Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Ilse van Hemert
Ilse van Hemert
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Jy vra hoe gaan dit met teater

    Gesiene regisseur Ilse van Hemert* sing van bomme

    Toe ek destyds aan die einde van my drama-graadkursus gekom het, was daar 'n proses in plek om gegradueerdes aan die bedryf bekend te stel. Alle universiteite en kolleges het oudisieprogramme voorberei wat deur die artistieke hoofde van al die streeksrade en al die agente gesien is. Filmvervaardigers en -regisseurs het ook die landswye oudisies bygewoon. In 1981 toe ek aan so 'n oudisie-opvoering deelgeneem het, was dit voor maklik veertig mense - almal groot name en besluitnemers uit die beroepswêreld.

    Daarna het ons angstig gewag vir die uitslag. Na 'n paar weke het die briewe ingekom: uitnodigings om aan te sluit by die permanente speelwerk-geselskappe van die streeksrade. Of miskien is iemand genader om in 'n televisiereeks te speel. Minstens 'n kwart van die studente het werk gekry.

    Die speelwerk-geselskap was 'n slypskool vir die regte verhoog - skoleproduksies wat "gewerkswinkel" is rondom voorgeskrewe werke. In jou tweede jaar het jy klein rolletjies op die groot verhoog begin kry, of diens gedoen as kostuum-aantrekker in die coulisse vir vinnige toneelwissellings. Ons kon repetisies bywoon en kyk hoe die ervare spelers werk. Ek moes een jaar Marius Weyers se pin-curls insit vir die pruik wat hy moes dra in Vereeniging Vereniging. Die regisseur wou hom soos Pik Botha laat lyk. Vir ses weke het ek elke aand aan die deur van die meester gaan klop en oë-op-die-grond ingesluip om sy pruik te kom opsit. Dit was die groot event van die jaar vir my. Ons was die leerjongens van die big boys en het elke oomblik daarvan benut.

    Ek kon regie op klein skaal leer ken deur skoleprogramme, etensuurkonserte en kunstefeeste. My eerste produksie vir die hoofstroomteater het saam met 'n gedugte span gekom: elke aspek is deur 'n spesialis in die veld hanteer - ontwerp, stelbou, kostuums, rekwisiete, verhoogbestuur, beligting, spesiale effekte. Klankbane is deur 'n klankateljee in die Staatsteater gemaak. Ek het nooit 'n begroting gesien nie. Ek is nooit gesê daar's net 8 profiles, 6 freznells en 2 parcans nie (verhoogligte). Om die waarheid te sê, ek hoef nie eers te geweet het wat 'n profile is nie. Ek het 'n beligtingsontwerper gehad wat my fantasieë in werklikheid verander het.

    Alhoewel niemand voor bykans leë sale wou speel nie, het dit wel dikwels gebeur, wanneer ons eksperimentele of "volksvreemde" teater gemaak het, maar dit het nie die produksie gekelder nie. Solank die kritici dit goedgekeur het. En ons kollegas. Dit was ander mense op die vierde vloer - waar ons so selde moontlik gekom het - wat die boontjies moes tel en balanseer. Nie die kunstenaars nie. Ons het aanmekaar "volksvreemde" teater gemaak, kon lekker onsself as kunstenaars ontdek en uitleef. Ons het neergekyk op lokettreffers.

    Kunstefeeste was daar om nuwe talent te ontdek: nuwe skrywers se werk te toets, nuwe regisseurs hulle ding te laat doen. Dit het vir 'n groot deel van die teatermakers niks met brood en botter te doen gehad nie. Ons salarisse was baie klein, maar het elke maand ingekom. Ons het elk tussen vyf en sewe produksies per jaar gedoen. Na ongeveer ses jaar was mens al goed ervare, want jy was al deur sowat 35 produksies. Nie te versmaai nie.

    Vandag lyk die prentjie heeltemal anders. Dramastudente weet van hul eerste jaar af: dit gaan oor oorlewing. As hulle uit die dramaskool stap, moet hulle self sien kom klaar. Om op 'n verhoog te kom moet hulle 'n plan maak om onder die aandag van 'n agent of die handjievol voltydse regisseurs te kom. Trouens, daar's nie eers 'n handvol nie. Die meeste regisseurs doen nou hoofsaaklik TV- of bedryfsteater. (Hulle wil so teen 40 graag vir oulaas probeer om 'n familielewe te hê.)

    Maar dank vader tog vir bedryfsteater. Dis vir baie jong spelers 'n uitkoms. Hulle maak teater op 'n werkswinkel-wyse, om 'n maatskappy se bestuur se oogmerke op 'n vermaaklike manier aan die werknemers op te dis. Dis soortgelyk aan wat ons destyds met speelwerk vir die skole gedoen het. Die inhoud is nou produktiwiteit-propaganda, waar dit destyds Shakespeare vir townships was. Nou nie juis kuns nie, maar nou ja.

    Maar hoe gemaak om op 'n regte verhoog in 'n regte teater te beland? As jong spelers nie in 'n oudisie vir 'n My Vrou se Man se Vrou slaag nie, kan hulle dit maar op hulle mage skryf. Die kunstefeeste is hul enigste kans. Daar's 'n hele klomp van hulle: as 'n speler sy kaarte reg speel, kan hy net-net aan die lewe bly. Al wat hy hoef te doen is om op die eerste fees 'n word-of-mouth-sukses te behaal. Dan kan hy uitsien na 'n lewe uit 'n tas in goedkoop blyplekke (maar 'n familielewe is nie 'n opsie nie).

