|
|
n Inleiding tot Tjorts!Pieter du ToitToe ek ses jaar gelede by n Kaapse wyninstelling in volronde Stellenbosch begin werk het, wou ek so graag weet: wat bepaal ritme en wat is die hartklop van n wynkelder? Werksdruk het my weerhou van die antwoord. Teen Sondae het ek Jonkershoek se berge aangedurf, later die Italiaanse koffiewinkel onder in die dorp besoek, en vir Jannie Gagiano uit die hoek van my oog dopgehou terwyl ons twee fyner wesens die koerante fynkam. Ek het altyd gewag op n wyse seën van hom, maar in plaas daarvan was daar altyd n grap wat die muur laat bloos het. Die nuus wat ons nooit Sondae raakgelees het nie, was wynnuus. Want om die een of ander rede gaan dit altyd goed met wynmense! Maar tye het verander! Tydskrifte en koerante het begin skryf oor wyn, goed en sleg. Een mooi oggend met ontbyt stik al wat leef en asemhaal in die wynbedryf in hulle olyfbroodjies en bokkaasblokkies. Michael Fridjhon skryf: Wynmakers gooi geurmiddels by hul wit wyne. Alle hel breek los. Die saak het natuurlik twee kante: Fridjhon het die waarheid gepraat, maar internasionaal moes Suid-Afrikaanse bemarkers wild en woes vure doodslaan. WOSA (Wines of South Africa), Suid-Afrika se wynbemarkingsorganisasie, en n paar van die groot name kon red. Ek glo daar is meer Fridjhons nodig wat vir ons vertel wat gaande is. Maar die wynbedryf het sy edel kant, dalk meer so as baie van die ander bedrywe. Ek sluit nie sodoende my oë vir bemagtiging, swak dooswyn, verkleurmannetjies, te hoë pryse en swak diens nie. Maar toe n dagblad my onlangs bel en vra of ek die name en detail het van (volgens hulle) een van die grootste skinderstories in die bedryf, het ek, soos menige Stellenboscher, geswyg. Die grense oorsteek sal ek ook nie op hierdie blad nie. Hou die bedryf skoon, maak nie saak hoe lekker jy voel na n vol glas op n leë maag nie. Dit is nie my plek om onsekere gistingsprosesse en gekurkte bottels te ontbloot nie. Maar n los tros in die bos so af toe is seker geoorloof? Die term wyn fasineer en lok so baie mense omdat daar onder andere n ryk kultuur aan verbonde is. Haal jy daardie kurk uit die bottel, sit jy met soveel emosie in jou hande dat dit n hele reeks Hollywood-films tot gevolg kan hê: daar is digterlike vryheid, passie, emosie en n oeroue storie uit ryke aarde. En dit nog lank voor jy geskink het. Dit is deeglike beplanning, ure se ontwerp, baie sweet en jare se droom. Jare se ervaring van wyndrink en reis in die Wes-Kaap bring my hier uit, om dit te deel. Veral oor die baie bottels wat wag om gedrink te word, die slegtes (volgens die Kaapse reëls) en die goeies (volgens die Gautengse reëls). Soms as ek wynlyste lees, twyfel ek of ek die enigste brullende stem is agter die druiwegordyn: Is daar lewe na Nederburg en Zonnebloem? Luister ek na sommige kelners se versugting na opleiding en verskeidenheid, dink ek nie daar is iets anders as Graça en Kanonkop te koop nie. Ek aanvaar hierdie reps (verteenwoordigers) het n baie ruimer begroting vir bemarking versus n piepklein skattige ou boetiekplasie. Maar …! En nou weet ek die verteenwoordigers van Graça, Zonnebloem, Kanonkop en Nederburg gaan my aanvat. Spaar my die skrywes. Ek/ons is mal oor julle, maar ek wil ook mal wees oor julle kompetisie. Ek weet ook dat die genoemde vier handelsname bekostigbaar is. Produsente het n plig om te help opvoed. Dwing die groot magtige maatskappye nie dalk die klein plasies om saam te staan nie? Saamstaan is iets waarmee ons, volgens oorlewering, sukkel of is ons bloot net te lui? Ek het eendag gelees dat daar maar min Boelanders was wat destyds aangesluit het by die Groot Trek na die Noorde. Te lui gewees? Dit alles net ter inleiding. Wat is daar in die volgende paar maande vir my om oor te skryf in die wynbedryf wat nog nie gesê is nie? Ongekende baie detail ... vertrou my. Elke week sal ek om die beurt die volgende vier onderwerpe byvoeg: Week Een: Ons gaan inloer by n verskaffer (hetsy ko-op, landgoed of privaat kelder) en/of sy mense. Week Twee: Ek gaan proe met n paar vriende en die resultate hier neerpen: Nuwe en ou wyne, raad en winskopies. Week Drie: Ek gaan gebeure (dagboek) en inligting deel oor die bedryf: Waar is die skoue, wie is al die organisasies? Week Vier: En dan die beloofde tros-in-die-bos: debatte en skindernuus. En dan begin ek weer bo! Binnekort is dit weer oestyd! Ek wou nog altyd weet wat gebeur met daardie korrel vandat dit gepluk word todat dit in my glas drup. Daarom gaan ek vir een jaar lank ses druifsoorte (kultivars) kies, vyf wynmakers se bedrywighede ontbloot en vyf wynstyle volg tot waar dit op vyf verbruikers se tafels beland. Met ander woorde: die wynmaakproses gaan op LitNet gevolg word! Hier is die produkte en name van die vyf produsente by wie ek gaan inloer van Januarie tot Desember:
Vir eers: Tjorts!
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |