|
|
Tassies: Dit proe mos eersteklas!Pieter du Toit
Vir my eerste rubriek oor wyn, mense en geskiedenis het ek gaan inloer by Distell (die ou SFW), huidige verskaffer van een van Suid-Afrika se oudste en suksesvolste wynprodukte, Tassenberg. Begelei deur n geduldige werknemer, Johantie, verdwyn ons in die gange van die magtige wynreus om inligting te soek wat vir ons meer van die wyn se geskiedenis kan vertel. Gaandeweg kry ons n prentjie, oor n droom van William Charles Winshaw, stigter van Stellenbosch Boerewynmakery, en sy seun, Bill, wat berge, rugbyspelers en reuse versit het. Gedurende die vroeë 1930s was pa William en boet Bill oortuig dat Suid-Afrikaners nodig had om nog n wynsoort naas brandewyn en soetwyn te leer ken. Hul keuse was n droeë rooi wyn, toeganklik vir knegte en konings. Só begin ure se navorsing vir presies dit: n wyn vir alle vlakke van die samelewing en alle geleenthede. Met die verskyning van Tassenberg is met veel meerderwaardigheid op mense neergesien wat dit gedurf waag het om wyn in n kroeg te bestel. Min wetende dat, nie soveel jaar later nie, hierdie wyn Suid-Afrika se grootste rooiwyn-verkoper nóg sou word. n Paar ou John Platters (die wynbedryf se bybel) het n feit of twee uitgelig. Die res van my inligting kom uit Distell se annale. Maar eers is dit belangrik dat Tassenberg nie met Taskelder, Tasheimer, Oude Libertas, Libertas of Oom Tas verwar word nie. Tassenberg word baie keer Oom Tas genoem, maar Oom Tas is eintlik n wit wyn met n amper rosé-agtige kleur en baie droog. Die John Platter van 1986 berig: A no nonsense, easy swigged down blend that did much to change the taste of the public from sweet to drier wines. Tassies was eers n pinotage-cinsaut-versnit, maar in 1986 het dit geswaai na hoofsaaklik cinsaut met n klein bietjie cabernet. Teen hierdie tyd was dit reeds Suid-Afrika se nommer een rooi wyn. In die Platter van 1987 word verklaar dat Tassies en braaivleis nou sinoniem is. In 1990 se Platter word oor die upmarket-Tassenberg-weergawe berig. In 1992 sn word aangekondig daar is nou vyf verskillende grootte verpakkings en dat n rugby-partytjie ondenkbaar is sonder Tassies. In 1994 berig die Platter dat Tassies selfs by begrafnisse gebruik word. Die 1996-Platter skryf Suid-Afrika se nommer een rooi wyn verkoop nou 500 000 kiste. Maar dit is in die 1997-uitgawe dat ek die volgende lees: Ses miljoen bottels word gedrink, maar die versnit het verander: Let op cinsaut, carignan, tinta en cabernet. Die Platter maak melding van die verskil tussen wyndrinkers en wynproeërs en in die volgende jaar lees ons dat 49 persent van die versnit nou Argentynse wyn is. Die rede: n tekort aan Suid-Afrikaanse rooi. Ook merk ek, so terloops, op dat die Platter nou 396 bladsye dik is, teenoor 1986 se 214 bladsye. n Baie groter keuse dus vir die verbruiker van wyn en mag ek raai, n meer ingeligte verbruiker. In 2000 lees ons dat daar nou nie net Argentyse wyn gebruik word nie, maar ook Spaanse wyn. In 2001 word Chileense wyn ook vir die versnit gebruik en lees die onderskrif op die bottel soos volg: Produced in SA and Argentina and filled in the Republic of South Africa. Dit is steeds Suid-Afrika se grootste skroefkop-rooiwynverkoper. Teen 2004 skryf die Platter bitter min oor Tassenberg en wonder n mens wat sê die verbruiker. Maar eers