SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Miskien die boek wat my die langste sal bybly

Chris van der Merwe

Die laaste Afrikaanse boek
Outobiografiese aantekeninge

Karel Schoeman

Kaapstad: Human & Rousseau
2002

Die laaste Afrikaanse boekToe die gerugte die ronde begin doen dat Karel Schoeman — die een onder die Afrikaanse skrywers wat hom die allermeeste onttrek het aan publisiteit en kommunikasie oor homself en sy werk — aan ’n outobiografie werk, het allerlei vrese deur my gegaan. Aan die een kant was daar die vrees dat hy homself en sy werk gaan banaliseer deur allerlei staaltjies oor homself en sy lewe te vertel; dat hy vuil wasgoed van homself en andere in die openbaar gaan was wat iemand met sy statuur skade gaan doen. Aan die ander kant was daar die vrees dat hy die leser om die bos gaan lei en niks van homself gaan vertel nie — soos wat die leser deur twee dikke boeke moes lees om iets oor Armosyn van die Kaap uit te vind, en uiteindelik ’n magdom boeiende inligting oor allerlei dinge gekry het, maar slegs sowat een bladsy se inligting oor Armosyn.

Gelukkig is geeneen van hierdie vrese bewaarheid nie. Karel Schoeman het ’n outobiografie geskryf wat terselfdertyd ’n roman is, in die sin dat hy fokus op essensies, met weglating van die onbenullige en die anekdotiese, en dat elke onderdeel ’n noodsaaklike funksie in die groot geheel het. Hy neem die leser, in die loop van 679 bladsye, rustig deur al die stadia van sy lewe: onder andere die eerste twee jaar op Trompsburg, die kinderjare in die Paarl, die studentejare in Bloemfontein, die verblyf in Europa, die terugkeer na Suid-Afrika, die jare in Kaapstad, en uiteindelik die oudag terug in sy geboortedorp.

Hieruit blyk dat die roman ’n sikliese verloop het, en die sirkelvorm is hier, soos so dikwels in die literatuur, ’n simbool van heelheid, van voltooiing. Naas die siklus van die groot geheel, het ook die onderafdelings ’n sikliese verloop. Byvoorbeeld, die gedeelte oor sy kinderjare in die Paarl bestaan uit vier afsonderlike hoofstukke. Vier keer sirkel die skrywer as ‘t ware om dieselfde plek, om dit telkens opnuut te verken, soos wat die karakters in sy romans Verliesfontein en Die uur van die engel dieselfde geskiedenis telkens vanuit ’n ander perspektief vertel. Soos met Verliesfontein en Die uur van die engel moet ’n mens hier eerder van ’n spiraalvormige as ’n sirkelvormige struktuur praat, want naas die gedurige wenteling om dieselfde temas is daar ook ’n steeds volgehoue dinamika en ontwikkeling.

Schoeman herbeleef nie net sy lewe nie, maar herskryf dit ook tot ’n roman waarin elke onderdeel sinvol is. Niks gaan verlore nie, niks is toevallig nie, klink dit soos ’n refrein deur hierdie outobiografiese aantekeninge. Maar die waarheid is dat veel (gelukkig!) verlore gegaan het in die skryf van hierdie werk, dat die skrywer sy stof geselekteer het, en alleen dit behou het wat noodsaaklik is vir die skepping van ’n sinryke lewenspatroon. Hy herskep homself tot romankarakter en sy lewe tot ’n reis na betekenis.

Dit is ’n verhaal waarin die klem nie val op uiterlike gebeurtenisse nie, maar op die innerlike lewe. Wat kritici soms van Schoeman se romans beweer, dat daar niks gebeur nie, is skynbaar ook hier die geval: daar is ’n totale gebrek aan “gebeurtenisse”, dis te s, as ’n mens “gebeurtenisse” tot uiterlike dinge beperk. Maar onder die oppervlak van ’n skynbaar “gebeurtenislose” lewe, van iemand wat in totale afsondering leef en homself hoofsaaklik besig hou met lees en skryf, is daar ’n ryke spirituele lewe wat geopenbaar word. Dit is ’n verhaal van loutering en innerlike heling. Dit begin by die traumatiese verlies van ’n vaderfiguur met die egskeiding van sy ouers toe hy nog maar ’n klein seuntjie was. Moontlik deels as gevolg van hierdie trauma is hy in sy kinder- en jeugjare ’n lastige manipuleerder met onbeteuelde woedebuie, soms kil en meedonloos. Maar te midde van hierdie swakhede daag daar mettertyd by hom “die oorweldigende sekerheid van die wete dat elke mens, elke individu, geroepe is om heilig te word, en dat heiligmaking moontlik en haalbaar is” (p 359).

