Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My memory
 

Na aanleiding van Jaco Botha se Die woord worcester

Teresa Moolman


Read Jaco Botha's: Die woord worcester

"Die skeppinge van 'n ernstige skrywer kan ook gesien word as 'n produk van interne weerstand. Dit is die ambivalente benutting van 'dit wat onthou word' in samehang met die weerstand daarteen. Hierdie teenstrydigheid van 'n bewuste opdieping van 'dit wat mens eerder sou wou vergeet' skep die spanning en energie wat die skrywer laat skrywe."

Wanneer ek my oë toemaak, sien ek Barrydale in die Klein Karoo presies soos dit 18 jaar terug was. Nie slegs die koppies en die droë, kort bossies wat die dorpie omring nie, nie slegs die geteerde hoofstrate met die enkele geteerde strate daarnaas en die stofstrate wat deur dit kruis nie. Nie net die rivier wat netjies deur die middel van die dorp loop nie, nie slegs die drie laagwaterbruggies wat met elke groot reëns oorstroom en die dorp sekuur in die helfte deel nie. Ek onthou ook die Tradouwspas wat manjifiek tussen die berge deur vleg van Swellendam se kant af, deur Suurbraak; dieper en kronkelend op die rantjie van imposante hoogtes. Die goedversteekte varswaterstroompie wat jy verby sal ry as jy die presiese ligging daarvan nie ken nie. Die mense van die dorp wat Sondag-agtermiddag hul houers vol soet, koel berg water kom tap vir die week. Dan daal jy skielik en die pas maak 'n laaste lui draai en spoeg jou uit onder by die koöperasie se kelder, waar die soetsuur reuk van die gissende wyn in jou neusgate opslaan en die lorries hul vragte druiwetrosse in groot silwer trôe stort.

Bo, op die knippie, sit die garage met twee petrolpompe en die kafee - ons het altyd oor die naweek op pad terug van die family gathering by Ouma-hul op Swellendam daar gestop vir vars brood. Dan was ons nie eens lus vir vra vir sweets nie, want die potjiekos en Ouma se roly-poly-poeding het nog solied in ons mae gelê en al die draaie deur die pas het nie lekker met my maag geakkordeer nie!

Net so 100 treë aan is die eerste afdraai regs na die hoofstraat. Dis 'n skerp afdraand en dieselfde draai waar my suster van afshow voor die bure se seun met haar fiets geval en haar arm gebreek het. Die fiets het niks makeer nie en ek het hom later geërf. Mens kon heluit vinnig by daai afdraande afgaan - my broer het probeer spoedrekords opstel met sy skateboard en homself nerfaf geval!

Onder op die hoek sit die hotel met die swembad en lekker lang plastiek-loungers met wit-en-blou-gestreepte kussings waarop jy jou kon uitstrek in die son. Non-residents kon een rand betaal en heeldag daar swem. Ek was tot vandag toe nog nooit verder as die ontvangsportaal van daardie hotel nie! Pa het my leer swem daar - ek was goed gewees wanneer ek eers in die water was, maar kon nie sommer vanself in die diep kant induik nie. My suster-hul sou my terg en tart en dan vinnig wegswem na die diep kant toe - daar waar hul weet ek hul nie sou kon bykom nie. Nie dat ek elk geval iets aan hul sou kon doen nie, al wou ek ook - haar maats was goed tussen ses en agt jaar ouer as ek. En boonop was ek heluit bang vir die creepy crawly gewees.

Die Off Sales was op die oorkantste hoek en daar was altyd 'n paar dwalendes wat daar rondgehang het. Ons mag nie daar gekom het nie en Pa het elk geval altyd self sy brandewyn gaan koop. Maar daar was 'n winkeltjie op dieselfde stoep (of was dit net effens verder af in die straat?) wat gemengde loslekkers verkoop het in sulke lang cones wat gedraai was van Huisgenoot-bladsye. Chappies was 'n sent een en Ma kon altyd die horriekrieps kry as ons met kieste vol kougom by die huis aankom. Wilson-toffies vyf sent een en almal wou altyd dié met die swart papiertjies hê, want dit het geproe na Coca Cola. Ek het die papiertjies van my loslekkers gehou en dit was kamtig geldnote wanneer ons winkel-winkel gespeel het. Netjies soort by soort in plastiek-banksakkies gehou in 'n boks wat ook gedien het as ons till. Elke kleur was 'n ander waarde - die swart Wilson-toffies-papiertjies natuurlik die hoogste waarde en mens kon die meeste daarmee "koop".

Die hoteleienaar se huis was reg langs die hotel met 'n manjifieke tuin en groot gevestigde bome wat suis in die wind, hoë plafonne en 'n swaar eikehoutvoordeur. Langs hulle was Shaun-hulle se huis en dan ons huis, en ons bure aan die ander kant was 'n ouerige oom en tannie. Die huise het imponerende oud-Kaaps-Hollandse gewels gehad en wye L-vorminge stoepe met trappies wat alkant na die voordeur lei. Groot houtvensters wat lekker wyd kon oopstoot en waardeur ons male sonder tal geklouter het wanneer niemand tuis was nie, in plaas van om die deure te gebruik.

