Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Saartjie Botha
Saartjie Botha
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klassieke Klanke: Chinese tenoor op CD
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Mozart 'n Tourette-lyer
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Blindelingse passie teen beterwete in

    Saartjie Botha* is - ten spyte van - steeds hoopvol

    Almal en alles het dit deesdae. Die kersies, die aartappels, die jeug, die woorde, die weskus, die winde. Feeste. En is daar 'n paar ligte, 'n backtrack en 'n lekker lawwe liedjieklong of -koningin wat net ná die stoetramme, en net vóór die sokkie in die skousaal/stadsaal/kerksaal/skoolsaal, 'n paar rymende lirieke op vrolike ritme mime, dan is dit sommer 'n kunstefees. Die sukses van die geleentheid lê in, en word gemeet aan, die kwaliteit van die braaivleis, die prys van 'n bier, die digtheid van die strooibale en die aantal karre op die rugbyveld.

    G'n wonder dat dit nodig geword het om oor die stand van die kunste te beraadslaag nie. My relaas het dit meestal oor teater, en spesifiek toneel, in teaters en by kunstefeeste. My ervaring is hoofsaaklik beperk tot die Afrikaanse industrie, wat byna geen ooreenkomste met die andertalige industrieë het nie. Ek verkies ook om my te bemoei met middelmoot- tot ernstiger kuns, 'n keuse waarmee ek kan saamleef, maar wat nie vir die bankbestuurder sin maak nie.

    Laat ons dit nou maar ruiterlik erken: dit gaan nie goed met die kunste in Suid-Afrika nie. (Die vraag of dit al ooit goed gegaan het, word gerieflikheidshalwe vir eers geïgnoreer.) Die kunste is 'n fynbesnaarde en sensitiewe bedryf, met fynbesnaarde en sensitiewe siele wat daaraan meedoen. Dit is haas onvergelykbaar met enige ander bedryf, 'n spesialisveld waarin estetika en praktiese werkbaarheid hand aan hand loop en 'n bed deel met emotiewe en rasionele en kreatiewe kapasiteite. En finansiële beperkings. Dis arbeids- en psigies intensief, en vereis verantwoordelikheidsin: dit moet 'n spieël ophou, grense deurbreek, versigtig trap om die brose menslikheid. Dit moet vermaak, dit moet verruim, verlos en aankla. Dit moet 'n ruimte skep vir rituele ekspressie, en rituele deelneming. Die kunste moet mense raak en beweeg en uitdaag en koester. Asem blaas in die geroetineerde, afgryslike dood wat mense lewe. Bewus maak van: ja, daar is iets, daar is tog iets.

    Die kunste (lees teater) kry swaar weens 'n gebrek aan artistieke strategie, gebrek aan toeganklike infrastruktuur, gebrek aan 'n strewe na kwaliteit, gebrek aan voldoende befondsing, gebrek aan gehoorontwikkelingsprogramme, gebrek aan ervare regisseurs, gebrek aan geleenthede vir jong regisseurs, gebrek aan manlike akteurs ouer as 35, gebrek aan meganismes om talent te sif en die bedryf te beskerm teen oorspoeling van jong afgestudeerdes, gebrek aan gehore, gebrek aan kundige kunste-administrateurs, gebrek aan balans tussen artistieke en kommersiële werk, gebrek aan kritiese omgang met inhoud en produk, gebrek aan voldoende repetisie-periodes, gebrek aan deurdagte kunsjoernalistiek, gebrek aan bewese sakekennis in die informele sektor van die bedryf, gebrek aan kommunikasie tussen rolspelers, gebrek aan strukture wat omsien na die belange van kunstenaars, gebrek aan erkenning vir diegene wat ten spyte van al die gebreke steeds werk van 'n hoë gehalte lewer. En wat die meeste gebreek is, is die goeie moed.

    Voeg by al die gebreke in die bedryf faktore soos mededinging met mediums soos film en televisie, die gejaagde lewe, veiligheid na vyf, algemene vervlakking in die denke en ingesteldhede van die samelewing, die persepsie dat die kunste elitisties en luuks is, en die koste verbonde aan die ondersteuning van die kunste, en dit raak 'n donker storie.

    Soos reeds gesê, dit gaan nie goed nie.

    Die kunste het 'n moedelose bedryf geword. En die moedeloosheid manifesteer wat my betref hoofsaaklik in 'n gebrek aan visie. Niemand het 'n langtermynplan nie. Dis 'n jaar tot jaar bedryf, 'n fees tot fees geskarrel, 'n maand tot maand oorlewingstryd.

    Dit is belangrik om die konteks en situasie van die Afrikaanse teater weer kripties te stel. Vir doeleindes van hierdie essay word daar nie op die ontbinding van die streeksrade en die gevolge daarvan gekonsentreer nie, ook nie op die redes vir die ontstaan van die kunstefeeste nie.

    As vertrekpunt: 2004.

    Weens krimpende subsidies is tradisionele teaters en teaterorganisasies nie in staat om produksies aan te bied nie. Weens hoë koste is onafhanklike produksiehuise nie in staat om tradisionele teaters te huur vir 'n behoorlike speelvak nie. Afrikaans in tradisionele teaters is so skaars soos hoendertande (produksies van voorgeskrewe werke en kinderteater uitgesluit).

    Vanjaar het dit wel 'n bietjie beter gegaan, in Kaapstad veral. Oom Wanja, Hangkas Haas en 1975 met My boetie se sussie se ou wat later ook 'n Kaapse draai maak.

    Dit is wat daar te sê is oor die stand van Afrikaanse teater in teaters. Die probleem lê nie vir my hier soseer in min geleenthede nie, maar eerder dat daar toenemend in die Afrikaanse bedryf minder en minder teaterpraktisyns gaan wees wat eersterangse ervaring en ondervinding in formele teaters het. Vir die oorlewing van teater en die kragtige medium wat dit kan wees, moet deelnemers die konvensies van teater ken en begryp, al praktiseer hulle in 'n skoolsaal.

    Daarteenoor het kunstefeeste opdragproduksies, waar 'n vasgestelde bedrag (tussen R40 000 en R140 000) beskikbaar is om 'n produksie op die planke te bring. Alternatiewe borge is ook meer geneë om geld te investeer in produksies op kunstefeeste vanweë groter blootstelling. Gevolglik sentreer die Afrikaanse bedryf rondom die feeste.

    As gevolg van tegniese en logistieke beperkings en steeds te min geld is daar 'n tipiese kunstefees-styl aan die ontstaan. Die ideale kunstefeesstuk het hoogstens vier akteurs, maar verkieslik twee, het feitlik geen stel nie, duur nie langer as 90 (verkieslik 60) minute nie, en is lig en vermaaklik in aanslag. (Uitsonderings bestaan wel.) Kunstefeeste plaas verder 'n hoë premie op nuwe werk. Die meerderheid kunstefeesproduksies is nog inknat tekste wat nie herwerk of in 'n werkswinkel-opset behoorlik geslyp en struktureel bygewerk is om die voor-die-hand-liggende probleme uit te stryk nie. Baie van die tekste waarop produksies van duisende rande gebou word, is nie op standaard is nie en dit is hoofsaaklik die rede waarom feeste 'n reputasie vir substandaard werk het. Dit terwyl daar 'n ryke skat van internasionaal bekroonde werke, vertaal in Afrikaans (as Afrikaans dan werklik so belangrik is), brand om op die planke te kom.

