Archive
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Katvrou en die digi-kamera in my kop

Deborah Steinmair

Wie is Katvrou? Sy's die beskermheilige van Afrikaanse musikante. Sy's 'n eietydse legende. In 'n wêreld vol onverskilliges, louwarmes, skouerophalers en mense wat gereeld "so-so" en "cool" sê, is sy 'n aficionado, 'n fanatikus, die ware jakob. Haar koker is vol woorde. Haar oë gloei soos Charka-brikette. Sy projekteer baie lig, haar haarpunte vibreer soos voelhorings. Op haar stuitjie is 'n tattoo wat sê: mainnn!

Jy tref Die Kat aan waar daar musiek gemaak word, soos by die afgelope naweek se Up the Creek-fees naby Swellendam, op musiekwebwerwe, op SêNet. Haar psigedeliese webwerf (www.katvrou.co.za) kombineer haar twee passies, plaaslike musiek en katte. Daar sien jy dinge soos die son wat deur Mystic Miaau en Miss Mandy se ore skyn, Bra Piet se hande, Stoutie die onhebbelike kat van Kobus!, en baie meer. Daar's 'n energieveld rondom Katvrou omdat sy momente in musiek teen 'n hoër frekwensie as aardlinge kan beleef en dit boonop verwoord dat dit jou asem wegslaan. Sy het 'n swak vir musikante. Sy maak hulle sterk. Ons herken mekaar in die verbygaan as synde van gekompliseerde, asimmetriese planete.


Al wat die alledaagse vir my draaglik maak, is 'n handvol mense wat ook die pas en 'n paar skroewe makeer. Ek herken hulle in die verbygaan en op die een of ander manier beland 'n mens altyd weer saam op wilde venues. Soos blink, blink Zani van LitNet wat altyd mooi tande wys in matelose entoesiasme, wat deur sewe sale en sewe sluiers kan dans (Leonard Cohen het van haar gesê: "Whose head is this that she's dancing with on the threshing floor?"). Soos Riana Wiechers 'n bombshell brunette met 'n wye mond wat sterker in fokus is as ander mense, wat die quirky, quick, skitterende aura van 'n Seinfeld-karakter met haar saamdra. En Bloutjie (of so verbeel ek my dat hy hom aan my voorgestel het die aand toe my kop ventileergate geskiet het) Katvrou se sidekick (links op die foto) - 'n musikale tuindwerg op vakansie. Die ander persoon op die foto, met haar ken op Katvrou (fuck diesel) se skouer, is die liefdeskind van Mahatma Ghandi en Moeder Teresa. Sy het pas 'n piering room opgelek en daar is kiewe in haar kop. Die mens met wie Zani 'n grappie deel, is 'n Belangrike Persoon van Huisgenoot, Elmarie Potgieter.

Nou, die digi-kamera in my kop. Sy battery word ook maar pap en jy moet gereeld download, maar die memory is eindeloos. Die images is gewoonlik effens uit fokus. Onverklaarbaar waarom 'n gegewe beeld vasgelê word. As jy mooi kyk, kom 'n sekere ritme na vore, maar 'n mens kan dit nie neurie nie. Die galery is 'n sameflansing van die terloopse.

Iets blink in die son. Dis 'n memory stick wat in die vlakwater dobber. Kyk, dis my slikgroen oog, fyn beaard. Tel dit op en in jou palm word dit 'n kaleidoskoop met 'n Savannah-logo: Up the Creek Musiekfees. Skud dit, tilt, hou teen die lig. Korrel jou pupil na die krale en spieëls. In 'n waas van stof, gras en pienk rook hang Katvrou aan die rand van die stage en zap haar mojo na die muso's, albei arms omhoog, duim, wysvinger en pinkie in die lug, haar hare elektries soos Xena the Warrior Princess. Sy vang jou oog en beduie met twee duime: check my nipple stand.

Skud. Vrydag. Skemer daal oor stowwerige kliprante en plate tweemantente. Die Breederivier blink soos gestorte melk. Saam met vriende wat heelwat jonger is, trek jy onkruid in jou longe. Op die plek skiet jou kop reg rondom ventilasiegate soos 'n vlieënde piering, kiewe soos 'n vis. Moenie meer skud nie, dis 'n wakende nagmerrie. Jy loop ou kennisse raak en kan nie 'n woord uitkry nie, slegs dubbeld vou in geluidlose histerie. Jy wieg onder 'n tentdak op die woede van Fokofpolisiekar, maar die blasfemende seuns maak jou bang. Hulle dawer in jou maag en dreig om deur jou vel te bars soos 'n buiteruimtelike transmutasie. 'n Rooi liggie begin knipper: "DANGER: System Overload". Sweef tent toe en gaan kruip in. Skud. Van daar af is jy sober en skoon en beleef 'n totale trip van 'n naweek. Dit weet jy al vandat jy 20 is: vir party van ons is die werklikheid so verblindend blink, so gevaarlik gekantel dat ons liewer nie nog hoër moet mik nie.

Skud. 'n Skare waad deur die water soos 'n sektariese doopsessie in die Jordaan. Die water louwarm en lyfsag. Die middeljarige boere-sigeuner wat by die schwarma-stalletjie kook, skud hom uit op die wal. Sy silwergrys hare hang tot op sy blaaie. Hy is poedelkaal. Agtermiddag kry jy 'n lang, silwer haar in jou falafel en onthou weer die bruin peul wat in die oggendson geswaai het.

Skud. 'n Vreemde vrou, onvas op haar voete, sê vir jou: "You remind me of a friend of mine." Teen die stalmuur skuins voor die verhoog kom deel Katvrou vir 'n rukkie jou matraskussing. Haar taal is musiek: "Hoe voel jy oor die Piet en Johnno-sage? My hart is stukkend," laat val sy na aanleiding van niks. Sy wys die carpet burns op haar elmboë van leun op die plankverhoog. "Ja, live music ís maar seks," sê jy. Die Kat steek haar tong uit.

Skud. Dis donker. Jy hang aan die ander kant van die verhoog, regoor Katvrou. New Porn is besig om die skare te betas. Heavy petting. Arno Carstens is eetbaar en in jou gesig, maar dis die meer ambivalente Albert Frost, 'n ingedagte elf met snare, in die mond 'n ongeërgde sigaret wat hy nooit ash nie, wat jou kielie. Altyd gereed om te leer, begin jy jou kop nes Katvrou s'n swaai: intens en nadruklik. Iets gebeur. Veral as jy dit regkry om jou oë deur die hele rewolusie oop te hou, dring die musiek jou are en elke gewrig binne. 'n Luidspreker vlakby jou regteroor. Hier en daar bring 'n hoë noot 'n vlymskerp herinnering aan kleintyd se oorontstekings.

Skud. Daar's te veel images. Jy flans dit saam in 'n soomlose droom: Freshlyground se koffieboon-diva met houding, Valiant Swart geflank deur Anton L'Amour en Schalk Joubert, Dan Patlansky met die latlyf, grinterige stem en vingerballet. "Ek het sewentien keer gekom," sê Katvrou van Patlansky se kragtoer. Vier sexy girls op snare, Muse SQ, beweeg soos populiere in die wind. Delta Blue sny die middag oop soos 'n blik sardiens. Lywe leun, wieg en du teen joune. Ja, dis libidinaal, soos 'n tentkerk.

O, plop die oogbal maar terug in die rivier as jy klaar gekyk het, dis waterdig.

Riana het meestal kop en fokus gehou. Up the Creek and Round the Bend. Vlug van voet en blink van oog deel sy haar images met ons.

Up the Creek foto gallery!

Riana Wiechers
is 'n vryskut-musiekjoernalis, redakteur van Musica se interne tydskrif, Sussed, en skryf ook vir die Musica-webwerf, www.musica.co.za.
Riana Wiechers
Jean Meeran

Klik op foto vir vergroting en volledige onderskrif.

ken ons julle? ...

kom nader ...

Uiteindelik ...

Verskoon my gou

Foto-genies

 

Kapitanisme


Sorry, mannetjie


So onskuldig ...


Nie so onskuldig nie ...


Down by the river


Sien my by my kar


Luister, dogtertjie


Dit lyk maar net


Savannafloat


Al die oorlog


Valiant verras die gehoor


As ek

     

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.