Destyds toe my ma-hul die huis gekoop het, was die mure wit geverf en die rantjies van die geuwel en die geute swart en die huis se naam was Perkio, in swart krulletters gedraai en teen die muur geskroef. Pa het die huis laat oorverf in so 'n sagte groen met wit afwerkings en Perkio vervang met die nommer 34 - die 4 net so paar sentimeter laer as die 3. Ek was lief vir daai huis. Die stoep het 'n halfmaan gevorm met bultende wit traliewerk om. Onder was 'n bedding met langsteelrose sodat wanneer hul blom kon jy oor die tralies leun en jou neus in 'n geurige roos druk. Voor het die grasperk groen en dig gestrek, met blombeddings al om die rante.

Pa het self vir my gewys hoe om Afrikanertjies se saad te oes, dit dan weer te plant en dop te hou hoe dit groei en groei om uiteindelik weer te blom, te verwelk en die saadjies te oes om volgende keer weer te plant.

My kamer was eintlik die sonkamer wat as nagedagte in later jare bygevoeg is. Dit het uit my ma-hul se kamer geloop het en die badkamer se venster was agter my kas. 'n Lang, maer kamer met twee groot vensters tot laag onder op die vloer en 'n kleiner een hoog teen die muur by my bed se kop. Maar die bonus was dat my kamer 'n buitedeur gehad het wat slegs van die driveway geskei was deur 'n smal blombedding, 'n lang begrafnisboom en 'n stukkie gras.

Maar die beste van als was dat al vier die huise se agtertuine amper soos 'n baie klein kleinhoewe was met geen heinings wat dit skei nie. Dit was een groot wye tuin waar ons kinders kon speel. Ons het twee buitekamers gehad mat lae sinkdakke. 'n Ou leer het permanent agter gestaan en my suster het die groot dak gebruik as haar "huis" en die kleiner dak was my "huis". Daar het ons goeie uitsig gehad oor die hele agtertuin.

Dinsdaemiddae was dit ons beurt om die leiwater af te keer om ons leiwaterdam vol te laat loop. Die mense van die munisipaliteit het gekom en die houtplank wat gewoonlik sorg dat die water verbyhardloop, uitgehaal en so teruggesit dat die water na ons kant toe afgekeer word vir so uur of wat. Shaun-hul se dam was vierkantig en baie diep, maar ons dam was lank en smal - so lank soos die agterplaas en dan het Pa dit in vier kompartemente verdeel met net 'n klein gat onder in elke skeidingsmuur. So het elk van ons dan ons eie "dam" gehad en my suster natuurlik twee. Ons het ure daar baljaar met spesiale swembroeke wat al oud was en Ma nie gepla was dat hul bruin vlek van die damwater nie. Ons het die paddavissies gevang en in groot glasbottels toegeskroef en uitgestal en dan vrygelaat. Geswem en ons tone diep in die groen slym gewikkel. Met die water uit die dam kon Pa die tamatieplantjies lekker nat hou en ons kon nooit wag vir die appelkoos- en perskebome se vrugte om ryp te word nie en dit dan skelm gepluk wanneer Pa werk, net om baie teleurgesteld die halfgehapte bitter, harde vrug iewers in die grond te gaan begrawe.

My pragtige brundel Chekita en Gomgat het ook daar gewoon. Chekita was my Boxer-teef wat, toe sy klein was, op my skoot geklim het wanneer ek kruisbeen op die vloer sou sit en nooit die gewoonte afgeleer het nie. Selfs nie toe sy 'n groot, uitgevrete hond met haar eie babas was nie! O, sy kon Afrikaans praat daardie hond, my beste maat ooit! Gomgat was ons erg lui gemmerkat, groot en vet - daar waar hy hom soggens in die sonnetjie tuisgemaak het, kon jy maar seker wees sou jy hom vanaand weer kry. Daarvandan natuurlik die afleiding dat hy kleef asof hy gom aan sy gat het, vandaar sy naam. En eintlik was sy ma se naam Komkat omdat ons altyd so na haar geroep het toe sy klein was: "Kom kat! Kom kat! Kom nou, kom kat!"

Vandag is Barrydale 'n artistieke dorpie met allerhande kunstenaars en stedelinge wat vir hulself 'n vervalle cottage kom koop en dan tydsaam restoureer op hul "wegbreek"-naweke. Daar was al doerie jare sulke "vreemdelinge"' in ons dorpie en ons was altyd bang om by hul te gaan kollekteer vir dié of daardie skoolprojek, want jy sou moes Engels praat!

Ons ry deesdae net verby wanneer ons vir 'n vlugtige besoek in SA is, en dan tuur ek nostalgies na die vaal skoolgronde onder my en die dorpie wat uitgestrek tussen die koppies lê, maar ek dink dat ons tog dié jaar daar moet stop - my mond water vir 'n Coca Cola Wilson-toffie …

Ek sou wou roep na gode om
al my gisters te delete -
geen backup tapes,
niks inligting van die server.

Stuur 'n virus om my
geheue leeg te laat sodat
ek kan begin leef sonder
die kruis
van soete herinneringe
en bittere vergelykings.

<< Back to all authors <<


LitNet: 11 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.