Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

  • Die Taalsekretariaat
  • Doelstelling
  • Verslag oor die SAVI-Toekenning vir Voortreflike Vertaling vir 2000

    Persverklaring

    Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) het op 2 Junie 2000 by sy AJV die instelling van ’n prestigeprys vir vertaling in die amptelike landstale aangekondig — die SAVI Toekenning vir Voortreflike Vertaling. Die Instituut doen baanbrekerswerk met hierdie toekenning, waarvan die doel is om die publikasie van vertalings van oorspronklike werke in die inheemse tale aan te moedig.

    Die toekenning, wat afgewissel sal word tussen fiksie en nie-fiksie, sal jaarliks op Internasionale Vertalingsdag (algemeen bekend as die Dag van St. Hiëronimus), wat op 30 September gevier word, toegeken word. Ondanks die tydbeperkinge is besluit om die eerste toekenning — vir die vertaling van fiksie — vanjaar by die Aardklop-Kunstefees in Potchefstroom te maak. Die toekenning behels ’n merietesertifikaat en ’n stewige kontantprys (die bedrag hang af van borgskappe wat gekry word, maar sal nie minder as R10 000 wees nie). Die prys word gefinansier uit die SAVI-Ontwikkelingsfonds.

    Die taalartikel in die Grondwet is ’n aansporing vir diegene wat by taalsake gemoeid is om die gebruik van al die inheemse tale van die land te bevorder, veral dié tale wat in die verlede gemarginaliseer is. SAVI glo dat taalpraktisyns vername “taalbevorderingsmeganismes” is deurdat hulle in hierdie tale vertaal en tolk. SAVI het reeds in 1993 besluit om strategieë in werking te stel om die gebruik van die inheemse tale van Suid-Afrika daadwerklik te bevorder.

    Die doel met die SAVI-Toekenning vir Voortreflike Vertaling is om -

    1. om die vertaling en publikasie van fiksie en nie-fiksie in en/of uit die amptelike tale aan te moedig;
    2. om die gehalte van sodanige vertalings te verhoog;
    3. om veeltaligheid en veral die gebruik en ontwikkeling van die inheemse tale te bevorder;
    4. om kruiskulturele begrip aan te moedig; en
    5. om openbare bewustheid te kweek van vertalers se bydrae om die mense van Suid-Afrika te verenig.

    Die reaksie op die toekenning was baie bemoedigend, veral omdat benoemings binne ses weke na die Instituut se aankondiging teen 31 Julie afgehandel moes word. Veertien benoemings is ontvang. Ses inskrywings is ontvang vir vertalings in Afrikaans en agt vir vertalings in Engels. Die oorspronklike werke was in Nederlands, Xhosa, Venda, Zulu, Afrikaans en Engels. ’n Wye verskeidenheid genres — romans, digkuns, volksverhale en dramatekste — was verteenwoordig. Twee inskrywings is ontvang vir vertalings in Afrikaans en Engels van ’n roman in Xhosa, Ingqumbo Yeminyanya, geskryf deur mnr. AC Jordan, die bekende politikus dr. Pallo Jordan se vader. Die skrywer het self sy roman, met die hulp van sy vrou, Priscilla, in Engels vertaal, The wrath of the ancestors. Die Afrikaanse vertaling, Die toorn van die voorvaders, is deur prof. Bertie Neethling, hoogleraar in Xhosa aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Die Venda-roman, A si Ene deur ES Madima, is in Engels vertaal deur sy seun, Tenda. Nog ’n inskrywing wat kruiskulturele begrip aanmoedig, is ’n bundel inheemse volksverhale wat pas in Engels, Afrikaans en ook Nederlands deur JL van Schaik uitgegee is.

    Die volledige lys benoemings is soos volg:

    • Leon de Kock vir sy vertaling van die Afrikaanse roman, Triomf, in Engels (SA en Britse weergawes) (Triomf)
    • Daniel Hugo vir sy vertaling van die Nederlandse roman, Kartonnen dozen, in Afrikaans (Kartondose)
    • Daniel Hugo vir sy vertaling van die Nederlandse roman, De aanslag, in Afrikaans (Die aanslag)
    • Daniel Hugo vir sy vertaling in Afrikaans van Onbegonnen werk, ’n bundel Nederlandse poësie deur Herman de Coninck (Liefde, miskien)
    • SJ Neethling vir sy vertaling van die Xhosa-roman, Ingqumbo Yeminyanya, in Afrikaans (Die toorn van die voorvaders)
    • AC Jordan en P Jordan vir die vertaling van die Xhosa roman, Ingqumbo Yeminyanya, in Engels (The wrath of the ancestors)
    • Maren Bodenstein en Linda Rode vir die vertaling van ’n bundel jeugverhale, I, a living arrow, in Afrikaans (Ek, ’n lewende pyl)
    • Chris van Wyk vir sy vertaling van die Afrikaanse roman, Vatmaar, in Engels (A place called Vatmaar)
    • Rachélle Gauton vir haar vertaling van die Zulu eenbedrywe, Inkundlanye, in Engels (One-act plays)
    • Alwyn Lubbe vir sy vertaling in Afrikaans van die versameling volksverhale, Folk Tales of the Rainbow Nation (Volksverhale van die Reënboognasie)
    • Tenda Madima vir sy vertaling van die Venda roman, A si Ene, in Engels (A victim of circumstances) (twee inskrywings)
    • Catherine Knox vir haar vertalings uit Afrikaans in Engels van verskeie romans (bv. Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie, Etienne van Heerden se Casspirs en campari’s en Kikoejoe)
    • Malcolm Hacksley vir verskeie vertalings uit Afrikaans in Engels (bv. Etienne van Heerden se Toorberg, GA Jooste se Blou sweet)

    ’n Beoordelingspaneel van kundiges op die gebied van vertaling, taal en die literatuurwetenskap het die inskrywings beoordeel:

    1. Prof. Annette Combrink, voorsitter van die SA Vertalersinstituut, direkteur van die Skool vir Tale en Kunste en ook vise-dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Potchefstroom. Prof. Combrink is ’n gesoute vertaler en dosent in vertaalkunde. Sy is ook as die voorsitter van die beoordelingspaneel aangewys.
    2. Dr. Alet Kruger, ’n lid van die Bestuur van die Vertalersinstituut en ’n senior lektor in die Departement Linguistiek (Vertaalkunde) aan UNISA. Sy het pas haar doktorale studie in literêre vertaling afgehandel.
    3. Prof. NS Zulu, die hoof van die Departement Afrikatale aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n skrywer in die Sotho- en Nguni-tale. Prof. Zulu het pas die ALASA-Toekenning vir Literêre Kritiek ontvang.
    4. Dr. L Molefe, die hoof van die Departement Afrikatale aan Unisa en ook ’n skrywer in die Nguni-tale.
    5. Mnr. Ron Madiba, die hoof van die Venda-afdeling van die Department Afrikatale aan Unisa en ’n taalkenner.

    Die beoordelingspaneel het ’n kortlys van drie inskrywings aangewys waarna die wenner gekies is. Die inskrywings op die kortlys was Triomf - vertaal deur Leon de Kock, Toorn van die voorvaders - vertaal deur Bertie Neethling en A victim of circumstances - vertaal deur Tenda Madima.

    Die beoordelingspaneel het hulle keuse soos volg gemotiveer:


    Triomf
    Dié vertaling het wye belangstelling in die media uitgelok. Dit is innoverend en kreatief, en is in eie reg ’n literêre werk. Hierdie werk slaan ’n brug tussen uiters idiomatiese en omgangs-Afrikaans en ewe kleurvolle en idiomatiese Suid-Afrikaanse Engels, en is ’n triomf vir die kuns van vertaling.

    Toorn van die voorvaders
    Wat die meeste beïndruk van hierdie inskrywing is die feit dat die oorspronklike Xhosa-roman klaarblyklik sy tyd ver vooruit was ten opsigte van tema en struktuur. Benewens die feit dat die tema steeds aanklank vind by moderne Afrikaanssprekendes, slaag die vertaling oënskynlik daarin om lesers ’n interessante blik op die kultuur en leefwêreld van die Xhosa te bied — presies wat nodig is om begrip tussen swart en wit in ons land te bevorder. Die vertaling word beskou as literêre werk in eie reg en lewer ’n uitmuntende bydrae tot die bevordering van veeltaligheid en die ontwikkeling van die inheemse tale van Suid-Afrika.

