Wend jou tot die jeug: hulle weet alles.
- Barthélemy-Catherine Joubert
Dis al wat die jonges vir die oues kan doen, om hulle te skok
en op die hoogte te bring.
- George Bernard Shaw
In 'n artikel vanjaar in Die Burger (28 Junie 2004) vra
Francois Smith 'n paar vrae rondom die feit dat die kykNET-prys
vir jong Afrikaanse skrywers nie vanjaar toegeken is nie. Die prys
is in 2003 van stapel gestuur om jaarliks 'n Afrikaanse skrywer
jonger as 35 te bekroon. Die enigste verduideliking wat Smith uit
die borge kon kry, is dat die prys gestaak is omdat dit teen ouer
skrywers en ander tale diskrimineer. Myns insiens 'n vreemde verklaring:
die borg is immers 'n Afrikaanse uitsaaier en daar is heelwat ander
pryse vir skrywers in alle ouderdomskategorieë.
Wat egter meer verontrustend is, is die vermoede dat die prys onttrek
is weens 'n gebrek aan tekste om te bekroon.
Jackie Nagtegaal se Daar's vis in die punch is met die eerste
(en enigste) kykNET-prys bekroon. Na die beste van my wete is 'n
kortlys met die name van ander finaliste nooit gepubliseer nie -
moontlik omdat so iets nie bestaan het nie. 'n Uitgewer wat destyds
navraag gedoen het oor die prys, is ingelig dat die toekenning jeugliteratuur,
poësie en godsdienstige boeke uitsluit. Ek mag verkeerd wees, maar
dit kom daarop neer dat net een skrywer (of andersins enkele skrywers)
vir die prys in aanmerking gekom het. 'n Borg kan in so 'n geval
beswaarlik verkwalik word as hy 'n prys onttrek.
Maar vergeet van die prys.
Die vraag is: Waar is die nuwe geslag jong Afrikaanse skrywers?
Waar is Toast Coetzer se digbundel en Angola Badprop en Jacques
du Preez se bundels met essays? Hoekom is die JIP- en SL-generasie
so stil? Het die Afrikaanse boek enigsins 'n benul hoe lyk en voel
Oppikoppi? Het 'n uitgewer al met Francois van Coke onderhandel
oor die Fokofpolisiekar-songbook? Wil iemand nie by Justin Nurse
smeek om sy jaarlikse tydskrif, The Laugh It Off Annual,
in Afrikaans ook uit te bring nie?
Wat is "jonk"? In die terme van die heengegane kykNET-prys en selfs
hierdie LitNet-kongres beteken jonk 35 of jonger. 'n Mens
kan sekerlik allerhande besware inbring teen so 'n indeling, maar
die feit is dat daar in Afrikaans baie min skrywers is wat as "jonk"
geklassifiseer kan word.
Waarom is dit nodig dat jong Afrikaanse skrywers se stemme gehoor
word? Die antwoord lyk voor die hand liggend, maar dit word bittermin
geformuleer.
Vergeet geriefshalwe van teorieë oor die aard en funksie van letterkunde.
Die feit is, die Afrikaanse letterkunde sien op die oomblik goed
middeljarig, selfs bejaard, daar uit. Ek is nie besig met 'n geringskatting
van ons ouer skrywers nie, maar daar is besig om 'n groeiende gat
in ons letterkunde te ontstaan, 'n black hole waar 'n hele
generasie nie saampraat in die gesprek wat die letterkunde veronderstel
is om te wees nie.
Probeer vir 'n oomblik 'n beeld vorm van hoe Afrikaanse jong mense
se leefwêreld deesdae lyk …
- Die gemiddelde 2004-eerstejaarstudent was nege jaar
oud toe apartheid finaal van die wetboeke verwyder is.
- Baie jong mense ken Londen beter as Johannesburg.
- As jy oorsee werk, is die wisselkoers belangriker as om te weet
wie die Suid-Afrikaanse minister van finansies is. (Ek vermoed Afrikaanse
twintig-ietsers ken meer hip hop-kunstenaars se name as Suid-Afrikaanse
politici s'n.)
- Inligting = Google.
- Dis makliker om koerante op die internet te lees as om hulle by
die kafee te gaan koop.
- Die kans is goed dat jy eendag jou troeteldiere kan laat kloon.
Trouens, die kans is goed dat jy eendag jou kínders kan laat kloon.
'n Mens kan jou vervolgens afvra hoeveel van die boeke wat in die
afgelope vyf jaar in Afrikaans verskyn het, enigsins 'n weerspieëling
van hierdie leefwêreld is. Miskien is dit waarom Jackie Nagtegaal
se debuut soveel mense regop laat sit en laat vra het: "Genade,
is dit hoe hierdie kinders práát?" Dalk is dit waarom Manie de Waal
se Trips soveel resensente half onverhoeds betrap het.
Dis moeilik om 'n generasie op te som wat hom nie laat opsom nie;
om namens 'n generasie te praat wat niemand namens hom laat praat
nie. Maar maak 'n paar veralgemenings, formuleer 'n paar sienings
en toets hulle aan 'n paar twintig-ietsers. Politiek ruik na ideologie
- vergeet van politiek. Afrikaans is oukei, maar as Afrikaans na
ideologie en patriotisme begin ruik - vergeet daarvan. Taalverenigings
en -instansies is liggame wat redenaarskompetisies en olimpiades
geborg het toe jy op skool was - die oomblik as hulle allerhande
uitsprake begin maak en na monumente begin opmarsjeer, is hulle
besig met politiek. Die debat oor wie of wat "die Afrikaner" is,
is min of meer so relevant soos die poskantoor se telegramdiens
- die woord word op sy beste benut om na 'n beesras te verwys.