Distell toe vir nog inligting. Die naam Tassenberg is in 1936 afgelei van Pappegaaiberg, naby die ou SFW-kantore en Adam Tas, n geskiedkundige figuur van die dorp. Soos reeds vermeld, was die wyn n droom van stigterslid William Winshaw en sy seun in die vroeë dertigerjare. Tassenberg het aanvanklik n kurkprop gehad, maar is dit in 1960 verander na n skroefkop en dit het sy mark onmiddellik verbreed. In 1973 is Tassenberg onder die Kellerprinz-reeks geplaas, maar petisies en studente-optogte (ja, jy het reg gelees) het veroorsaak dat Tassies in 1981 sy regmatige plek teruggeëis het as individu by Stellenbosch Boerewynmakery. Tassenberg se vyftigste verjaarsdag in 1986 is gevier met n boetie wat n kurkhoed dra, soos van ouds. Hierdie bottel was so gewild dat in 1989 besluit is om n permanente kurk-reeks te bottel. Dit het egter net tot 1992 geduur. In 1991 is n reserve-reeks bekendgestel. Laasgenoemde het baie goed gevaar en selfs die goedkeuring van die Wyn van Oorsprong-span gekry met n goue seël! Maar teen 1994 is ook dié reeks gestop. Een aand toe ek met my Black Lable in een van die hoekstoele in die kroeg De Akker sit, hou ek dop hoe die kroegman en -meisie elke bottel Tassies eers deeglik skud voor dit aan die kopers oorhandig word. Met afgryse val my mond oop, maar toe besef ek met tradisie stry jy nie en dit is wat Tassies is: TRADISIE! Menige wynkenner het met die produk leer wyn drink en ken. Tassies se pa, WC Winshaw, kan met tereg sê: My droom het waar geword, want hy het die oupagrootjie geword van duisende Suid-Afrikaanse rooiwyndrinkers! Hulle wie se gums geslyp is op Tassies (winegums)! Elke wyndrinker het n Tassies-storie. Hier is twee. n Hele paar jaar gelede het die politikus Paul Sauer se dogter Cato opsluit n fontein laat bou vir n verjaarsdagparty en raai wat kon jy by daardie bron gaan skep het? Tassies natuurlik! En dan is daar die baie ou Transvaalse storie. Duisende liters Tassies is destyds in die Noorde in gellingkanne verkoop om net weer in skoongewaste ou Tas-bottels gegooi te word. Dit is dan gekurk en het n jaar later te voorskyn gekom. En voilà! Verouderde wyn! Lees jy ou nuusbriewe van SFW, besef jy dat dit die wyn was wat bemind en onbemind, oud en jonk, berug en beroemd gedrink het en dat dit inderdaad hele nuwe drink-kultuur tot stand gebring het. Hoe lyk Tassenberg vandag? Volgens die bemarkingsafdeling van Distell is dit steeds die grootse verkoper in die skroefkop-rooi-versnit-klas in Suid-Afrika. Dit bevat 12 persent alkohol. Tassenberg word in die styl van n droë rooi gemaak; daarom mag die suiker nooit meer as 4 gram per liter wees nie. Deesdae is dit in drie verpakkingsgroottes beskikbaar, naamlik die 5 liter-boks (beskikbaar by WP Kelder in Stellenbosch vir R79,95), die 2 liter-kan en die gewone 750 ml-skroefkop vir net R14,47. Tassenberg bestaan steeds uit n cinsaut-versnit en kon ek verdomp nie uitvind wat die res van die inhoud is nie …
Maar ek kan nie help om te wonder nie: Het dit nie dalk tyd geword om weer na daardie versnit te gaan kyk nie? Net dalk maak die 68-jarige oupagrootjie n comeback? Moet nooit die mark onderskat nie, veral nie as hy n kurkhoed dra nie. Dan verdien hy mos n klapsoen? Tjorts, tot later die maand. En drink tog veilig in die feestye …
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |