Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die eerste stappe na proe

Pieter du Toit

Soos belowe, gaan ek af en toe probeer om ’n paar wyne saam met kennisse, kenners en vriende te proe en dan die resultate hier weer te gee. Met laasgenoemde in gedagte ontstaan daar dan ’n reeks vrae: Hoe proe ’n mens? Waarvoor nou eintlik iets proe as jy dit net kan drink en dronk raak? “Of om my meisie dronk te kry,” raak ’n skoolseun die ander dag kwyt.

Wat gooi die mense alles by om die wyn na lemmetjies, koeistal, “cooked cherries” en hospitaalkamer te laat ruik? En wat gebeur as ek niks kan ruik of proe nie?

So, sommer reg hier aan die begin, ’n paar dinge oor die groot proe-dilemma wat jou moet gerusstel: Soveel here, soveel wette! Ek stel altyd voor dat, soos die lewe, jy na almal moet luister, maar haal die raad uit wat vir jou werk en leer om te onderskei wat is die beste. Maar pasop vir die spekskietende bullshitters.

Ek sit hier met ’n beklemming, want elke klub, gilde, opleidingskool, wynmaker, wynmeester en meester van wyn het ’n ander manier van doen. Tog is daar ’n goue draad wat dwarsdeur loop en is daar wel die regte manier van doen en dink oor proe. Maar sodra ek dit sê, weet ek dat ek rigied klink en is dit heelaas nie waaroor wyn gaan nie, iets rigieds. Iets soos ’n ou broederbonder wat sy viagra wegsteek. Ek is, soos almal, deur ander beïnvloed. Ook sal ek soos enige ordentlike wyndrinker protesteer en sê: Ek het nog hopeloos te min geproe om my uit te spreek as ’n kenner, maar ek sal probeer om riglyne verskaf en daarmee saam vir jou en my help om nie die pad byster te raak as ons gevra word om ons mening te lug as ons gekonfronteer word met die een of ander bottel wat iemand spesiaal vir ons skink nie. Hiervandaan aan is dit dan ek met my subjektiewe mening …

Die blote uitdrukking op baie mense se gesigte as jy vir hulle sê daar is strooi, gras, vrugte of sampioene te ruik of te proe in ’n wyn, is vreesaanjaend. Ek dink nie dit is vir hulle moontlik om te verstaan as jy verduidelik dat daar nie geurmiddels by wyn gevoeg word nie, maar dat die geure natuurlik gebeur. Stap op hierdie oomblik na een van die baie Sauvignon Blanc-wingerde en pluk ’n korrel op twee verskillende plekke aan die tros en proe. Een korrel gaan heel moontlik vir jou soos vye proe, ’n volgende soos vars gras en nog een soos suurlemoene of ertjies, of selfs fynbosagtig. En dit is wat ek sukkel om oor te dra: moenie druiwe dink as jy ruik nie, want dan gaan jy nie verby die gedagte kan kom dat daar iets anders in die glas is nie. Vir sommige is wyn eenvoudig suur, end of story. Hoe jy ook al op jou kop tol om die teenoorgestelde te verduidelik, hoe meer bly hulle sug: Suur!

Die eerste wyn wat ek gedrink het, was, gegewe my ouderdom, een van daardie wit etikette met ’n bruin tros en groen blaarskets op. Vir jare is dit by ons aan huis (en honderde ander Afrikaanse families) op ’n Sondagmiddag saam met die boud of hoenderpastei voorgesit. Ons het nie in ons alledaagse lewe omgegaan met ander natuurlike wyne nie. Nou, terugskouend, wil ek darem graag die volgende kwyt raak: met die kennis wat ek vandag het, besef ek dat daar eintlik niks is wat die mengsel van kos op ons bord beter sou komplementeer as juis daardie mondvol nie. Onthou dat ons gaan sit het by ’n swaarbelaaide tafel wat gekreun het van rys, vleis, aartappels, wortel-, boontjie-, beet en gestoldekomkommerslaai nie. Al hierdie geregte is afgesluk in minute, sodat almal, na twee los winde, lekker kon gaan slaap om ’n uur later meer winderig te verskyn vir peppermint crisp-tert en koffie (Ja, my ouers was van die eerste brawes wat weggebreek het van melktert.)

Deserdae geskied etes oor ure en verskyn die vonkelwyn en droë wit reeds as jy oor die drumpel stap. Nog later is daar ’n keuse tussen wit en rooi, hout en oud, chard en cab. Gasvroue is ook meer bewus van die verskeidenheid en keuses. Hiermee verwyt ek nie duisende ouers nie, maar ek is dankbaar vir verandering. Die mens is nou maar eenvoudig lui! Self is ek lief vir twee Italiaanse restaurante in Stellenbosch en neig min kere om iets nuuts te gaan probeer.