Op hierdie pad van heiligmaking word hy fundamenteel deur drie denkstelsels benvloed: die Christelike mistiek; die opvattings van die sielkundige Carl Jung; en die leer van die Zen-Boeddhisme. Al skrywend aan sy eie verhaal werk hy deur die verhoudings met sy moeder en sy vader, verhoudings wat op verskillende maniere soveel psigiese skade aan hom berokken het. Hy kom uit by die besef dat hy van nature nie in staat is tot vriendskappe of vaste verhoudings nie, en hy aanvaar sy alleenbestaan, verryk deur die geselskap van ’n rykdom boeke uit ’n verskeidenheid van tydperke en kulture. Sy oudag op Trompsburg word gekenmerk deur ’n volslae sereniteit — ’n lewe van Boeddhistiese eenvoud, vry van die onrus en gejaag na uiterlikhede, ingestel op die spirituele lewe, rustig wagtend op die dood, wat in wese ’n tuiskoms sal wees. In die woorde van die slot van Vergilius se Bucolica, aangehaal aan die einde van Schoeman se boek:

surgamus: solet esse gravis cantantibus umbra,
juniperi gravis umbra, nocent et frugibus umbrae.
Ite domum saturae, venit Hesperus, ite capellae

(Laat ons opstaan: die skaduwee is dikwels skadelik vir diegene wat sing — die gevaarlike skadu van die jenewerstruik, die skaduwee is ook skadelik vir koring. Gaan huis toe, julle wat goed gevoed is, die aandster kom, gaan, klein bokkies.)

Schoeman is die hoofkarakter sowel as die skrywer van sy verhaal, en ’n belangrike doel van die neerskryf van die storie is om tot innerlike genesing te kom, om skrywer en karakter met mekaar te versoen. Die tema van skryf as terapie kom dan ook herhaaldelik in die werk ter sprake. Op p 248 kom die versugting:

... wanneer ek hierdie aantekeninge voltooi het, sal ek ’n groot deel van wat ek tot dusver onthou het, seker ook as ’n las van my skouers kan afwerp en daarvan bevry wees.

In di verband voel hy hom verwant aan Virginia Woolf:

I suppose that I did for myself what psychoanalysts do for their patients ... I expressed some very long and deeply felt emotion. And in expressing it I explained it and then laid it to rest (p 403).

Hierdie “explaining” hou verband met die skeppingsaktiwiteit van die skrywer,

(om) skerwe en splinters bymekaar te soek en ’n soort patroon tot stand te bring aan die hand waarvan begrip moontlik sou kon word (p 148).

Deur die ekspressie van onderdrukte emosie en die transformasie daarvan binne ’n sinvolle patroon word innerlike heling verkry.

Dit is interessant dat die skeppingsproses by fiktiewe skryfwerk vir Schoeman heeltemal anders verloop as by sy historiese navorsing. Die skryf van geskiedenis is vir hom relatief veel makliker, want hy voel in beheer van sy taak. By die skep van fiksie, daarenteen, het hy geen beheer oor die proses nie, hy is totaal afhanklik van kreatiewe inspirasie en van die “stemme” wat hy hoor en wat hom dryf om hul storie te vertel. Vir hom is die skryf van fiksie

’n soort dwangneurose ... ’n kompulsiewe handeling wat ’n sekere verligting en bevrediging verskaf, maar weinig vreugde (p 539),

terwyl historiese navorsing vir hom alleen maar plesier gee. Die rede vir die pyn van die kreatiewe skryfproses, het hy later by Jung ontdek, is dat die temas uit die onbewuste kom, en die reis na die onbewuste moet allerlei psigiese weerstande oorkom en is altyd pynlik. Sy outobiografie hoort in wese by sy romans eerder as by sy historiese navorsing, want dit dring ook tot die onbewuste deur. Daarom het hy dit voltooi

met ewe groot teensin, beklemming en gedrewenheid as enige roman wat ek ooit geskryf het ... trouens, nooit het ek ’n roman met dieselfde intensiteit, begeestering of vervoering geskryf as hierdie teks nie (p 539).

Heelwat fassinerende inligting word in die outobiografie gegee oor Schoeman se skrywerskap en sy siening van die rol van die skrywer. Anders as wat die leek sou dink, begin die skryf van ’n roman by hom nie met ’n filosofiese idee of ’n verhaal in knopvorm nie — die volgorde is: “eers emosie, dan ritme, dan woorde” (p 410).

Op pp 536-543 wei hy uitvoerig uit oor die kreatiewe proses. Vir hom is die eerste fundamentele vereiste vir die skrywer om afstand op sy onderwerp te kry, want ’n te groot emosionele betrokkenheid kan die oordeel vertroebel. In di verband wonder hy (p 536):

As ek nie buite die kring van die Afrikaner grootgeword het nie ... sou dit vir my ooit moontlik gewees het om oor of vir die Afrikaners te skryf?

