit terugdink aan oom Ben Bokkom van Lambertsbaai se sêding voor die see hom geneem het. “Sulke snoeke!” was die enigste kragwoord wat ooit uit sy vissermansmond gekom het as mense hom omkrap.

Die Smashing Pumpkins is mos hier ter viering van die radiostasie 5FM se 25ste verjaarsdag. Eintlik krap die “paartie” my ook om. Dis die afgelope naweek “eksklusief” vir Gautengers gehou, tensy jy die lang pad Centurion gevat het om die Pumpkins saam met die Britse supergroep James, ons eie Springbok Nude Girls, Boo! en Fetish wou sien optree.

Hoeveel 5FM luisteraars is daar nie in die Kaapprovinsie nie! En tog moes ons droëbek toekyk hoe die Gauties jol! Komaan, waar is die Kaapse stasies — pas bietjie daai begrotings aan en kry vir ons ook ’n oorsese topgroep of twee om hier te kom speel.

Ewentewel, teen ’n prys kan ons darem die Pumpkins hier in aksie sien. Wel by die nuwe Big Arena in Century City op 14 November, ter bevestiging aan die wie se kaartjies wys dat die Pampoene by die Bellville Fietsrybaan gaan optree. En ja, julle kaartjies is geldig vir die Big Arena, so hou op om die organiseerders blou te bel!

Maar ek is bitter vir Billie. Wat ’n ou pap snoek is hy nie! Ek was eens ’n groot fan maar nou het ek my bedenkinge.

Sal die klein kaalkop snuiter nou nie wraggies begin diknek raak oor wat die media mag en nie mag doen nie. Alle Suid-Afrikaanse joernaliste en fotograwe wat die groep wou afneem of met hulle ’n onderhoud wou voer moes eers ’n “vrystellingsvorm” onderteken waarin alle kopiereg (vir foto’s en berigte) aan die groep afgestaan word.

Selfs vir telefoniese onderhoude moes die vorm onderteken word. En hier’s nog ’n paar pampoengrappe: plaaslike publikasies mag slegs EEN berig / artikel na sulke onderhoude plaas. En die groep moet dit eers goedkeur. Ga! As ek kyk hoe sommige Afrikaanssprekendes sukkel met die taal, wonder ek hoe lank ou Bittergal gaan stotter.

Die Pumpkins behou ook kopiereg op alles berigte / artikel en foto’s oor / van die groep. Dit reël geld tot die wêreld vergaan, tot in alle ewigheid. In een beweging herskryf klein Bill dus reëls oor persvryheid en vryheid van spraak.

En as ’n koerant sou instem tot die belaglike reëling, het die groep die verdere reg om die berig of deel daarvan te manipuleer en te hergebruik na goeddunke!

Fotograwe loop ook deur. Alle foto’s moet deur die groep goedgekeur word (mits die fotograaf voor die tyd sy “vrystellingsvorm” onderteken het) en die foto’s wat nie gebruik word nie, moet vernietig word. Hierop kan ek maar bloot tant Soekie Laubscher aanhaal soos sy altyd gesê het: “Kyk so ’n blerrie cheek!”.

Die internetbedryf loop swaarder deur as koerante. Billie en sy boikies wil niks met die medium te doen het nie. Soveel so dat internet-joernaliste wat die groep se vertoning wil resenseer hul eie kaartjies moet koop.

En geen onderhoude, kletse (“chats”), of foto’s met / van die groep sal goedgekeur word nie. Sela!

Ek voel lus om met my Pumpkins versameling te maak soos daai malletjies wat destyds die Beatles se plate so verbrand het omdat dit “duiwels” was. Die groep spat eersdaags uitmekaar. Ek kan nie wag nie ... sulke snoeke.

  Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JB en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.