Is dit regtig hoe baie jong Afrikaanssprekendes voel? Moeilik om
te sê. Onmoontlik om te sê as jy 'n antwoord uit die Afrikaanse
boek probeer kry.
Op enkele uitsonderings na is daar bloedweinig oor die hedendaagse
jong generasie geskryf, en nog minder daarvan déúr die hedendaagse
jong generasie - in die tradisionele Afrikaanse letterkunde in elk
geval. Die samelewing is besig om in baie opsigte jonger te word;
ons letterkunde is besig om in baie opsigte ouer te word.
Jong Afrikaanssprekendes se stemme is meer volop as wat baie mense
dink. Daar is nie 'n gebrek aan kreatiwitieit nie, maar jy moet
weet waar om te kyk. Die vraag is dalk nie wáár kyk jy nie, maar
wát kyk jy. Soos in: www.watkykjy.co.za 'n Mens kry die indruk
dat die internet nog steeds as 'n minderwaardige publikasieplatform
beskou word, selfs al het 'n webwerf soos LitNet hom die afgelope
paar jaar gevestig as dié plek waar literêre en kulturele debatte
gevoer word. Dit lyk egter of die literêre establishment 'n debat
eers ernstig begin opneem as dit die koerante haal. Eweneens word
iemand beswaarlik as 'n "digter" of 'n "skrywer" beskou as hy of
sy poësie of prosawerk elektronies gepubliseer het.
Tydens 'n gesprek op die Volksblad-kunstefees sê Antjie Krog (Volksblad,
19 Julie 2004) dat jong Afrikaanse digters dalk in Afrikaanse rock
"ontsnap". Jong Afrikaans lyk springlewendig op kunstefeesverhoë,
waar daar tussen die bokkie-bokkie en sokkie-sokkie genoeg Fokofpolisiekar,
Gian Groen, ddisselblom en Klopjag is wat jou kan oorreed om die
saak ernstig op te neem.
Ek staan by die punt wat ek as naïewe standerdvyfie eendag in 'n
debatstoespraak gemaak het: Jong mense skryf nog in Afrikaans, hulle
sing in Afrikaans, vloek in Afrikaans, maak grappe in Afrikaans,
het mekaar lief in Afrikaans. So, Afrikaans is oukei. Die Afrikaanse
boek, daarenteen, is nié. En ek vermoed wat baie jong Afrikaanssprekendes
betref, is dít óók oukei. As Karel Schoeman of iemand anders van
sy generasie binnekort Die allerlaaste Afrikaanse boek skryf,
sal daar hopelik nog genoeg mense oor wees om dit te koop.
My belewenis is dat jong mense nie so boeksku is as wat hulle dikwels
voorgestel word nie - maar boeke is duur, lees is tydrowend en boeke
is 'n vorm van vermaak wat inspanning verg in 'n media-omgewing
waar kitsvermaak aan die orde van die dag is. Die dae toe mense
uit patriotisme, gewoonte of onkunde Afrikaanse boeke gekoop het,
is gelukkig verby. As daar in Afrikaanse boeke niks is wat tot my
spreek nie, sal ek iets anders lees. As Afrikaanse boeke nie meer
'n plek is waar ek iets kan sê nie, sal ek dit iewers anders gaan
doen.
Dit gaan ook nie hier noodwendig om 'n "vervlakking" in die letterkunde
nie, maar die dae toe mense wenkbroue gelig het omdat uitgewers
'n groot aantal liefdesverhale en selfhelpboeke uitgee, is gelukkig
verby. Hoekom is daar oor die wye spektrum van Afrikaanse lektuur
- van selfhelpboeke tot "hogere letterkunde" - so min wat op my
generasie gefokus is? Ja, 'n goeie boek is veel magtiger as ouderdomsgrense.
Maar die Afrikaanse boek is besig om al hoe meer na die rand van
ons kulturele en vermaaklikheidwêreld te beweeg. Ek het mense al
dikwels hoor sê die Afrikaanse leeskringkultuur hou die Afrikaanse
boek aan die lewe. Goed so. Maar wat daarná? Is daar iewers 'n volgende
geslag leeskringlede wat regstaan om as redders vir die Afrikaanse
boek op te tree? Kruip daar iewers 'n volgende geslag skrywers weg
wat in hierdie volgende geslag leeskringlede se leesbehoeftes gaan
voorsien?
Uitgewers van Afrikaanse boeke moet dringend aandag gee daaraan
om jong Afrikaanse stemme, oor die wye kulturele spektrum van Afrikaanssprekendes
heen, aan te moedig om van hulle te laat hoor. Ja, dit gaan geld
kos. Dit gaan moeite en beplanning verg om jong stemme se aandag
te trek en uiteindelik publiseerbare manuskripte uit hulle te kry.
Dit gaan bemarking verg om hierdie boeke by die regte mark uit te
bring. Dit sal beteken dat die Afrikaanse boek meer bewus moet word
van sy omgewing, van die wêreldletterkunde en van ander mediavorme
soos die internet, rockmusiek en tydskrifte. En nee, dis sekerlik
nie so eenvoudig soos dit klink nie.
Die paar jong swaeltjies wat op die oomblik in Afrikaans aangekom
het, tjilp heel lustig, maar as hulle die enigstes is, is dit 'n
triestige somer wat voorlê.
Bron
Claassen, George ea. 1998. Die groot aanhalingsboek. Kaapstad:
Human & Rousseau. |