Kreatiewe skryfwerk is vir hom ’n kombinasie van harde, slopende arbeid en meesleurende inspirasie van buite. Veelseggend verwys hy hier na Vergilius se Aeneis, na die gedeelte waar “die verskrikte en tesinnige priesteres gedwing moet word om haar beskikbaar te stel as medium vir die boodskap van die god, groot en magtig” (p 542).

Die skrywer is die boodskapper van die gode; hy is ook die reisiger na die dreigende landskap van die onbewuste, met die taak van ontdekking en openbaring. In die tydlose wreld van die onbewuste word hy bewus van

skimagtige figure uit die verlede stamelend besig om iets te vertel, om hul ervarings te probeer verwoord, en om my aan te roep, soos die skimme in die vuurlig rondom die jong Will Shakespeare in ’n ander werk uit my kinderjare: Tell my story! And mine! And mine! And mine!“ (p 547).

Die kreatiewe proses is vir hom “oorweldigend, uitputtend en afstootlik” (p 542).

Die laaste Afrikaanse boek is ook ’n boek oor boeke. Schoeman gee agtergrondsinligting oor sy eie romans en vertel van die magdom boeke wat ’n invloed op hom uitgeoefen het. Hy haal graag ander skrywers aan om sy eie ervarings en idees te verwoord, sodat dit vir die leser voel of hy jou in ’n biblioteek met ’n kosbare boekeversameling inlei. Dit gaan nie hier om die uitstalling van sy eie kennis nie, maar om die ryke verskeidenheid boeke wat sy bewussyn gevoed en sy skrywerskap bepaal het. Wat sy landskap-uitbeelding betref, noem hy die interessante feit dat hy as skrywer daarna gestrewe het om vir die Suid-Afrikaanse landskap in Afrikaans te doen wat Patrick White vir die Australiese landskap in die magistrale Voss gedoen het (pp 285-6).

Die outobiografie word gekenmerk, het ek hier bo genoem, deur die weglating van wat onbenullig is en die fokus op wat essensieel is. In die hoofstuk “Outobiografiese aantekeninge; ’n ekskurs” dui die skrywer self aan waarop hy die klem laat val. Hy skryf naamlik in sy outobiografie neer wat “vir my belangrik lyk in die proses van my ontwikkeling tot die mens wat ek vandag is en in my ontwikkeling as skrywer” (p 59). In noue verbondenheid met sy ontwikkeling as mens en skrywer belig hy sy komplekse verhouding met sy land en sy mense, in sonderheid die Afrikaner. Hy kyk terug op ’n tydperk wat die opkoms en ondergang van Afrikanermag beleef het, en hy skryf om van “die verlore Afrikaanse wreld wat ek self nog geken het ... getuienis te probeer afl” (p 59). Dis die verhaal van sy “life and times” (p 59).

Sy blik op die Afrikaanse wreld is dikwels skerp krities. Hy wys op die korrupterende uitwerking wat politieke mag en ekonomiese welvaart op die Afrikaner gehad het, en skroom nie om die stelsel van apartheid wat onder Afrikaner-leiding uitgebou is, as “wesenlik boos” te beskryf nie (p 421). Blanke bevoorregting het berus op die ontkenning van swartmense se menswaardigheid:

In die Vrystaat was ons almal daagliks deur hierdie swart aanwesigheid omring, die hele wreld wat ons bewoon en al die voorregte wat ons besit het, het op hul alomteenwoordigheid, hul beskikbaarheid en hul gedienstigheid berus, en nogtans het daardie afstand tussenin verseker dat hulle nooit te naby kom of vir ons ’n ongerieflike mate van werklikheid aanneem nie (p 268).

Deur die hele samelewing het ’n muur van rassisme geloop, en die fondament waarop dit gebou was, was angs (p 498). In die besonder moet Afrikanermans dit ontgeld, wie se “onvolwassenheid, grootpraterigheid, selfsugtigheid en gebrekkige selfvertroue” hom met bewondering na die Afrikanervrou laat kyk wat bereid is om die Afrikanerman te duld (p 505).

Ook oor die plaaslike homoseksuele subkultuur laat hy hom skerp uit. In teenstelling met Europa, word homoseksualiteit hier in openbare latrines en ander obskure plekke beoefen, vol skuld en wroeging (p 373). Dit word volgens hom gekenmerk deur “koudbloedige saaklikheid” en ’n weiering om emosioneel betrokke te raak (p 473).

