|
Kindersterre vorder van feeste tot CDsChutney de RidderKindersterre ... ja, wat n rare spesie. Dis amper so erg soos die tannies wat hul vroeëtiener-dogters opdollie vir modeparades en skoonheidskompetisies. Is ek oudmodies, agter die klip dalk? Miskien, maar mensig die idee staan my steeds nie aan nie. My ouma het altyd gesê: Vroeg ryp, vroeg vrot. En sy het nie gepraat van die Adamsvye in die agterjaart nie. n Omie keer my nou die dag voor. Jong, wanneer skryf jy n slag oor lekker jong Afrikaanse kunstenaars? Jy neuk so al met die Engelse saam, mens sou sweer jys n hedendaagse hanskakie. En dis alewig n ge-rock n roll. Wat van lekker ligte, Afrikaanse vermaak? Amper soos die Maakmysiekfabriek op Johann (Onderstebobaadjie) Stemmet se Noot vir Noot? wou ek eers vra. Maar ek ken my maniere. Ek vra toe maar ewe belangstellend wie die kunstenaars is wat hy in gedagte het. Net daar noem hy n paar name waaroor ek moes gaan oplees. My studie het die volgende ooreenkomste onthul oor ons kindersterre. Die inligting kan skokkend wees en sensitiewe lesers word gevra om dadelik na Die Burger se strokies-afdeling te blaai. Die volgende is bevind: Ons kindersterre begin op n baie vroeë ouderdom as n familielid hulle oorreed om in iets soos n restaurant of n ATKV talentkompetisie op Hartenbos te sing. (Gerugte dat restaurantgangers al betaal het om die kindersangers stil te kry kon nie met die druktyd van die rubriek bevestig word nie.) Hierna word hulle bevorder tot optredes in inkopiesentrums, vakansieoorde en tehuise vir bejaardes, voordat hoogtepunte soos die Aartappelfees, die Mampoerfees, die Vleisfees, die Kersiefees en Aardklop of die Kleinkaroo Kunstefees aanbreek. Almal het volgens hul platemaatskappye fantastiese stemme en die potensiaal om mega-sterre te word. Woorde soos geweldig gewild, skitterloopbaan en gebore kunstenaar word lustig ingespan in persverklarings en biografieë. Die musiek is of gewyd van aard, of Afrikaanse volksliedjies soos Al slaan my ma my dood en Eina Ma, eina Pa, of oorspronklike snitte wat deur bekendes soos Jurie of Patricia of Steve geskryf word. Die word dan opgedis as prettige dansnommertjies, wat eintlik maar n Afrikaanse benaming is vir daardie eentonige doef-doef van Europbeat waarmee ons in die tagtigerjare toegegooi is. En dan is daar natuurlik die namaaksels van bekende oorsese kunstenaars soos Backstreet Boys, Modern Talking en Neil Diamond, of selfs kommersiële, klassieke snitte soos O sole mio wat Pavarotti en sy vriende tot vervelens toe al singende verfomfaai. Nes ander kinders bly die kindersterre kinders wat hou van speel van rugby tot netbal tot poppe. Marlouise (12), byvoorbeeld, toer saam met haar versameling poppe en van die verhoog af speel sy graag met hulle en dan hou hulle konsert. Daar is ook ander unieke karaktertrekke wat die kindersterre onderskei Robbie Klay spog byvoorbeeld met n haarstyl wat enige leeumannetjie se brul sal steel kort bo, lank agter (of die mullet, soos hy in die spreektaal bekend staan). Suzanne (12) se dagboek bars uit sy nate soos sy konsert hou. Sy het haar eie bewonderaarsklub (dit kos R50 per jaar om aan te sluit) en sy kry 10 tot 20 aanhangersbriewe per dag. Hoe sê oom Johann nou weer: Heeeeeeey, meisiekind, nog vyftig randjies van Maksispaar vir jou! Die spannetjie kindersensasies wat veronderstel is om die Patricia Lewisse en Jurie Else van die toekoms te wees, is die saailinge van die konsertgenerasie waarmee ons opgeskeep sit. Dis ons voorland. Soos Robbie waarsku op sy nuwe CD: Ek wil net sing ... En ek het so n vieslike vermoede die klem val op NET.
|
|||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |