Ek vind Antoinette se vrae besonder relevant. 'n Mens kan dikwels 'n nuwe
skrywer se potensiaal sien in die vrae wat hulle vra. Ek bedank haar.
Jy sien van die dinge raak wat ek graag wil hê lesers in my werk moet sien, Antoinette.
Jou vrae en die antwoorde:
1. Jy skryf die wonderlikste "los-staande” sinne. Maar in konteks vorm dit
vir my besonderse "ritme" en kan ek aanklank hierby vind. Daar is atmosfeer wat soms blatant dog subtiel metafories weergegee word. Beplan jy dit, of loop dit sommer net van jou kop deur jou vingers uit?
Voorbeeld:
Jou opgeprikte borsies flous my nie,
jy't maar net jou pantser uitgeklop.
Die metafore is soldate …
en jy's 'n baboesjkapoppie …?
Die gedig se eerste weergawe "loop uit die vingers" uit, ja - maar nie moeiteloos soos water nie, meer soos konfyt. En ook eers nadat dit ’n paar dae, selfs weke, in my kop gebroei het. Die proses is twee derdes “onderbewustelik” en een derde “bewustelik”.
Die “los-staande” effek is seker weens die feit dat my verbeelding ’n bietjie ellipties werk.
Wat tegniese aspekte betref, is die ritme, of metrum, van 'n gedig vir my allerbelangrik. Dit was meer die geval in In die geheim van die dag as in my eerste bundel Die Nomadiese Oomblik , omdat ek gewerk het met langer sinne, dws waarvan die lettergrepetal meer is as die gebruiklike 9–13 – bv 15 of 17 of in uitsonderlike gevalle selfs 21 of 23 lettergrepe per reël. As die metrum dus nie reg is nie, sal die reël tot prosa kantel. Ek het onlangs tot die korter reël teruggekeer (in bv 'n gedig “ Jakobsleer” wat binnekort op LitNet behoort te verskyn) en dis beslis veel makliker om te skryf.
Die tweede belangrikste tegniese aspek is klanke wat mekaar eggo, soos binnerym, halfryme, ens, en homonimie. (Ek moes nou die dag hierdie gogga van ’n woord in die woordeboek opsoek "om 'n woord te kry" vir wat ek dink ek doen.
Assonansie
kry mens wanneer woorde soortgelyk klink, maar nie ryme of halfryme of iets dergeliks is nie, bv dit, niks, (tyd)skrif in die uittreksel hier onder.) Dit het my gehelp om ’n soort elegiese effek te kry. In opeenvolgende konsepte het ek meer aan hierdie klankaspekte geskaaf. Maar baie belangrik vir my was klankpatrone wat "onopsigtelik" of gedeeltelik" is, wat die effek skep sonder om die leser se aandag daarop te vestig - sodat die aandag vry bly om te fokus op wat gesê word. Ek sou byvoorbeeld ryme ver uitmekaar plaas – maar nie te ver nie – en halfrym en binnerym was vir my verkieslik bo rym. Dit is waar van die liriese verse, soos “Teen die liefde” , sowel as van die narratiewe verse.
Maar die internalisering van klankbewustheid sodat dit “onbewustelik” uit jou kan voortkom, is belangrik. Ek dink nie ek sou “praatverse” soos “ Die besoeker” of “Die Grond van die Voorvaders” kon geskryf het sonder dat ek digters soos Elisabeth Eybers en Van Wyk Louw jare gelede geïnternaliseer het, of sonder dat ek eers sonnette geskryf het nie. Oënskynlik het Geheim niks met Van Wyk Louw uit te waai nie (ek het self so gedink!) maar in retrospeksie lyk dit vir my of die laaste, narratiewe gedigte in Nuwe Verse en die bundel Tristia (kyk wat doen hy met assonansie en binnerym) in sommige opsigte voorlopers kan wees van wat ek gedoen het in In die Geheim van die dag . Ook van die laaste – langer, narratiewe – verse van Peter Blum kan miskien spoke wees.
Interessantheidshalwe, ’n voorbeeld van die klankpatrone , in die eerste reëls van “Die besoeker”, soos ek dit sien:
Maar helaas, dis moontlik om gedigte te skryf sonder enige van hierdie soort klankpatrone. Kyk byvoorbeeld na die volgende gedig van Charles Bukowski:
ice for the eagles
I keep remembering the horses
under the moon
I keep remembering feeding the horses
sugar
white oblongs of sugar
more like ice,
and they had heads like
eagles
bald heads that could bite and
did not.
The horses were more real than
my father
more real than God
and they could have stepped on my
feet but they didn't
they could have done all kinds of horrors
but they didn't.
I was almost 5
but I have not forgotten yet;
o my god they were strong and good
those red tongues slobbering
out of their souls.
Die gedig steun amper uitsluitlik op ’n lewensgetroue “colloquial metre” (spraakritme) en enjambement.
Wat my beelde betref kry ek kohesie op byvoorbeeld die volgende wyse: die beelde eggo mekaar herhaaldelik, maar nie opsigtelik nie. ’n Voorbeeld, uit “Teen die liefde”:
Poplappie Zeus, Moedertjie Son,
jy was my Pantheon gefotostateer
en deur die wind tot lewe gewaai;
nou flapper die verrinneweerde tempel
die ene vlermuise.
In die eerste strofereël is daar bindweefsel tussen Zeus en Son en Pantheon en tempel wat mekaar eggo. En lappie eggo in papier (implisiet) en verrinneweerde en flapper en gewaai. Die beeld wat die leser moet sien, is van ’n tempel wat so “fladder” van die vlermuise dat dit lyk soos ’n papier wat in die wind waai – ’n papier met ’n tempel op gefotostateer.
Maar hoewel ek veel aandag aan die klankaspekte gee, is my gedigte eerder beeld- en verbeelding-gedrewe.
2. Ek wil glo dat jy 'n hengse verbeelding het. Wroeg jy ooit oor 'n gedig?
Ek wroeg beslis, gedurig, selfs tot na publikasie en ek niks meer daaraan kan doen nie. Maar alles begin by ’n flits, gewoonlik van ’n beeld of ’n idee, of ’n vae idee van ’n paradoks wat iewers buite woorde om lê.
3. As jy jou woorde op papier neergesit het, verander jy ooit weer daaraan? Behalwe vir spelling ens. Voel vir my asof jy deurmekaar kan raak as jy dit
sou doen! Nie al jou gedigte is soos in die voorbeeld by vraag 1 nie, maar
ek lees dit in die meeste van jou ander gedigte so.
Antoinette, ek verander dikwels aan reëls, gewoonlik omdat ek na ’n rukkie daarna kan begin kyk soos ’n leser – dan sien ek hoe maklik dit alles verkeerd verstaan kan word. Hoe moeiliker die beeld, hoe eenvoudiger moet die reël kom. Maar ek dink al die veranderinge is maar om nader te kom aan daardie eerste “flash” wat ek gehad het. Tog moet mens onthou, elke digter skryf anders – sommige skryf maar net en kom langsamerhand by die een of ander bindende idee uit.
4. Hoe lank skryf jy al en handhaaf jy dieselfde woordgebruike soos in In
die geheim van die dag? Het jy nog ander bundels gepubliseer?
Ek skryf nie net gedigte nie, maar het die ander goed nog nie voorgelê nie. Ek het op ouderdom 10 begin skryf – wou my eie biblioteek begin – al die boeke deur my geskryf, natuurlik, dan hoef ek hulle nie te bestel nie. Dit was nadat die trein (nie ’n skaalmodel nie!) wat ek in die agterplaas uit appelkissies wou bou, nie uitgewerk het nie.
Ek dink daar was ’n groot sprong vir my tussen my eerste bundel en hierdie een. Ek dink ek het so begin skryf so met die laaste gedigte in my vorige bundel (1995). Sien byvoorbeeld “Vlugtelinge” in Groot Verseboek 2000.
5. Geniet jy "woorde" eerder as om jouself in 'n "gedigtelike denkwyse"
weer te gee? Maw pen jy jou gevoelens neer soos dit in jou kop opkom en
werk vandaar aan die volgende reël, of "beplan" jy dit? En aangehaak hieraan, hoeveel gedigte skryf jy op 'n dag?
Ek hou nie so baie van gedigte wat soos gedigte lyk nie. Hoe meer die gedig lyk asof dit “nooit geskryf is nie” en uit die lug gegryp is, hoe beter. Die poëtikaliteit moet eers by nadere beskouing blyk. Dis in hierdie opsig waar ek dink ek die skerpste afwyk van my eerste bundel. Ek wou gedigte skryf wat nie ’n fokus plaas op die retoriese middele nie. Maar dis dikwels die moeilikste soort gedig om te skryf. Al die dinge wat lyk asof hulle sommer net kan gebeur – spontaneïteit, eerlikheid, ens – is dinge wat painstakingly gemáák moet word. Vreemd om daaraan te dink: in letterkunde is daar niks wat meer gemáák is as júís iets soos “eerlikheid” nie.
So, ek probeer na aan die een of ander oorspronklike gevoel of impuls bly, maar beplan voortdurend hoe ek dit kan oorbring sodat die leser dieselfde ervaring kan meemaak asof dit nie bemiddel is deur woorde nie.
Ek publiseer nie baie bundels nie: sover net die twee, en een Engelse een wat aan die kom is (die vertaling van In die geheim van die dag). Saam sal hulle egter meer as 300 bladsye gepubliseerde poësie beslaan. En ek skryf nie gedigte “op ’n dag nie” maar – as ek gelukkig is – in ’n jaar. Veral met die narratiewe verse in Geheim … daaraan het ek oor ’n tydperk van vier jaar gewerk.
Die allerbeste wense met jou eie skryfwerk, Antoinette!
Mooi loop
Charl-Pierre |