    A victim of circumstances
    Die vertaler se akkurate weerspieëling van die oorspronklike toonaard van hierdie roman het ’n baie beduidende rol gespeel by die beoordeling van die vertaling. Dit is baie belangrik om die stemming van die oorspronklike kreatiewe werk oor te dra wanneer daar vertaal word, en hierdie vertaling slaag uiters goed daarin om sowel kultuur- as taalhindernisse te oorbrug. Die vertaling van ’n werk van hierdie gehalte uit ’n relatief klein taal soos Venda lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die lewe van die taalgemeenskap van die oorspronklike teks en die taalgemeenskap van die vertaalde teks.

    Die Instituut het daarin geslaag om ’n ruim borgskap van R50 000 van die Billiton-Ontwikkelingstrust te bekom, asook R3 000 van Die Taalsekretariaat, ’n nie-regeringsliggaam wat hom beywer vir die bevordering van die inheemse tale van Suid-Afrika. Die Kanselierstrustfonds van die Potchefstroomse Universiteit het ’n prys van R3 500 aangebied vir ’n vertaling waarby Afrikaans betrokke was.

    Die bekroningsplegtigheid is op 30 September, Internasionale Vertalingsdag, in Potchefstroom gehou. Nagenoeg 50 gaste uit die vertaal- en taalwêreld het die geleentheid bygewoon.

    Leon de Kock is as die gelukkige wenner van die R25 000-prys aangewys vir sy hoogaangeskrewe vertaling in Engels van Marlene van Niekerk se Afrikaanse roman, Triomf.

    Die beoordelaars was egter van mening dat die standaard van nog ’n vertaling op die kortlys van so ’n aard was dat ’n spesiale aanbevelingsprys daarvoor toegeken is. ’n Prys van R15 000 is daarom oorhandig aan Tenda Madima vir sy vertaling in Engels van die Venda-roman, A si Ene, wat deur sy vader, ES Madima, geskryf is.

    Die Kanselierstrustfondsprys wat deur die Potchefstroomse Universiteit geborg is, is toegeken aan Bertie Neethling vir sy Afrikaanse vertaling van die Xhosa-roman, Ingqumbo Yeminyanya.

    Die SAVI-Toekenning vir Voortreflike Vertaling gaan ongetwyfeld in die toekoms ’n belangrike bydrae lewer om die “sigbaarheid” van vertalers in Suid-Afrika te verhoog en die profiel van taalwerkers in ons samelewing te verbeter. Daarbenewens word allerweë hoë verwagtinge gekoester dat die Toekenning daadwerklik die gebruik van die inheemse tale in publikasies sal aanmoedig en die verskillende kulture en gemeenskappe van Suid-Afrika deur middel van vertaling onderling toeganklik sal maak.

    Die wenners

    Leon de Kock is medeprofessor in die Departement Engels aan UNISA. Hy is gemoeid met die onderrig van letterkunde en verskeie ander literêre aktwiteite. Hy is ’n digter en vertaal ook gedigte. Die English Academy of Southern Africa se Pringle Prize for Poetry is in 1995 aan hom toegeken en hy was vroeër vanjaar ook die medewenner van die FNB Vita/English Academy Prize for Poetry Translation (toegeken vir ‘This is Not Wallpaper’, ’n gedig in Triomf). Hy is die redakteur van scrutiny2: issues in english studies in southern africa en ’n lid van die redaksierade van English in Africa, Alternation en Journal of Literary Studies.

    Tenda Madima is in Venda gebore en is die seun van die bekende Venda-skrywer, ES Madima. Tenda het in 1994 by die Hansard-kantoor van die Parlement aangesluit as verslaggewer, vertaler en tolk. Hy is die stigter van die New African Writers’ Association, nou TSHIWA, en die voorsitter van die Batsumi Film Script-komitee en die African Languages Practitioners’ Forum in die Parlement. Sy digbundel, Mutingati I, is in 1992 gepubliseer en in 1997 ontvang hy die African Literary Award vir sy Venda-kortverhaalbundel, Ri khou dzedza.

    Bertie Neethling is sedert 1980 professor in die Departement Xhosa aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy spesialiseringsveld is mondelinge tradisies. Hy was lid van die redaksieraad van die South African Journal for Folklore Studies en is ’n lid van die Nasionale Pleknaamstudiekomitee. Hy is ’n ervare dosent, onderwyser en eksaminator in Xhosa en is die skrywer of medeskrywer van ’n aantal boeke en artikels oor die Xhosa-letterkunde.

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.