Die reuksintuig is een van die sekuurste en mees fynontwikkelde sintuie, maar omdat dit nie die “obvious” een is nie, het hy lui geraak, baie lui. En die vraag is, oefen ons ooit ons reuksintuig? Ons leer wel asemhaal, eet, voel en proe, maar niemand leer ons ruik nie. Ruik loop hand aan hand met die herinneringselle. Ons weet altyd waar ons was as ons iets ruik: Ouma se kombuis, pa se hospitaalkamer, ma se varsgebak, reën op varsgesnyde graan in die Overberg en sweet van watter lewende wese in watter omstandighede ook al. (Ja, dit is alles daar in die glas, glo my maar.)

So as jy, die voornemende proeër, jou kop eers verby die vooroordele en vrese kan kry, vind ’n stil oomblik, neem ’n glas, gooi die aanbevole proehoeveelheid en soek ’n paar geure — probéér net, dit is daar. Skielik sal die ligte aangaan.

Enige wynmaker, dosent met betrekking tot wynwaardering, proekamerpersoon of oudliefhebber van wyn het ’n dure verantwoordelikheid as hy of sy ’n groentjie in die wêreld van wyn inlei. Stap een is: kry daardie persoon om baie kalm te word en te fokus op sy of haar neus: 100 persent. Vir die ses jaar wat ek met wynopleiding te doen gehad het, wou ek elke keer my moer heeltemal verloor as die dosent die studente gevra het wat dit is wat hulle ruik as hulle die glas vir die eerste keer in die proeklasse na hul neus bring. Daar was altyd die een drip wat gegil het: “Ek ruik druiwe!” Dan het die grootste deel van die klas uitgebars van die lag en die drie of vier wat iets te sê gehad het, was verlore. Maar sien, hier gaan ek nou: rigied!

Ek raak bitterlik mismoedig as iemand sê skink sommer enige wyn in enige glas vir enige geleentheid. Natuurlik is dit waar vir die kere as jy tot op die hoogste bergpiek in die wêreld geklim het en jy wil dit vier met die duurste bottel vonkelwyn wat jy met moeite saamgedra het en jy het nie die beste glase saamgedra nie. Ja, dan mag jy seker uit ’n plastiekglas drink. Ook dalk as jy een laat somersmiddag by Margate, Struisbaai of Strandfontein teen die skuld van jou nuwe strandhuis baklei en nog nie Riedels of Spiegellaus (dit is bleddie goeie glasfabrikate, vir dié wat nie weet nie) kan beskostig nie.

En ja, jy mag jou wonderlike blou glase of jou pienk glase of die glase met die bekke wat uittuit na buite of dié wat van herwinde glas deur tien werkloses gemaak is, gebruik. Ek kan jou nie keer nie. Ek is ook lief vir Coke en brandewyn as ek ontspan, en gin en tonic. Laasgenoemde drink ek in daardie glase, of dalk van daai mooi lae jellie met styfgeklopte Orley whip en ’n cherry — dit lyk ook so mooi daarin. Maar ’n yskoue witwyn wat reg gemaak is, en ’n goeie rooie wat smeek om gedrink te word na dit jare in die bottel en/of vat was en gemaak is in die beste jaar deur ’n goedbekroonde (bedeel is iets anders) wynmaker van die beste landgoed, verdien nie ’n pienk glas met ’n omkrullip nie.

Dink ’n bietjie so daaraan: hoe kan hy nou sy mooiste en ware kleure onder sulke omstandighede vir jou wys? Afshow vra tog om ’n bietjie flair. Hoe sou jy daarvan gehou het as jy jare lank oefen aan ’n sonate of ’n Antjie Krog-voordrag of bobotieresep of die soort lyf wat porn-kykers moet laat swymel en die eerste beste swyn daag op vir jou produk en verlaat jou poging sonder dat iets opwindend in hom of haar gegroei het?

So aan al hierdie mense wat so “pc” optree en sê dis OK, gebruik maar enige glas: Jammer, ou pel, ek verskil van jou — heeltemal. Ons het te lank na mense geluister wat alles ge-okay het namens ander — té lank. Gaan koop daai mooi dunsteelglase met die toe bekkies, en gebruik die ander vir ice-cream-en-hot-choklit-sous of Oros-koeldrank as jy tuinmaak. Hulle lyk ook mooi in een ry met ’n blom in elkeen gesteek.

En nou het ek al weer my storie verloor, en dit net ter inleiding. Volgende keer skryf ek oor konsepte, aspekte en woorde betreffende proe, die meer belangrikes soos kyk, ruik, proe, weer eens glase, temperatuur, skink, lig, lug, hout, jare, ensovoorts …

Tjorts!



LitNet: 17 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.