    Die kunstefeeste se fokus op "nuut" het verder meegebring dat baie produksies nie gekeur is vir 'n tweede of derde speelvakkie tydens 'n ander kunstefees nie en ná ses of agt vertonings 'n stille, voortydige dood gesterf het. Die koms van die nuwe modewoord in kunstefeesland, sinergie, en die onlangse besef van die waarde van koproduksies en die hoeveelheid geld wat daarmee bespaar kan word, maak dit gelukkig nou vir meer produksies moontlik om by meer as een fees op te tree. Kunstenaars word egter steeds gedwing om voortdurend met nuwe werk vorendag te kom en uiteindelik is daar so min kreatiewe energie om uit te tap dat die weersin en verantwoordelikheid wat die kunstenaar moet hê om nie vir 'n gehoor te gee presies wat hulle wil hê en waarmee hulle gemaklik voel nie, glad nie bestaan nie. Produksies word resepmatig: kits - moeiteloos en ongesond; of Pronutro - sagte pappies vir vinnig sluk.

    Nog 'n faktor wat bydra tot die wisselende gehalte van feesproduksies, is die afwesigheid van voldoende tegniese personeel. Produksies lyk amateuragtig omdat daar soveel gedeelde fokus is. Verhoogbestuurders doen verhoogbestuur, klank en ligte en kostuums - van spesialis-tegnici wat juis nodig is om 'n saal in 'n magiese ruimte te omskep, is daar selde 'n teken. Vervaardigers is produksiebestuurders en bemarkers en finansiële bestuurders en sekretaresses. Hierdie tendens is ook nie net beperk tot agter die skerms nie - akteurs doen twee, of verkieslik drie, ander produksies, want feestyd is seisoen en mens moet skep as jy kan.

    Hoewel kunstefeeste hordes mense trek, sien ver minder as die helfte van feesgangers 'n vertoning. Kuier kraai koning oor kuns. Besoekers maal tussen stalletjies rond en sit in tente en luister na gunstelingsangers wat hulle gereeld oor die radio hoor. Alles is gratis en verniet. Bierdrinkende, roosterkoek-etende, tentsittende kunstefeesgangers laat die geld inrol vir elke skool, kerk en ouetehuis met 'n stalletjie, terwyl teaters en sale leër raak. Feeste moet daarteen waak dat gehore produksies in 'n gemeenskapsteater-rigting dwing wat verseker ook 'n plek het, maar binne 'n groter artistieke beoordeling arm aan inhoud en tematiek, en ingeteel voorkom en voor geen ander gehoor, onafhanklik van taalbeperkings, sal water hou nie.

    In die strate van die feesdorpe word kuns ook nie juis gepropageer nie. Op elke lamppaal sit 'n borg. Korporatiewe begrotings vir bemarking tydens feeste stel alle pogings tot reklame van alle feesproduksies saam, in die skadu wat sigwaarde tydens die fees betref. Die strekking van die korporatiewe reklameveldtogte het selde die kunste as tema, eerder pogings tot gevatte en vermaaklike woordspel of vergrype wat grens aan banaliteit. Ek is geen voorstander van 'n gewyde of pretensieus ernstige atmosfeer tydens feeste nie; dit gaan eerder oor balans en respek en trots vir en in die kunste.

    Die Engelse bedryf sien daar heelwat anders uit. Die geleenthede is moontlik minder as in die Afrikaanse bedryf weens die afwesigheid van die verskeidenheid feeste, hoewel die kwaliteit werk binne die Engelse bedryf onvergelykbaar beter as in die Afrikaanse bedryf is. Daar is steeds 'n paar teaterhuise wat produksies op groot skaal aanpak en 'n speelvak van drie of meer weke in 'n teater bied. Die tradisioneel Engelse universiteite het ook feitlik almal 'n vorm van, of is betrokke by, 'n geselskap wat weens infrastrukturele steun uit die dramadepartemente in staat is om op groter skaal en omvang te vervaardig. Weens die voordele verbonde aan Engels as taal wat tot 'n veel groter gehoor spreek, is daar in terme van integrasie en die uitbouing van 'n swart kultuur van teater heelwat vordering gemaak.

    Die National Arts Festival in Grahamstad as bakermat van veral die Engelse bedryf is egter nie meer die geleentheid wat dit was nie, en weens die subsidiëring van hooffees-produksies kan kleiner onafhanklike produksies op die Fringe nie daarmee meeding in terme van kaartjiepryse nie. Veral nie as besoekersgetalle taan nie. Die NAF is egter steeds die mees vername geleentheid waar tradisionele wit gehore blootgestel word aan werke uit die "swart bedryf", 'n broodnodige interaksie en kruisbestuiwing op pad na die vestiging van 'n Suid-Afrikaanse bedryf. Van die Afrikaanse kunstefeeste is slegs die KKNK tot dusver onderweg na integrasie in terme van program en gehore.

    Ten spyte van al die probleme en gebreke en tekortkominge, is ek egter steeds positief oor die toekoms van die kunste en ook van teater.

    Sedert die ontbinding van die streeksrade is die bedryf besig om te herorganiseer, en hoewel dit net sporadies en geselekteerd suksesvol was, ervaar ek die afgelope jaar of wat iets in die bedryf wat nog nie voorheen tasbaar was nie: dat die kunste weer seggenskap oor die kunste wil hê, dit nie wil oorlaat aan 'n bekwame minister nie, nie net die National Arts Council vir alle mislukkings verwyt nie, die feeste sien vir wat hulle is en nie verantwoordelik hou vir finansiële oorlewing nie. 'n Bedryf wat behoefte het om op groter skaal en omvang te werk, 'n behoefte het om in ordentlike teaters te werk, groter bereidwilligheid om in risiko te deel. Ook is daar inisiatief, die stigting van 'n organisasie soos PANSA, die moontlikhede van 'n permanente teatergeselskap wat ondersoek word, kunstefeeste wat ongewilde besluite begin neem rondom gratis vermaak en programinhoud, teaters wat op die uitkyk is vir produksies, die Lotto wat meer en gouer befondsing beskikbaar stel. Asof daar bestekopname gehou word, meer partye is wat wil deel in besluitneming, daar beter samewerking of ten minste behoefte aan samewerking is.

    'n Gevoel alleen is geen waarborg dat dit nou uiteindelik beter sal begin gaan nie. Kritiese besinning deur alle rolspelers, op 'n deurlopende basis, is nodig, oor ten minste hul bydrae tot die bedryf en verkieslik 'n meer holistiese perspektief. Want ek is bevrees dat bittermin kunstepraktisyns en -administrateurs werklik begrip het vir die groter industrie waarin hulle werk. Struktuur is wel nodig: 'n liggaam wat strategies omsien na die bedryf en nie noodwendig gekoppel is aan befondsing nie. Befondsing vir die kunste is onvoldoende, maar die vraag of die standaard van die kunste werklik beter befondsing regverdig, kan nie afgemaak word nie. Meer geld gaan dit makliker maak vir almal, maar dan moet die kwaliteit van die werk dit regverdig. Die kunste in Suid-Afrika het die afgelope tien jaar nie 'n goeie rekord vir werk gelewer nie. Selfs in die bloeitydperk van die streeksrade het dit nie noodwendig goed gegaan met die kunste nie. Uit Europa kom die nuus dat subsidies gesny word, dat die kunste begin swaarkry. Miskien is dit juis nodig dat die kunste nooit in 'n gemaksone moet wees nie, dat dit altyd bietjie swaar trek, wroeg en onvergenoeg voel. Miskien is daar kuns te maak uit die druk, die swaarkry en blindelingse passie teen beterwete in.







    *Saartjie Botha is dramaturg en teater-impresario. As dramaturg verwerf sy lof vir veral Spanner, Die Goue Seun en 1975. As vervaardiger het sy onder die vaandel van die produksiemaatskappy Vleis, Rys & Aartappels reeds 32 produksies op haar kerfstok, wat Aars! van Peter Verhelst, Tom Lanoye se Mamma Medea en Astor Piazzolla se tango-operita Maria de Buenos Aires insluit. Sy is ook betrokke by gemeenskapsteater op wynplase in die Boland. Sy het 'n coffeeshop bestuur voordat sy in 2001 voltyds in die teater begin werk het. Die totstandbring van 'n permanente teatergeselskap is haar volgende doelwit. Sy woon in Kaapstad.



    LitNet: 10 September 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.