Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Posie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Die Here bewaar ons van nog ’n Taaldag

    Carina Diedericks

    Ek voel effens nostalgies toe ek in my lang, swart tabberd en my lief, deftig in sy donker pak, op Maandag 14 Augustus in die motor klim. Lief s dis PMS, en ek draai my rug op hom. Goed, noem my ’n sucker, maar dit voel goed, donners goed, dat ons na 125 jaar Afrikaans kan lees, skryf, praat. Meer nog, Afrikaans surf op die Net, vier dwarsdeur die jaar fees en ons trek darem al by deel XI van die WAT. En nou gaan ons na die hoogtepunt van die Taalweek: die “viering van besondere mylpale in AFRIKAANS” (so staan dit op die uitnodiging).

    Op pad na die restaurant dink ek aan die fantastiese moontlikhede wat so ’n aand inhou. Hoe vier ’n mens die mylpale van Afrikaans? Skrywers, digters en joernaliste moet daar beslis wees. Natuurlik ook akteurs, omroepers en TV-persoonlikhede. Sakelui (wat’s ’n paartie dan sonder die Wieses en Ruperts?). Natuurlik ook die jeug wat die taal in nog ’n millennium op hul skouers moet dra. Die voorheen gemarginaliseerdes wat nou hul regmatige plek inneem en kunstenaars en musikante om kleur te gee aan die aand. Die nostalgie maak plek vir opwinding. Dit gaan ’n smart opskop wees.

    Ons ry by die oprit op. Van ver af sien ons al die rye sjerrie-glase en lief sug tevrede. Ons hou stil, klim uit en stap die trappies op. Dis ’n heerlike, soel aand in die Boland. Die gaste drom in groepies saam en met ’n sjerrie-glas in die hand beweeg ons tussen die mense deur. Maar iets skort. Ek sweer ek is by ’n begrafnis. Die stemme is stil en gedemp en die mense vaal. Van die skrywers, akteurs, jong mense en kunstenaars is daar geen teken nie. Om nie eens te praat van ’n makietie nie. Dan val dit my by: ek is seker ons het by die verkeerde plek beland. Hierdie is beslis nie ’n viering van Afrikaans nie. (Dalk die Afrikanerbond en die ATKV-dames se jaarlikse saamtrek?) Nee, ons was inderdaad op die regte plek en ja, dit was die Afrikaanse Taalmuseum se “viering van besondere mylpale in AFRIKAANS”.

    Goed, my idee van ’n “viering” kan nie noodwendig beskou word as die norm nie. Daarmee maak ek vrede en gaan neem my plek by die tafel in. Ek kyk om my in die stylvolle restaurant en sien ’n see van grys koppe. Die man wat oorkant my sit, vertel vir die ander mans aan tafel van visvang op St. Lucia voor die donnerse groenes ingemeng het, en sy erfbelasting wat plakkerskampe subsidieer.

    Die manne lag lekker en die vroue knik instemmend. Die gasspreker, Gerald Morkel, staan op en kondig aan hy is ’n “Afrikaner” en werf ’n paar stemme vir die opkomende munisipale verkiesings. My wynglas bly leeg en die kos voor my onaangeraak. Die vrou agter my praat van die “feminaar” wat sy en haar huishulp-met-die-wettige-kontrak so gereeld bywoon. (Hoe prikkelend is die gesprekke van die pseudo-liberales wat tot onlangs nog vir Verwoerd en Voster gewine en gedine het!)

    Ek probeer dink aan die melktert wat na die toesprake bedien gaan word. Die laaste spreker neem sy plek in agter die mikrofoon en kondig aan dat “vanaand die toonbeeld is van wat ons in 125 jaar in Afrikaans bereik het”. Ek tuimel in ’n diepe, bloue depressie. Woedend staan ek en lief op en stap uit. (Emsie kry ’n floute.)

    Ek is jonk en seker duidelik nog naef. Ek was onder die wanindruk dat ons skrywers ons koppe oopgemaak het. Ek was onder die wanindruk dat ons musikante ons geleer het om te toyi-toyi op boeremusiek. Ek was onder die wanindruk dat die reg om Afrikaans te praat nie beperk is tot die lede van die skarlakenwit bestel wat Afrikaans amper op sy knie gedwing het nie. Ek was onder die wanindruk dat ons geleer het dat Afrikaans en politici ’n dodelike kombinasie is. Ek was onder die wanindruk dat ons in 125 jaar verder gekom as ’n groepie elitistiese, wit mans wat ’n taal vir hulself wou toe-eien (en nie eens vroue wou toelaat nie!). En met watter swier word hierdie mylpale van Afrikaans nie nou gevier nie!

    Ons, Afrikaans, die whiteys, die Oumanne en die Boetmans is ’n tweede kans gegee. ’n Kans om na 125 jaar se sukkel en protes en knoei en groeipyne die laer oop te trek, ’n moerse braaivleis te hou en dit te vier wat ons vermag het. Daag vir Lit Sls en Lina Spies uit tot ’n bekgeveg. Luister na Mimi Coertze en Koos Kombuis se duet. Geniet Jan Visser se nudes en Christo Coetzee se kleure. Maak jou o toe en voel hoe Kaaps en Namakwalands op die oor val. S dankie vir die Koos Bekkers, die Frederik van Zyl Slabberts, die Irna van Zyls, die Arrie Rossouws, die Johan Degenaars en ja, selfs die Dan Roodts en Chris Louws, wat ons op die straight and narrow probeer hou. As ons so om die vuur kan sit met alles wat was, wat ons nou het en die belofte van soveel meer, staan gerus op en kondig dan aan dat dt die toonbeeld is van wat ons in 125 jaar in Afrikaans bereik het.

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspiel nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.