Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Deel II: Die trosse en korrels van vyf wynstyle, van tak na tafel in een jaar

Pieter du Toit

Soos belowe, skryf ek vandag oor die omgewing waar die wingerdstok hom (haar?) elke dag bevind op die vyf plase. Ons vind ook uit wanneer word “ons” druiwe geoes in die volgende paar weke. Ek begin ook om terme te gebruik waarmee die wynindustrie vertroud is, maar wat onbekend is aan ons, die drinkers.

Hierdie week se skrywe is lank, juis om jou na die plaas te neem en om die gevoel te kry van wat daar aangaan.

Ligging
In Suid-Afrika vind wingerdbou meestal om die 34° suidelike breedtegraad plaas. Die weer sou ons kan beskrywe as ’n gemiddelde Mediterreense klimaat. Die meeste van ons plase is binne die winterreënvalstreek geleë, dus koue winters (darem nie soos Europa s’n nie!) en droë somers (dink Wellington, Paarl en Karoo!). Die Wes-Kaap is wel effe kouer as wat verwag sou word en nie al die edelwyne kan hier met gemak gekweek word nie. Soos wat die kraai vlieg, is daar maar min van die sogenaamde Kusstreek-plase wat nie binne 50 kilometer van die see geleë is nie; met ander woorde, hulle kry heerlike seebriese/-winde van die kus. Reënval vind plaas tussen Mei en Augustus (en ja, ook as die Gautengers hier aanland vir die somervakansie!). Daar is ander wynstreke wat droër is, maar vir ons doel bly ons binne die Kusstreek. Ons mag nie die twee oseane vergeet nie, veral nie die yskoue Benguela met haar seewinde van die Atlantiese Oseaan nie. Onthou dat die area by die draai van die landkaart, naamlik Hermanus en Elgin, nog steeds Atlantiese Oseaan-invloede kry. Die ouens wat deserdae so vreeslik aanplant in die Elim-, Stanford- en Bredasdorp/L’Agulhas-omgewing kan seker begin praat van die Indiese Oseaan-invloede, maar ek sou raai, nie helemal nie.

Klimaat en grond
Die eerste wynterme aan die beurt is: makro-, meso- en mikro-klimaat. Die makroklimaat is die groter area waarbinne ’n streek lê en ’n plaas sou (altyd) in so ’n makroklimaat val. Die mesoklimaat is die blok of kleiner area waarin die wingerd groei (die spesifieke groepie rye) en die mikroklimaat is dit wat om die wingerdstok plaasvind. Met ander woorde, die grondtipe om die stok en hoe dit opgelei is om weersomstandighede te ontvang.

Suid-Afrika het ou-ou gronde, want soos almal wat glo aan die bestaan van miesies Pless, kan ons met tereg aanspraak maak op “the cradle of mankind”. Met vele valleie en riviere, berge en vlaktes bestaan daar honderde mesoklimate; daarby voeg ons nog verskillende winde en sonvalle, see-invloede en unieke seisoene se invloede op daardie klein area. Tot ’n groot mate kan die boer nou begin om sy eie mikroklimate te skep deurdat hy die grond moet leer ken en sy druiwe op ’n spesifieke manier moet oplei om maksimum of soms selfs minimum voordeel te trek uit die opleiding van die stokke.

Die van ons wat voetslaners van die blou-blou inheemse berge en vlaktes is, sal weet hoe jy jouself nog die een oomblik in ’n snikhete grasvlakte kan bevind en skielik is daar ruie bosse om jou en dan sommer ’n grote woud. As die boer hierdie tipe kennis van sy grond het, strek dit tot sy voordeel en kan hy dit optimaal vir sy boerdery benut. Dit het komplekse wyne en metodes tot gevolg, maar later meer daaroor.

