Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Steve Hofmeyr
Steve Hofmeyr
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klassieke Klanke: Chinese tenoor op CD
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Mozart 'n Tourette-lyer
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Verbreding - én Shopping and F*cking - is broodnodig

    Steve Hofmeyr* is nie 'n man wat sy bek hou nie; op LitNet des te minder

    Daar is beslis 'n enorme kultuurkrisis en hierdie skrywe gaan nie idealisties wees nie, want ek gun myself eenvoudig nie meer die weelde van simbole wat dit waarvoor hulle eintlik staan, probeer vervang nie. Teater en die kunste, as opper-simbooldraers, moet hul eie plek en rol weer ondersoek.

    Een van die riglyne wat gekom het met die uitnodiging om dié essay oor die Suid-Afrikaanse kunstefeeste te skryf, was "opsetlik hou ons dit so breed as moontlik", wat amper my eie voorstelle ten aansien van die feeste saamvat: Inklusiwiteit. Verbreding.

    Is hierdie nie die dag om te bely dat ons eenvoudig nie die getalle het om ons grootste feeste te wil kaap vir slegs high-brow art nie? Daar is kleiner uitsonderings daarvoor, soos boekefeeste, maar die kunstefeeste het toe gedoen wat ek voorspel het: die plek van die leë burgersentrum begin volstaan. Daar's selfs feeste wat sommige dorpe aan die lewe hou. Is dit wat die kunste wou kom doen?

    Op internasionale verhoë, voor nie-Suid-Afrikaners, krap ek gebruiklik ligte aantekeninge in die kantlyn, sommer so van die verhoog af: die lengte van die applous, die postkonsert-gesprekke oor die stuk, die gewilligheid en standaard van die media en die bereidwilligheid om die onwaarskynlike te verdra en te geniet. Ook die deure wat stiptelik 20:00 sluit en met nie een enkele siel wie se aandag verdeel word tussen die vertoning en die toilet of kantien nie. Die toue buite die Ars Nova sowel as MOMA - 'n museum!

    Dié (amper geneties) gekultiveerde konsertganger is ons (nog) nie beskore nie. Hierdie is nie 'n waarde-oordeel nie, maar 'n stawing van my eerste stelling, naamlik dat die kunstefees in die huidige skisofrene klimaat van Suid-Afrikaans en neuroties Afrikaans wees, 'n baie welkome volksametrek is. Dis immers hoekom ons feeste meer aftrek kry in die dorpies as in die stede en hoekom ons dit daar hou. 'n Volk wat opruk - om veel meer redes as Tsjechov en Breytenbach (en as BB dit weet, sal hy seker terugkom!).

    Hierdie euforie is wonderlik vir die bevordering van ons kultuurtjie, maar ook 'n gerieflike klimaat waarbinne ons kan stagneer; en dis tragies 'n kans wat verspeel kan word, wat ons kan benut om te wys waartoe ons nog in staat is.

    Kommersiële oriëntering
    Broodnodig. Teater is nie meer die enigste vermaak op die platteland nie. Dit voer nie meer die televisie nie. TV staan ook nie meer bakhand rond soos in die 70's nie. Die omgekeerde is nader aan die waarheid. Teater het nog nooit so sleg gelyk langs sy kompetisie nie: die musiekblyspel huil uit sy graf vir gehore soos dié wat 7de Laan geniet. TV en films is los voor in hierdie evolusie, omdat teater tegnofobies is en die eksklusiewe speelveld geword het vir nostalgie en kanon. Dis tyd vir 'n Shopping & F*cking in Afrikaans. Ons doen immers beide goed en ons verwoord dit nog beter.

    Sonder subsidie en 'n infrastruktuur wat voormalige streeksrade Afrikaans kon bied, is die Groot Rasionalisering op ons en sal ons, soos kerke en kulture wêreldwyd, nuwe denkkaders in hierdie dissiplines moet kom voorlê. Die tyd is ryp om teater uit sy verknorsing te help, maar die reëls het/moet verander. Veral vir Afrikaanses. Dis in hierdie klimaat van onsekerheid en afwagting dat ons nie meer gebukkend kan loop onder tradisionele modelle van wat kuns is en hoe ons gaan oorleef nie. Alhoewel onseker, weet ons byvoorbeeld dat die onderwerpe van ons tekste verander - soos struggle- en protesteater se speelgoed wat uit die prêm is - en dat 'n ander establishment (vyand?) geïdentifiseer en gedagvaar moet word.

