Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tros in die bos (hierdie slag oor ’n organisasie)


Pieter du Toit

Soveel trosse druiwe as wat daar op plase hang, soveel wynorganisasies, -skoue, -verenigings, -toekennings, -beoordelings, -proeë, -uitstallings, -feeste, -veilings en -pryse is daar! Die gastelys raak al langer as jy moet nooi vir die jaarlikse vrystelling van jou nuwe wyne en jy durf nie een uitlaat nie!

Maar soos wat die Suid-Afrikaanse wynmense al slimmer raak en leer hoe om hulle trosse van mekaar te onderskei op sorteertafels — iets wat maar raar was in die verlede — so leer hulle ook om te onderskei in die “organisasie”-wêreld.

Vir lank was ek ’n luisteraar, op die rand van die boord, na die wynwêreld. Daar word baie gepraat, en as jy luister kom jy mettertyd agter wie dit is wat jy kan vertrou. Daar is dié wat jy -come hell or high water — nie kan doodkry nie, ou manne wat nie wil aftree nie en jong manne wat nie besef dat “namedropping” nie nodig is in die wynbedryf nie.

Maar so is daar die groep staatmakers, die ouer garde wat nie toe (én nou) aan bande gelê was en mag word nie. En verder is daar opwindend baie jongelinge wat gatskop. En om die oorgebruikte anglisisme te gebruik, “aan die einde van die dag” is die hart van die wynbedryf tog die boer.

Maar ek dwaal af soos gewoonlik — eers weer t’rug na die organisasies.

Afrikaanse benaminge ontbreek baie maal, omdat die internasionale bedryf werklik Engels is en dit nie sommer sal verander nie.

Ek wil vir die duur van ’n paar paragrawe stilstaan by een organisasie vir wie ek baie respek het en ook omdat hulle werk baie maal bloot van die tafel gevee word deur hardegatte wat (a) dalk nie wil verander nie en (b) dalk bang is vir ’n vrou?

Hier dan my relaas oor Wines of South Africa, soos hulle hulself noem. Ons in die bedryf praat sommer van WOSA, vroeër bekend as Sawsea — South African Wine and Spirits Export Association. Let op dat die relaas my eie is, en soos wat nie een van ons ooit die woorde “subjektiewe mening” kan gebruik nie, is dit myne …

Gedurende 2000 is daar besluit om die ou Sawsea “reg te ruk” en dit af te stof. Die organisasie is geherstruktureer, sodat Suid-Afrika se internasionale naam in ere herstel kon word. Iemand moes ons red van negatiewe invloede en kommentaar, asook van goedkoop en swak Suid-Afrikaanse wyn wat in klein Hollandse hotelletjies verkoop word soos getap uit groot dose met sakke in.

WOSA se doel is uitsluitlik om by te dra tot die internasionale sukses van Suid-Afrikaanse wyn. En soos enige goeie bemarkingsorganisasie bou hulle aan ’n handelsnaam, naamlik “Suid-Afrikaanse WYN”, soos wat “Koop Suid-Afrikaans” doen. Hulle is slegs die voertuig of oorbruggingsfaktor vir ’n Suid-Afrikaanse produk en kan hulle nog steeds nie swak wyne se stop verkoop nie. Helaas, dit gebeur nog. Maar hulle kan wel die boodskap oordra dat daar ook goeie wyne is. Hoe moeilik is dit om te verstaan? Suksesvolle organisasies fokus op hulle missies en wyk nie uit of af nie en dit is wat hierdie span doen.

Hulle teiken is gevestigde (of tradisionele) Suid-Afrikaanse markte sowel as groeiende markte. En dit is hier waar die knoop lê. Hulle behaal al meer sukses. Die veronderstelling is juis dat so iets nie oornag kan gebeur nie. WOSA moet gelos word om ten minste vir ’n ruk lank hulle werk te doen — drie jaar is nog lank nie genoeg tyd om te bepaal waarheen WOSA se werk ons neem nie. Dit is 2004, en juis nou het die bedryf hulle nodig oor vrae soos waar bevind ons onsself binne die internasionale mark midde sterk internasionale mededinging, ’n “swak” rand, en (hoor ek iemand sê) oorskotwyn, maar ook oor ’n swakker toerismeseisoen (dalk weens buitensporige pryse). WOSA het ’n nog sterker emosionele en finansiële arm van die bedryf nodig om op te leun.

Nou is daar diegene wat glo hulle moet ook binnelands die dinge laat gebeur. Duur ondervinding het my geleer dat die randsitters en septerswaaiers wat werklik weet wat die werkers doen, maar yl gesaai is op hierdie aarde. Die Suid-Afrikaanse mark is nié WOSA se missie nie. Binnelands moet ons net ’n slag ophou kritiseer, minder organisasies stig, meer wyn drink, en baklei dat die restaurante ons nie so uitbuit nie. Hoe goedkoper die wyne op wynlyste is, hoe meer gaan ons besoek bring aan eetplekke. Hoe is dit moontlik dat ek die afgelope twee maande net by Pick ’n Pay en Checkers wyn koop? (Net jammer hulle werkers weet so min van wyn — en ek kan net praat van Stellenbosch.) Selfs die plase se wyne is duurder as genoemde winkels s’n. Baie maal ry ek saam met vriende na ’n paar plase vir ’n wynproe-sessie, dan word daar lekker wyn gekoop en draai die stuurwiel na so ’n dag draai vanselfsprekend by die eerste beste restaurant (gewoonlik in die Wynland) in. En skielik die konfrontasie: met die toegevoegde kurkfooi (wat wissel van R10 tot R65) betaal ek nog steeds goedkoper vir my wyn wat ek so pas aangeskaf het. My punt is: Hoekom kos ’n wyn R50 op ’n plaas, R100 in ’n restaurant en R42 by Pick ’n Pay? Ja, ek weet ’n restaurant moet wins maak, maar …

Maar ek dwaal al weer af.

WOSA verteenwoordig elke Suid-Afrikaanse verskaffer van wyn wat wyne uitvoer. Tans staan die getal uitvoerders op die WOSA-poslys kort duskant 400 en onthou André Morgenthal, die mediapersoon van WOSA, dit het net geraak aan 250 drie jaar gelede. WOSA word totaal onafhanklik bestuur van enige verskaffer, groothandelaar (dank die gode hiervoor!) en gôwwermêntsorganisasie, alhoewel die staat WOSA erken as ’n Uitvoerraad.

Wat is dan die sogenaamde tradisionele markte waarvan ek vroeër geskryf het? Natuurlik die Verenigde Koningryk, ons grootste mark. Die VK kry 51 persent van die 100 persent gebottelleerde wyne wat Suid-Afrika verlaat. Ander tradisionele markte is Duitsland, Nederland en België. Die laaste aantal jaar voeg ons by: die VSA, Kanada, die Skandinawiese lande en Japan.

Elke liter natuurlike wyn wat uitgevoer word, beteken 7c-heffing vir WOSA. Maar gelukkig is dit nie al nie en kom fondse ook van die staatsinstelling die Suid-Afrikaanse Wynindustrie Trust (SAWIT), wat in 1999 deur die regering gestig is om verandering in die bedryf te weeg te bring en ons uitvoere van wyn en spiritualieë te bevorder.

Dr Paul Cluver, onder andere voorsitter van Capespan en raakvatter as dit kom by bemagtiging, is die voorsitter van WOSA. En daardie vrou van wie ek gepraat het wat die organisasie lei, is Su Birch (sonder die e). Sy sal nie haar CV vir jou wys nie, maar haar jare se ervaring in die bedryf het legkaartagtig in plek geval as leier van ’n formidabele span by WOSA.

Gaan lees gerus oor WOSA (alles natuurlik in Engels) op hulle webwerf: www.wosa.co.za.

Maar nog beter, gaan ontmoet hulle aan die einde van Maart net voor jy KKNK toe gaan by Cape Wine 2004 soos gehou in die nuwe Internasionale Konferensie-sentrum. Twee jaar gelede het dieselfde uitstalling met beperkte ruimte meer as 500 internasionale agente, wynskrywers en handelaars gelok. Toe was daar 162 uitstallers; nou verwag hulle 253 uitstallers.

Die datums: 30 Maart tot 2 April 2004, en die publiek kan besoek aflê op 1 en 2 April. En as jy eers deur die voordeur is, kan jy bloot dronk word van trots, want dan sal jy ’n raar kans kry om te sien hoe lyk die Suid-Afrikaanse wynbedryf! Vir meer inligting, gaan na www.capewine2004.co.za.

O ja! Moet nou nie al jou wyn by Pick ’n Pay gaan koop nie, die plase bly nog steeds die beste ervaring: trollie vir trollie.

28 Januarie 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.