Toast Coetzer
Chris Chameleon het anderdag sommer twee albums op dieselfde dag gelaunch -
sy nuwe Afrikaanse Laan-geïnspireerde album 7de Hemel en die Engelse
Shine. Die Kaapse launch is by Rhodes House in die Tuine gehou.
Ek was om een of ander rede nog nooit by Rhodes House nie (ek't agtergekom hoekom toe
'n glasie futlose rooiwyn en 'n vodka & tonic my R40 uit die sak gejaag
het ...), maar dit was 'n goeie venue. In die crowd was 'n spul mense wat die
vorige aand by die Valiant launch in Dorpstraat Teater ook was (beide
kunstenaars word deur Rhythm Records behartig) en die vervaardiger van Shine,
Theo Crous, was ook daar. Corne van The Most Amazing Show was die
seremoniemeester en het vroeg al die meisies ongemaklik laat giggel.
Die eerste helfte van die aand het Chris die Afrikaanse songs gedoen slegs
met sy eie akoestiese kitaar as begeleiding. Ek't nog nie kans gehad om die
album ordentlik te laat draai nie, maar dis al klaar duidelik dat dit 'n
paar netjiese treffers bevat. En met TV aan sy kant sal dié een hopelik vir
hom nog 'n standplaas in die Vrystaat kan koop ... Dis egter die tweede
helfte waarna ek meer uitgesien het, want met 'n ander band as Boo! het ek
hom nog nooit sien speel nie. Sy live band bestaan uit die manne van Plum
(of ten minste die Leicher-broers, Kevin en Warren, op kitaar en bas; ek glo
nie Duncan die drummer is in Plum nie), wat dit kan laat klink asof dinge
links van die normaal in 'n draaikolk van avantfunkrock kan ontaard, maar
toe glad nie (onthou, die Plum-manne was eens in Henry Ate ook). Dat dit
iets anders is, en ons 'n heel nuwe kant van Chameleon gaan sien in sy
Engelse werk, is vir seker. En why the hell not. Kom ons kyk waarheen gaan
dit als. |
|
|