"No one says a word,
but he knows she has been defeated, put in her place, and knows
that he must bear part of the blame." - JM Coetzee, Boyhood.
Vroeg in September is daar 'n klein opskudding binne Afrikaanse
letterkundekringe ná die Nobelprys-bekroonde skrywer JM Coetzee
in die voorwoord van 'n bundel vertaalde Nederlandse poësie geskryf
het die Afrikaanse letterkunde "has never been shy to flaunt its
modest achievements".
Of hy nou reg is of nie, het die verontwaardigde gekef en onseker
geblaf van gekastyde brakkies weerklink in Afrikaanse nuusblaaie.
Baie het sekerlik gewonder: Nou hoe kan ons eie, bekroonde "prince
of darkness" nou so lelik praat oor een komponent van die Suid-Afrikaanse
letterkunde? Waar kom hy vandaan?
Die antwoord is eenvoudig: Worcester, natuurlik. En hier, kan ek
beskaafde lesers gerusstel, sien ek Worcester nie bloot as 'n dorp
nie, maar eerder as 'n konstruk van geheue (memory) en weerstand
(resistance).
* * *
In die dae toe ek nog belang gestel het in literêre teorie, het
ek veral aanklank gevind by 'n denkgees van vernuwende letterkunde
as 'n uitvloeisel van interne weerstand. Op sy eenvoudigste
vlak sê hierdie teorie dat vernuwende letterkunde ontstaan uit 'n
onvergenoegdheid met die tekste van die vaderskrywers - die Freudiaanse
beginsels van die Oedipus-kompleks, soos wat Harold Bloom dit in
The Western Canon stel.
Wanneer ingefokus word op 'n meer individuele vlak, kan die skeppinge
van 'n ernstige skrywer ook gesien word as 'n produk van interne
weerstand. Dit is die ambivalente benutting van "dit wat onthou
word" in samehang met die weerstand daarteen. Hierdie teenstrydigheid
van 'n bewuste opdieping van "dit wat mens eerder sou wou vergeet"
skep die spanning en energie wat die skrywer laat skrywe. Die proses
kan gestel word as: om alkohol te drink, met die spesifieke doel
om uiteindelik 'n babalaas te bewerkstellig, te konfronteer en daarvan
kuns te maak.
Maak dit sin? Ja?
* * *
In sy omskrywing van die Onsekerheidsbeginsel in Kwantumfisika
verwys Heisenberg na die interaksie tussen waarnemer en dit wat
waargeneem word. Dit wat waargeneem word, verander juis vanweë die
feit dat dit waargeneem word. Die waarnemer word dus eerder 'n deelnemer.
Hierdie waarheid word onder verskeie name, binne verskeie dissiplines
benut.
In die geval van Worcester is daar egter min verandering in dit
wat waargeneem word, die kleindorpse lewe ("provincial life" volgens
Coetzee) en ingesteldheid. Daar is wel verandering of progressie
in die waarnemer, maar op 'n manier bly Worcester die koue, klei
onderste laag van hierdie opgedamde geheue-inhoud.
JM Coezee, David Kramer, Arno Carstens, Jaco Botha - algar oorsponklik
van Worcester, almal skrywers van boeke of lirieke waarin 'n sekere
weemoed of verslaentheid (defeated nature) omhels en terselfdertyd
teen weerstand gebied word.
Soos egter vroeër genoem, is Worcester bloot 'n naam wat aan hierdie
gevoel of bestaan (state of being) gegee word. Daar is duisende
soortgelyke dorpe en plekke regoor die wêreld - hiervan getuig immers
die werk van mense soos Tom Waits en Raymond Carver, om slegs twee
te noem.
Om Coetzee se opgeroldekoerant-afjak van die Afrikaanse letterkunde
te regverdig, glo ek dat dié letterkunde, soos hy dit onthou, vir
hom worcester (spesifiek met 'n kleinletter geskryf) is. Dat gefragmenteerde
geheue-inhoude saamgesmelt het. Die gebreekte bierbottel wat dryf
in die vrot, grys water van Worcesterdam, het Worcester self geword.
* * *
"From the galaxy of blues, to a universe we choose" -
Arno Carstens.
So twee jaar gelede, ook rondom September, lewer ek 'n praatjie
by 'n boekklub op Worcester. "In Worcester," vertel ek, "het 'n
mens basies vier keuses: drankmisbruik, owerspel, bekering, of 'n
kombinasie van hierdie drie."
Ek vertel toe verder die storie van 'n vrou wie se minnaar in die
laat 1800's op die dorp, nadat hy aan moord skuldig bevind is, aan
die galg gesterf het. Sy, steeds seker van haar liefling se onskuld,
het toe 'n pakt met die duiwel aangegaan: sy het met uitgestrekte
arms aan die bopunt van Hoogstraat, die hoofstraat, met haar rug
na die ou drosdy gaan staan en die dorp vervloek. "This town will
never prosper," was haar woorde.
"Maar ons dorp is nie meer so nie," het een bedeesde vroutjie
in 'n beblomde bloes en stemmige romp my na die tyd probeer verseker.
"Ons het daardie demoon uitgedryf," het sy verder vertel, terwyl
sy met 'n stralende gesig na my toe opkyk.
Ek is nou al te lankal uit die dorp uit en kom te selde daar om
te weet of dit wat daardie ronde vroutjie aan my vertel het, die
waarheid is. Miskien het Worcester bloot in die troebel damwater
van my geheue gestagneer en as ek daaraan terugdink, voel ek steeds
hoe episodes soos los bottelskerwe aan 'n kaal voet sny en krap.
- Hoogstraat, vanwaar die verdoemenis uitgespreek is, op
'n Vrydagaand. Die helder rooi en wit lig van die KFC, en oorkant,
Saddles en die Spur. Die dieseldampe van trokke wat verbydreun
en die raspergil van 'n straatlopervrou wat "jou ma se poes!"
teenoor haar boyfriend gil.
- Die wit, voorstedelike huise in Panorama en Riebeeckpark,
waar die prokureurs en dokters se kinders woon.
- Die spoorweghuise op Hospitaalheuwel, wat ruik na muf
linoleum en pyptabak.
- Die spoorwegbrug waaronder die treinspoor blink in die
laaste lig van 'n leë Saterdag-agtermiddag.
- Die ry bloekombome en die sinkheining in die ewige wind
langs die tennisbane.
- Die jolytaande met 'n dansorkes wat sixties songs speel
en suip-tot-jy-kots-partytjies.
- En, natuurlik, blye Apostolies wat onder neonligte preek
teen cowboyrolprente, in die Gees dans en geen meer begrip het
vir die weemoed van hierdie ou wêreld nie.
Dit is die kaart van Worcester in my kop. Dit is die klein glasskerfies
wat draai onder die vel; die kurpers wat met geswelde, wit pense
uit die vrot, suurstoflose damwater dobber.
- Laat Januarie hou die mense steeds skou, met sy mallemeules
en biertent, ter fondsinsameling vir die Lions.
- Die dorpspolitiek draai steeds rondom besigheidsregte
en die monopolie op dranklisensies.
- Die Worcesteriete suip, vloek, naai en bid steeds om
net in Godsnaam te kan bly vergeet dat hulle in 'n dorp met 'n
verslane gees (beaten spirit) woon. 'n Dorp waarin die veilige
knusheid van gemiddeldheid en eendersheid besing word.
* * *
"Hoekom blaf daai honde, by die hekke van Paradise?" -
David Kramer.
Vir 'n groot deel van my skoolloopbaan het ons in 'n hoë rietdakhuis
met krakende houtvloere en skoon meubels in die woonbuurt Langerig
gebly. Oorkant die pad, is ek vertel, was die huis waarin David
Kramer grootgeword het. Hy het glo laatmiddae op die dak van daardie
huis gesit en sing en speel op sy kitaar. Ek het baie aande na daardie
huis gekyk en gewonder hoe dit moes gewees het om daar van bo af,
bo die benoudheid van die dorp, te sit en musiek maak. Mens sou
kon kyk tot ver verby die rugby- en krieketvelde van die laerskool
oorkant die pad en mens sou kon asemhaal, het ek gereken.
Ken jou plek en bly daarby, kon maklik die leuse van Worcester
gewees het.
Die dorp word reg in die middel verdeel deur Durbanstraat (as ek
reg onthou) en daar onder was die kleurlinggebied met sy klein huisies,
sy goedkoop klerewinkels en tweedehandsemeubelwinkels, en natuurlik
sy twintigtal kroeë.
Zwelethemba, met sy stowwerige hostelle en later ook shacks, lê
ver buite die dorp, op die Robertson-pad, en selfs na tien jaar
van demokrasie is daardie ongekaarte lyne van die plek steeds in
stand.
Maar die kompartemente van Worcester strek veel digter en verder
as dié van kleur en klas, wat ook heel algemeen in Suid-Afrika is.
Dis moeilik om te omskryf, hierdie worcester-denkgees, maar dis
seker iets soos Hopie-lê, 'n spel wat ons op skool gespeel het.
Een groterige kind soek 'n klein enetjie uit en duik hom plat. Dan
spring kind na kind, met gewoonlik die heel grootste kind bo-op,
op die onderste twee, totdat die heel onderste kind se asem fluit
en sy arms swaai soos wat sy bors platgedruk word. Almal doen mee
aan hierdie Hopie-lê, want dit is tog pret, en dit is wat kinders
veronderstel is om te doen. Almal, selfs die onderste kind, lag
wanneer hulle weer opgestaan het. Die onderste kind, steeds uitasem,
lag egter slegs omdat hy weet: indien hy gaan huil, gaan die ander
kinders weer en weer vir hom kies om onder te lê; solank hy bly
lag, het hy 'n kans om hoër op in die hoop te lê - dis hoe dit werk.
Vir die grootmense raak die spel komplekser, maar dit is ook maar
steeds 'n gehopie-lê - al verskil is, hieroor kan geskinder word.
"Ag my kind, ons byt maar net vas totdat ons doodgaan," onthou
ek die woorde van een spesifieke vrou wat later gekies het om maar
uit eie beweging te gaan lê, voordat iemand die kans kan kry om
haar plat te duik.
"Snapshots, trauma, dissociation, inheritance, history" - dit
is my herinneringe van Worcester.
* * *
Maar tog was daar, tussen al die eensaamheid, leegheid en hardheid,
ook een of twee wat soos jy gevoel het:
- die mense wat jou voorgestel het aan die rebelse gesteun
van Bob Dylan;
- die boeke van Breyten Breytenbach, wat nie hoef sin te
gemaak het nie, maar bloot mooi was vir jou; en dan ook
- die vrou wat jou tussen haar borste getroos het
omdat sy dieselfde worcester-troosteloosheid in en om haarself
kon voel.
* * *
Worcester lê vandag ver agter my en ek het intussen 'n bietjie
gelewe, gereis en asemgehaal. Maar binne die raamwerk van Heisenberg
se teorie het dit wat waargeneem is, ook die waarnemer geraak en
verander.
Die skrywer hou (on?)bewustelik die kleilaag onder die damvloer
van geheue-inhoude in stand. Die weemoed, kleinsieligheid en benoudheid
van Worcester word bewaar, sodat dit in tekste opgeroep kan word
en teen weerstand gebied word.
So word Worcester dan worcester, 'n woord in die
thesaurus van ons beskeie klein letterkunde. 'n Woord wat nie beperk
is tot die beskrywing van 'n klomp dorpenaars nie, maar 'n woord
wat die sielloosheid van 'n groep New Yorkse makelaars, sowel as
die klein akademiese wêreld binne 'n taaldepartement by Oxford,
kan omskrywe. Die Afrikaanse letterkunde; die muesli-mengsel van
'n groep driekampatlete; 'n week in die lewe van 'n label-queen
- dit alles kan "worcester" wees, en dis waarteen die literêre teks
sal bly weerstand bied, ter verruiming van die menslike gees. Amen!
Works by the author:
In Drie Riviere
Sweisbril
(pictured left) |