Sy bemoeienis met die Afrikaner is vir hom ’n persoonlike kwessie, ’n worsteling om sy eie plek en identiteit te bepaal. Met die Engelssprekende Suid-Afrikaner, onverbonde aan die land wat hy bewoon, kan hy hom hoegenaamd nie verbind nie; hy is ook nie ’n Nederlander nie, ondanks sy moeder se Nederlandse afkoms — hy skryf immers in Afrikaans; ondanks sy jarelange verblyf in Europa kan hy nie permanent daar bly nie, en voel hy verplig om terug te keer na Suid-Afrika, die land wat hy haat en ook liefhet. Dit is terwyl hy met historiese navorsing in Bloemfontein besig is dat hy ’n werkbare oplossing vir sy identiteitskrisis vind. Hy ontdek ’n band met

die ou Vrystaat wat ek geken het en geleer het om lief te h en waar ek gevoel het dat ek hoort, vir sover ek dan wel rens tuishoort, die ou Oranje-Vrystaat van weleer waarvan selfs die naam vandag nie meer bestaan nie (p 484).

Dit is die Vrystaat van die einde van die 19de eeu waarmee hy hom kan vereenselwig, gekenmerk deur ’n “beskeie waardigheid en eenvoud” (p 488) in die mense en ook in die argitektuur. Hiervan het vandag min oorgebly; net nou en dan is spore daarvan nog in enkelinge te bespeur (pp 489-90).

Die verhouding tussen Schoeman en die Afrikaners is wedersyds ’n paradoksale mengsel van betrokkenheid en onttrekking; van verworpenheid en aanvaarding. Hy is die totale randfiguur wat hom aan alle persoonlike kontak onttrek, maar hy skryf met ’n drif, byna ’n obsessie, vir die Afrikaner in sy taal. In dieselfde samelewing waar hy ’n buitestaander is, word hy telkens met die hoogste literre eerbewyse oorlaai. Hy wat nooit by openbare geleenthede verskyn nie, ontvang die Orde van Verdienste van president Mandela, en maak wel sy verskyning by hierdie geleentheid. Dit moes vir Schoeman ’n aangrypende erkenning gewees het, en die foto van die ontvangs van die Orde is (afgesien van die foto op die voorblad) die enigste persoonlike foto van hom onder die reeks foto’s wat in die boek opgeneem is.

Die foto’s bevestig dat die outobiografiese aantekeninge deels selfopenbarend, deels selfverhullend is. Mense wat gehoop het om allerlei sappige persoonlike besonderhede van Schoeman te wete te kom, sal die foto’s as ’n antiklimaks ervaar. Maar in die foto’s (soos in die geskrewe teks) gaan dit om essensies: die funksie van die foto’s is veral om essensies vas te vang van die tydperk waarin die skrywer geleef het. Uitsluiting is hier ewe belangrik as insluiting — en dit geld eweseer vir die geskrewe teks. Die teks van die skrywer bedek meer as wat dit openbaar; die woorde van die skrywer is soos ’n wegwyser wat nie self die bestemming is nie, maar die pad daarheen aandui. Schoeman noem dan ook eksplisiet dat dit

... die onuitgesprokene en onuitspreekbare is wat die volle gewig van die mededeling dra en nie dit wat toevallig uitgespreek is nie (p 132).

Of, soos Wittgenstein dit gestel het,

Die onuitspreeklike is — onuitspreeklik — in die uitgesprokene vervat (p 132).

By een sentrale tema van die outobiografiese aantekeninge moet ek nog uitkom: die tema van verganklikheid. Soos Totius, merk Schoeman aan “alle ding’” wat hom omring, dat die wreld nie ons woning is nie — in sy eie verbygaande lewe, in die ondergaan van alle beskawings, ook in die op- en neergang van die Afrikanerdom. Met die halfspeelse titel van sy boek wil hy suggereer dat die bevoorregte posisie van Afrikaans verby is en dat die bloeitydperk van die Afrikaanse boek tot die verlede behoort. Te midde van die verval van mense en ryke soek die skrywer na dit wat standhoudend is. Die verganklikheidsbesef dryf hom na die spirituele ryk; dit versterk sy mistieke verlange en die begeerte na oorgawe aan Iets/Iemand wat groter as die indiwidu is, ’n verlange wat soos ’n goue draad deur die boek loop.

Die tydelikheid van die menslike bestaan dryf hom ook daartoe om deur sy boeke vas te l wat tydelik is. Dit laat hom die waarde besef van die skrywer, wie se werk die eeue oorspan. Wanneer sy lewe na sy einde neig en die era wat hy geken het, onherroeplik verlore is, verlustig hy hom nog steeds dag na dag in die werke van skrywers wat troos en insig bied lank nadat hul eie lewens verbygegaan en hul beskawings ondergegaan het.

Oor die jare moes ek uit plig en het ek vir die plesier baie Afrikaanse boeke gelees. Van al hierdie boeke is die laaste Afrikaanse boek wat ek gelees het, miskien die een wat my die langste sal bybly.


Ander resensies van Schoeman se boek deur: Andr Brink, Hennie Aucamp en Johann Rossouw)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspiel nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.