    Oukei. Hoe gaan ons intrepid jong speler sy loketsuksessie maak? Hy moet self sy teks skryf, inskryf by die feeskantoor en bid om goedkeuring. 'n Klompie ewe desperate jong kollegas word nadergeskraap om saam met hom sonder inkomste in iemand se garage te repeteer. Hy doen self regie. Stel word self gebou - ge-"beg, borrow en steal" - om almal in kostuum te kry en 'n klankbaan geskep te kry. Die spelers is nie die bestes nie, maar darem die gewilligstes. Dan moet die lotjie op hulle waitronning-inkomste in Outshoorn kom en saam in die goedkoopste kamer slaap, sommiges sommer op die vloer. Hulle weet boggerol van beligting, maar werk ywerig deur die twee uurtjies wat hulle vir hulle tegniese intrek kry om die beste te maak van die 20 ligte wat in die skoolsaaltjie gehang is.

    Die gehoor sit op lawaaierige stoele, kan nie ordentlik sien of hoor nie en kry vrek warm. 'n Verdonkering is alles behalwe donker en die stokou beligtingsbordjie gee halfpad deur hulle openingsvertoning die gees. Die spannetjie skree hulle pad deur die toneelstukkie om die slegte akoestiek van die saal te oorkom. Die gehoor is waarderend maar nie oorweldig nie. Die produksie sink net daar en dan. Die spelers gaan diep in die skuld huis toe en gaan soek "regte werk", soos hul ouers lankal al wou hê.

    Julle vra my hoe gaan dit met teater? Sleg. Dis die depressiejare. Tensy jy natuurlik 'n My Vrou se Man se Vrou-tipe is.

    Maar daar is tendense wat vandag opwindend maak: teatermakers gee om wat hul gehoor ervaar. Hulle is voortdurend op soek na 'n eie idioom, iets volksbekend, iets wat die gehoor gaan aangryp. Hulle is gedwing om baie ondernemend te wees. Hulle word entrepeneurs.

    Daar's net een uitweg wat my betref. Ons moet weer minstens een permanente geselskap op die been kry.

    Hier's my plan: Twee of drie kenners gaan na al die opleidingsinstansies om die room van die studente-oes permanente poste in 'n speelwerk-teater aan te bied. Hulle job daar gaan wees om met die minimum fondse 'n rondreisende produksie vir skole saam te stel en opleiding van ongeskoolde talent te doen. Elke produksie sal een aspirantregisseur en twee spelers kry. Die "skrywer" en drie ander spelers kom van 'n ander oord. Dieselfde groepie kenners besoek deur die loop van die jaar elke streek van die land. Die plaaslike kultuurorganisasie word vooraf aangesê om die storievertellers uit die kontrei vir 'n kompetisie saam te roep, bygewoon deur die gemeenskap, à la Popstars. Elkeen kry 15 minute. Die kenners beoordeel en identifiseer terselfdertyd speeltalent. Die wenstorieverteller word geborg om 'n skryfwerkswinkel by te woon.

    Hieruit word die bestes gekies om saam met drie speeltalent-kandidate by die opgeleide lede van die speelwerkgroep aan te sluit. Hulle kry twee maande om hul produksie aanmekaar te slaan. Dié wat reeds opleiding het, maak die nuwelinge touwys. Dan gaan toer hulle deur die land en tree by skole op, en vra 'n billike bedrag van elke skool om hul basiese onkoste te verhaal. Ons reisende kenners (wat elke jaar vervang word) moet ook elk van die speelwerk-produksies bywoon. Die room van die oes word uitgeken en genooi om by die hoofstroom-teatergeselskap aan te sluit. Die geselskap moet per jaar minstens drie produksies op die planke bring, waarvan een 'n My Vrou se Man se Vrou moet wees, een klassieke of internasionale werk en een nuutgeskep moet wees. Die lokettreffer sal vir 'n gedeelte van die inkomste sorg. Die bestuur en administrasie word onder die kunstenaars verdeel. Saam moet hulle die begroting laat werk. Geen vierde vloer nie. Tegniese bystand word deur een kenner en 'n span van vier leerjongens behartig. Die staat moet subsidieer - dít val mooi binne hul opleidings- en bemagtigingsbeleid. Dit sal nie die bank breek nie, en sal werk aan 'n groot aantal mense verskaf. Plus, ons aspirantkunstenaars het uiteindelik weer hoop op 'n heenkome.

    Miskien hoef ek nie vir die staat te wag nie. As daar iemand daar buite is met so vyf miljoen rand per jaar, kan ons dit binne 'n paar weke op die been bring. Wat sê julle?







    *Ilse van Hemert werk al vir 18 jaar as teaterregisseur, eers vir PACT en later vryskut vir bykans al die teatermaatskappye regoor Suid-Afrika. Sy was al regisseur van 42 toneelstukke, 'n 13-episode dramareeks en drie dokumentêre programme vir die SABC en betrokke by verskeie korporatiewe teaterprojekte.

    Sy het reeds twaalf toekennings ontvang vir regie, vier vir werk as vervaardiger en twee vir toneelspel. In 1990 het sy die Hanekom-beurs vir "uitmuntende bydrae tot teater" ontvang en was in 1991 aangewys as die Weekly Mail se Teaterpersoonlikheid van die jaar.

    Sy het in 2000 by die span van Isidingo aangesluit. In April 2002 is sy aangestel as kreatiewe vervaardiger en is sedertdien verantwoordelik vir die koördinering van kreatiewe besluite en die instandhouding van artistieke standaarde.

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.