Let op, ’n groter plaas soos Simonsig gaan heelwat mesoklimate hê, want die winde, berge, klowe, dalk ’n rivier, die son, bome en verskeie ander dinge kan dit beïnvloed. En moet ook nou nie dink dat op die kleinste plaas van die vyf wat ons besoek, naamlik De Meye, alles dieselfde lyk nie, aikôna! Sê nou maar ’n “plasie” bestaan uit ’n groterige koppie en die boer plant reg rondom die koppie in al vier windrigtings, dan vermoed ons reeds verskeie invloede. Nou praat ons nog nie eers van al die grondsoorte en watter druifsoorte aard waar nie.

Daar is verskeie grondsoorte in die Wes-Kaap. Drie van hulle staan pa (en ma) vir agt ander. Ons het graniet (pa van Tukulu, Hutton en Clovelly), skalie (pa van Swartland en Glenrosa) en laastens sandsteen (pappa van Longlands, Fernwood en Estcourt). Voor 1940 (sommige ook nog lank daarna) het die meeste boere net bloot geplant, maar deserdae sal die meeste nie sommer ’n stok in die grond steek voordat hul weet wat die fisiese en chemiese samestelling van die grond is nie. Hier dan die goeie nuus: jy kan daardie grond verbeter of aanpas as dit nie heeltemal na wense is nie, dit wil sê dit het baie maal tekorte.

Nie almal is bevoorreg om suiwer oorspronklike grond te bekom nie. Is daar nog? Ja. Ry in die Boland rond en sien hoe lappe aarde teen berghange een seisoen oopgevlek word en die volgende seisoen staan daar heldergroen wingerde. Soms het daar in elk geval net Port Jackson en Black Wattle gewoeker. Iemand wil dalk iets rep oor die “arm” Suid-Afrikaanse grond en dit is waar, maar wingerd is ’n gewas wat nie noodwendig van ryk grond hou nie. Snaaks genoeg is druiwe soos mense: ’n klein bietjie sukkel en dit kry karakter! Ja-ja, dis weer ’n ander storie.

Oor grond, die tipe, die inhoud, of dit water moet hou of dreineer, sal ek later meer sê, maar kom ons kyk net effe na opleidingsmetodes.

Opleiding
’n Wingerdstok bestaan uit wortels, ’n stam, mikke, takke, sytakke, tentakels, blomme, blare en trosse met korrels. Hierdie lot beïnvloed mekaar vreeslik en die boer weet dit, daarom moet hy ingryp om die beste werking van die korrels en trosse te kry. Een van die stappe is snoei. En nou ignoreer ek duisend stappe tussenin en neem jou reguit na die opleiding, want later vanjaar gaan ons by die meeste van die duisend stappe stilstaan.

Stokke word opgelei om die volgende redes:

- om peste en plae te verminder
- dat meer blare moet son kry
- vir ’n beter kwaliteit tros
- om fisies makliker te oes (plukmetodes), en
- om die trosse van die grond af te hou.

Soos wat ons nou elke plaas besoek, sal ek die soorte opleiding vermeld, maar nie bespreek nie, want dit raak te tegnies. Onthou net dat elke boer, na aanleiding van jare se ondervinding, of op aanbeveling van sy onderskeie konsultante, of danksy die druifsoort, ’n opleidingsmetode kies wat die druif na waarde sal neem.

Terroir
Dan is daar een woord wat ek nog nie gebruik het nie en is dit hier, tussen al die tegniese dinge, vir my die mooiste woord en die een wat jy moet onthou: Terroir!

Terroir is ’n Franse woord wat die posisie van die wingerd aandui, maar ook al die ander invloede soos weer en grond, die wortelstok, en die druifsoort se aanpassing by sy mikro-, meso- en makroklimate. (Let wel dat ligging iets anders is.) Die internasionale Wynbybel, The Oxford Companion to Wine, stel dit so reg:

 ... the total natural environment of any viticultural site. No precise English equivalent for this quaint-essential French term and concept.

Nou het jy ’n nuwe “buzz word” in jou gatsak om jou status in die regte kringe te verhoog. Onthou nou, terroir pas net by wynterme en kan jy nie praat van Bloemfontein, Durbanville of Pretoria as jou “terroir” nie.

Die plase
Nou eers iets oor die plase. Ek het gaan inloer en die volgende dinge vir die week uitgevind:
1) Watter opleidingstelsels word aangewend vir elk van die kultivars wat gepluk gaan word?
2) In watter tipe grond groei elke kultivar?
3) Word die wingerd besproei?
4) Wat is die helling van die wingerd?
5) Die skatting van elke boer wanneer elk van die kultivars geoes gaan word.

Ons gaan kyk of hulle reg was. Interessante dinge wat ek gehoor het — soos dat vanjaar se oes in die meeste gevalle amper twee weke later is as verlede jaar.

  • De Meye

    De Meye is die plaas met die kleinste produksie wat ons gaan volg met ’n totale 60 hektaar onder druiwe. Vir hierdie doel volg ons die Cabernet Sauvignon en die Shiraz vir die De Meye Trutina ’04.
    1) Die Cab word opgelei volgens die verlenge Perold-stelsel, asook ’n stelsel wat deur die Nieu-Seelandse wingerdboukundige Richard Smith ontwikkel is en vir De Meye deur ’n Suid-Afrikaner, Paul Wallace, aanbeveel is. Die Shiraz word ook opgelei volgens die verlengde Perold-stelsel. In beide gevalle word die druiwe van verskillende blokke uitgesoek en verskil die rye se wydte ook oral.
    2) Wat die grondsoorte van die verskillende Cab-blokke betref, kry ons die een lot in sanderige grond wat op klei rus en die ander lot bevind hul in ’n diep leem met ’n gruisstruktuur. Die Shiraz groei ook in diep leem met ’n gruisstruktuur.
    3) Van die wingerdblokke word besproei met ’n treklynsprinkelaar-stelsel, maar sommige jare is besproeiing nie nodig nie. Die Shiraz maak ook van laasgenoemde gebruik, maar daar is ook drupbesproeiing in van die blokke. 4) 80 persent van die Cab se helling is liggies suid en die orige 20 persent kyk suidoos. Die Shiraz kyk weer noordwes.
    5) Philip en sy pa, Jan, skat dat die Cab middel-Maart geoes gaan word en die Shiraz aan die begin van Maart.

  • Asara

    Asara het 120 hektaar wingerd. Ons volg die Chenin Blanc en Sauvignon Blanc-kultivars omdat een van hulle die Asara Edellaatoes ’04 gaan word.
    1) Beide die Chenin en die Sauvignon is opgelei met die vierdraadstelsel.
    2) Die Sauvignon Blanc bevind hom in ’n grondtipe met die naam Avalon, terwyl die Chenin Blanc groei in Tukulu Duplex, ’n medium-sandgrond met swaarder klei na onder.
    3) Albei druifsoorte word op twee maniere water gegee: drupbesproeiing en oorhoofse besproeiing.
    4) Die Chenin kyk suidoos en is 220 meter bo seespieël. Daar is ook twee verdere blokke wat laer geleë is en suid kyk. Die Sauvignon lê nog laer teen ’n westelike helling.
    5) Jan verwag dat die Chenin en die Sauvignon vanaf einde Februarie sal begin inkom, maar noem twee belangrike dinge: hulle pluk tot aan die einde van Maart, omdat hy die druiwe uitsoek vir die spesifieke wyn en die druiwe natuurlik MOET ontwikkel.

    Jan is, soos altyd, vol stories en dingetjies — lekker! “Omdat ons nog nie weet watter van die twee kultivars gebruik gaan word vir die Edellaatoes nie, veroorsaak dit onvoorspelbaarheid. Selfs onheilspellend,” sê hy. Jan praat ook die hele tyd van “Steen”, ’n term wat veral by die ouer mense bekend is. Steen is die “ou” naam vir Chenin Blanc, nog steeds die grootste aangeplante druifsoort in Suid-Afrika. Baie interessant om te weet is dat die 2002-Edellaatoes van ’n Sauvignon Blanc gemaak is en die 2003 van Chenin Blanc. Die 2003 word om en by hierdie parstyd vrygestel.

  • Delheim

    Op Delheim is daar 150 hektaar wingerd. Hier volg die feite oor die Pinotage wat gebruik gaan word vir die Delheim Pinotage Rosé ’04:
    1) Hier word gebruik gemaak van een van my geliefkoosde opleidingstelsels omdat die woord so lekker klink: bosstokke, of in Engels, bushvine. Ek dink altyd aan ’n klomp reuse wat van hulle groen pruike ontslae geraak het as ek aan bosstokke dink — geen opleiding nie, net so ’n bos wilde hare wat uitloop.
    2) Die pinotage groei in Oakleaf, ’n sanderige leem.
    3) Die blok wat ons gaan volg, kry drupbesproeiing in veral Desember en Januarie.
    4) Die wingerd is te vinde op die plaas Delvera, langs ’n dam, en die helling is noordwes.
    5) As alles goed gaan, staan die span op Delheim reeds in die week van 26 Januarie reg om te oes, maar kom ons kyk&#nbsp;...

  • Simonsig

    Van die 205 hektaar wingerd op Simonsig, volg ons die Pinot Noir-, Chardonnay- en Pinot Meunier-kultivars. Laasgenoemde gaan ’n cap classique, nl ’n Simonsig Kaapse Vonkel ’04 word.
    1) Al die druifsoorte is volgens die verlengde Perold-stelsel opgelei.
    2) Die Pinot Meunier kom in twee grondsoorte op die plaas voor, en let op die redelik tegniese korrektheid wat hulle verskaf het: Tukulu 2110 (dit is die dominante grondvorm en familie) asook Sterkspruit 2100 (subdominante grondvorm en familie). Die Pinot Noir groei weer in ’n oorwegende graniet met skalie oral te vinde. Die dominante grondtipe is Avalon. Dan bly oor die Chardonnay en dié groei weer in rooigrond en skalie, maar hoër liggend is dit Hutton, Avalon en Swartland.
    3) Water word verkry van ’n mikrospuitstelsel en drupbesproeiing vir die Pinot Meunier, net drupbesproeiing vir die Pinot Noir en drup- en oorhoofse besproeiing vir die Chardonnay.
    4) Die Pinot Meunier is te vinde in ’n golwende landskap aan die westekant van die plaas. As jy op die Koelenhofpad na Stellenbosch ry, sal jy dit sien. Die blok neig oos. Die Pinot Noir is weer teen ’n suidwestelike helling en die Chardonnay teen ’n westelike helling.
    5) En op Simonsig (soos Delheim) oes hulle reeds. Daaroor volgende keer baie meer.

    Simonsig het vir my van elke sone ’n baie goeie uiteensetting gegee van die reënval vir die area genoem: Klimaatsone 7, soos verkry van die Computing Centre for Water Research van die Universiteit van Natal (vanaf 1 Januarie amptelik die nuwe Universiteit van KwaZulu-Natal).

  • Lourensford

    Van die beoogde 500 hektaar wyndruiwe op Lourensford staan ons vir eers net stil by die Sauvignon Blanc ’04.

    Met my besoek aan die plaas was Philip reg vir my. Hier dan die kort en kragtige inligting.
    1) Die Sauvignon dra sy trosse met behulp van die verlengde Perold-stelsel, ’n agt-draad.
    2) Die Sauvignon groei hoofsaaklik in Tukulu.
    3) Drupbesproeiing word gebruik.
    4) Die wingerd groei teen ’n suidelike helling.
    5) Philip probeer sekuur wees en voorspel as alles goed gaan, dan oes hulle die druiwe in die laaste week van Februarie.

    Die Sauvignon Blanc wat ons hier gaan volg, is ’n eerste oes/drag, daarom is dit vir my baie opwindend en hou ek duim vas vir interessante dinge.

    Volgende keer gaan ek drie kort vrae vra:
    1) Die persentasie wat elk van die kultivars wat ons volg, van die totale oes behels.
    2) Hoe oud is die oudste wingerde waarvan “ons” gaan pluk, asook die jongste?
    3) (En vir die eerste maal die groot vraag wat ons in die toekoms elke week gaan vra:) Waar trek “ons” wyn nou op elke plaas?



    6 Februarie 2004

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.