    Hier is my pleidooi aan kunsjoernalis Thys Odendaal oor bogenoemde kwessies:

    Ter verdediging van die KKNK se Karen Meiring (wat my ook nie altyd uitnooi nie), moet ek notisie neem van die feit dat Thys Odendaal se roskam van die KKNK-model (Beeld Forum, 5 Maart 2003) staan of kantel by sy definisie van die kuns in kunstefees. Kuns is nie slegs vernuwing nie. Dit is ook vernuwing, en nie net 'n platform vir "vars idees" en 'n "waaghalsige skeppingsdrang" nie. Goddank. Die sender-orientated art versus die receiver-orientated art debat is toe nooit gewen nie, en hulle is eintlik maar komplementerende kante van dieselfde munt in die muse se gatsak.

    En ons weet sy pleidooi by die staat vir subsidie gaan op dowe ore val, maar Thys soek twee dinge ten spyt: (i) 'n baie klein fees (dus sonder kommersiële suksesse wat die niewinsgewende "eksperimentele ... proefnemings" uiteindelik subsidieer), en (ii) 'n universele imperatief wat aan gewone feesgangers sal voorskryf wat gehaltekuns is en wat hulle eintlik met hulle geld moet doen. Dit gaan nie gebeur nie. Ek bewonder sy wensdenkery, maar kommersiële oriëntering is miskien net wat die dramaskoolsillabus nou die nodigste het.

    Alhoewel geld nooit die muse mag uitskop nie, is die muse op haar eie ewe min werd. Dié dualiteit móét ernstig opgeneem word deur spelers sowel as administrateurs en feesrade. Dis uitmergelend om te lees hoe weldoeners van die kunste aan die publiek wil verduidelik wat werklike kuns en vermaak is en kunstenaars wil reguleer met hoe hulle elk hul begroting (en styl en keuses - aldus Anton Goosen) moet aanpas sodat dit die puritein sou pas. Erger nog dat hulle (media en feeskomitees) aan ons (kunstenaars) moet verduidelik wat ons eintlik werd is sodat hulle wins beter vertoon! Die dag moet naby wees wanneer kunstenaars en gehore se keuses minder onderskat word as nou - net nie naby genoeg nie. Hierdie tipe briewe aan feesbestuurders sal eenvoudig net nie nodig wees as laasgenoemde ook die markplein van vermaak leer omhels nie:

    Nee, A (feesbestuurder), ek dink nie jy verstaan jou bedryf nie. Nou regverdig jy backtrack-kunstenaars se plek op jou fees maar wil gou aan die wêreld vertel wat eintlike vermaak is ... 'n bênd wat mos maklik bekostigbaar is vir ons kunstenaars wat R20 000 vra! Maar ons vra nie R20 000 om bênds te kan bekostig nie, ons vra dit omdat ONS vir jou R120 000 se mense bring daarvoor en jy ONS name in jou program mag druk sodat winste jou die vooruitsig bied van nog 'n (fees) volgende jaar. As jy dit ooit vergeet, sal jy jou eie kunstefees sink.

    Herwin die trots
    Afrikaanse teater, as deel van die Serf Efricin pizza, sal sweerlik sy gat sien as hierdie taal nie weer trots mag floreer as iets divers binne daardie pizza nie. En mag Afrikaanse feeste ophou paradeer as Suid-Afrikaanse feeste wat in elk geval proporsioneel nie vreeslik verteenwoordigend is nie. Die KKNK is 'n Afrikaanse fees en die geaardheid daarvan eie aan Nuwe Suid-Afrikaners: almal is welkom. Met dieselfde asem moet Zoeloefeeste in KwaZulu benader word, of Ierse feeste in New York. My brief aan Beeld:

    Gabriël Botma ("Is kunstefeeste dan wel so wel?") en Ferdi Greyling ("Daar is kwotas in sport. Punt") se briewe 22 Julie, maak my hart rondbons. Ek neem deel aan die Londense UKkasie, wat begin het as 'n Afrikaanse fees. Wie die PC klappe toedien, weet ek nie, maar dit het gewerk. Hierdie jaar word dit toe 'n Suid-Afrikaanse fees, daarna 'n huldeblyk aan Mandela en later besing ons sommer die hele patetiese kontinent. As die Iere en Jode in New York vergader, noem hulle dit 'n folk festival, maar onder die benewelde Nuwe Suid-Afrikaanse vaandels van bemagtiging, kwotas en regstellende aksie verander ons in 'n bakhand bedelstaat, 'n swaar las oor die gees van jong kompetisie en meriete waarby individue verdien omdat hulle presteer en wil presteer, nie omdat iemand iets geskuld word nie. Ek dagvaar my medekulture, my Suid-Afrikaanse medeburgers wat spog oor 'n tien jaar demokrasie maar kultureel te slapgat geword het om enigsins te mobiliseer behalwe by die toi-toi om en die afbrand van universiteite. Mag daar 'n tyd kom waar elke kultuur trots kan vier dit wat haar anders maak (nie beter nie!), veral by plaaslike feeste. Ek vereer Afrikaanse organiseerders, wit en swart, wat Afrikaanse diaspora laat mobiliseer regoor Brittanje, Holland, Australië en Kanada en die Suid-Afrikaners daar wie kom wys dat patriotisme nie slegs geografies is nie.

    Die kunste se rol hier is kardinaal as voorbeeld van wat met Afrikaans gedoen kan word sodat die jeug graag daarin sal wíl belê, eerder as om die taal en sy mediums op die jeug af te forseer. Daar word tans in die Afrikaanse musiekwêreld so 'n oplewing ervaar wat die ander kunste werklik kan begunstig, veral met behulp van 'n ingeligte media. Maar die akrobatiese truuk van so hoog in jou eie snobistiese hol opkruip dat jy nie kan sien wat om jou aangaan nie, hoort eintlik in die sirkus, nie die teater nie!

    Inklusiwiteit
    Die media sowel as keurrade kan werk aan die balans in hul geledere tussen puriteinse behoud en vernuwing. Binne hierdie inklusiewe bestel vind ons die kruisbestuiwing eie aan ons moderne kultuur en postmoderne samestelling van vernuwing én nostalgie, nuwe stemme én gevestigde teksskrywers, kontemporêr én kanon, rock én kontrei, kabaret én pop, tradisioneel én avant-garde. Daar is plek vir groei vir algar, dog in verhouding tot die aanvraag daarvoor. Beperkend? Nuns fret not at their convent's narrow room.

    Die media
    Gun my tog die geleentheid om die media vierkantig te blameer vir die toestand van die kunste in Suid-Afrika. Die Engelse media hou ons nog steeds as kombuiskinders dop, en ek antwoord hulle graag met rente, omdat die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nog nooit teruggestaan het vir ons Engelse eweknie nie:

    I protest (as I have in Oudtshoorn) the overestimation of pathetic journalism with the same breath that I decry the underestimation of any one cultural segment in this country. At least the Afrikaans media admitted to a deficit in informed manpower available to send to specialised fields of entertainment. Can you? Or is it cheaper to pander to the post-apartheid media trend of marginalising the Afrikaner as both village idiot and villain …

    We, the "kômmen" Afrikaner, have plenty to offer our country but we demand time and respect for our post-dated (and cautious) emancipations. I do, however, make no apology for our superior entertainment industry attributed to our fiery but loyal black and white Afrikaans audiences; and the fact that we have learned to distinguish between words and objects, and frankly, still find the latter more eloquent.

    We beg of you, send in the crits, clowns and emperors, but do dress them.

    Wanneer dit nie meer genoeg is vir die media om mediator te wees nie, wil hulle tog graag opvoeders wees. Veral die Afrikaanse pers. My skrywe hier onder was aan "kunsresensente" Kobus Burger en Stephanie Nieuwoudt om die Oudtshoorn-debakel met Jan-Jan Joubert en sy Krit-redaksie in 2002:

    Ek wag al jare dat die Krit en Beeld enige ander tipe kritiek sal lewer waarmee ek my vertonings kan komplimenteer. Stanislavski in my sketse, ensemble tegniek en plasings, my variasies in tempo en intensiteit, dialoog en beweging, emosionele kontinuïteit, klank, klimaks en anti-klimaks, vertraagtye op die nagalm van die keteltromme, komedie-tydsberekening, katarsis, professionaliteit, ook tegnies en tegnologies, beligting, Brecht se vervreemding en resonansie tegnieke in canto declamato en ander eenvoudige modelle van vermaak ... Tydens Stephanie-hulle se RSG debat het hulle erken dat die media NIE beskik oor die nodige ingeligte mannekrag om uit te stuur na gespesialiseerde velde van vermaak nie. Maar hulle doen dit ten spyt! Tweedens, erken hulle dat die Krit 'n studente koerant is ter opleiding van joernaliste. Wel, ek staan nie adolessente media eksperimente op my loopbaan toe nie, en ek kan nie glo ander duld dit op 'n nasionale kunstefees nie.

    Die ontwaning van die Grootgat Afrikaan
    Kunstenaars verkeer onder 'n waan en vermaak hulself met illusies oor hulle verhewenheid, omdat hulle dink die muse lek slegs uitverkorenes se gatte: kunstenaars. Soos Alvin Collison gereeld, dog grappig, vanaf die verhoog aangekondig het: "I am standing here 'cos God blessed me with a wonderful talent. You are sitting there 'cos you got nothing!"

    Hierdie eerbied vir die ore vir ons stories, die gehore en potensiële gehore, is 'n basiese back to basics-reël en almal beskore. Dis ook 'n herwaardering van ons mense, ons kollegas, hul produk en ons ouditorium vanaand. Dis 'n 9/11 vir almal wat nie 'n Boeing wil sien val in Baron van Rheede nie ...

    by die afsterf van teater

    jirre jy sterf lank.
    my audience my audience
    waarom het u my verlaat
    die ultimate romantic irony
    soos in Peer Gynt
    sommer halfpad deur Act V
    palm teen die voorkop
    maskara oor die wang
    oh-my-God-2-3-4
    (stut jy jou proscenium
    of hang jy van hom af?)
    bloot gebou en dood gecrit
    toe ge-upstage by die box-office
    vol bekuns maar pennieloos
    jy soek verniet asiel in Oudtshoorn
    jou roudiens sal so leeg wees
    soos jou galerye was
    en jou routyd korter as applous
    jou orkesput 'n Kango-eggo
    en jou voetligte geblaas
    sorry maar die judaskuns van tyd
    het jou geweeg en lig gevind
    knock knock?
    who's there?
    theatre
    theatre who?
    that's showbiz kid ...









    *Steve Hofmeyr is een van Suid-Afrika se bekendste openbare figure. Hy is alombekend as musiekkunstenaar, gepubliseerde digter en rolprent-, televisie- en verhoogakteur. Hy het ook sy eie geselsprogram op kykNET, Dis hoe dit is. Vroeër vanjaar het hy 'n gesogte Sama-toekenning losgeslaan as die topverkoper in Suid-Afrika.

    Hy tree regoor Suid-Afrika op en is gereeld op oorsese verhoë, veral by buitelandse feeste soos UKkasie en KaNasie. Hy is 'n bekende en beminde gesig by Suid-Afrikaanse kunstefeeste, waar sy vertonings telkemale uitverkoop. Hy was veral in die nuus 'n paar jaar gelede na 'n konfrontasie met Jan-Jan Joubert, redakteur van die feeskoerant Krit.

    Met afloop van dié omstrede insident het daar 'n landwye debat in die koerante en elektroniese media plaasgevind oor die dinamika tussen kunstenaars en resensente.



    LitNet: 9 September 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.