|
|
Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.zaFees (te) vir die veles, baantjies vir boertjies, of loslappies vir die laniesClinton V du Plessis* gooi 'n handvol harde stuiwers in die feesbeursIn 'n land waar die staat meewerk aan 'n volksmoord deur te wik en te weeg oor vigs, het die kunste geen morele aanspraak op staatsbefondsing nie. Daardie triomfantelike Afrikaanse skryfster van Stellenbosch het op 'n keer tydens 'n verposing gedurende die Woordfees opgemerk dat dit belangrik is dat as jy skryf, jy dit wat jy wil sê, korrek moet "plaas" - en sy het "plaas" met gerolde oë na bo uitgespreek. In hierdie geval moet ek myself "plaas". Ek gaan kort en saaklik wees. Ek kan nie anders as om hierdie debat vanuit 'n spesifieke invalshoek te benader nie. Soos John Matshikiza skryf in sy essay "Johannesburg: On being a Native at Home and Abroad"1, verklaar ek ook onomwonde: "I stake my claim. I was born here. My forebears built this ugly city, but were never allowed to make it their own. I have a duty to perform on their behalf." Net so voel ek oor hierdie Taal - my voorsate het gehelp bou hieraan, maar is nooit toegelaat om dit hulle eie te maak nie. Net so voel ek oor hierdie Feeste. Dus … 'n onbeskaamde Bruin blik. En dit is hoe ek die storie lees aan die hand van die KKNK-feesgidse vir die periode 2002 tot 2003: Toneel 1 Where White is the Colour, Where Black (and Brown) is the Number2 Beskermhere
Direkteure
Bestuur
Kunstekabinet
*Alhoewel Vusimuzi Khumalo ingesluit is op die Kunstekabinet,
het sy foto nie in die feesgids van 2003 verskyn nie.
Kanna-paneel
Personeel (permanent)
*Geen foto's is in die onderskeie jare in die feesgidse ingesluit nie.
Koördineerders
Ondersteuningspersoneel
Nota: Toneel 2 In order to succeed in this town you have to be well connected (reklamebord van selfoonmaatskappy) Die uitvoerendekunste-toneel is soos 'n kleinerige dorp met inwoners wat met mekaar se skete en kwale vertroud is. Elkeen ken die ander se mankemente, se afwykings. Die een hand was die speekwoordelike ander hand - my matras en jou kombers … of hoe lui daai volksliedjie nou weer? Kunstenaars kry swaar, maar die meeste Wit kunstenaars het steeds 'n formele (of informele) ondersteuningsraamwerk wat in stand gehou word deur diegene wat die besluite op die regte plekke neem. Kyk maar na kykNET se rol in dié verband. Onlangs het ek 'n e-pos gesien waarin Anthony Wilson (miskien skryf hy self daaroor in sy bydrae) probeer om sy frustrasie te woord te stel oor die feit dat hy op Vredendal sy stert afsukkel om 'n borg te kry vir 'n paar bierkratte om 'n stel mee te bou! En al waaroor die meeste witterige kritici en kunstenaars hul moer kan strip is backtracks, bier en boepense, braai en naai, koek, tee en tert, Anton en Steve, Koos en Kurt (en Jurie). Afrikaans is meer as dit, maar wil die media dit werklik meer as net dit maak? Ek wil amper soos daardie berugte feestelike T-hemde uitroep: Tel vir 'n slag jou fokken seëninge of hou jou bek! Tensy Afrikaanse kunstenaars en ander rolspelers (borge ingesluit) daadwerklik begin om hul vaardighede te deel met die niebleek medetaalsprekers is hulle besig om hulleself in die voet te skiet. Die werklike debat moet gaan oor hoe om die strukture op so 'n manier te verander, sonder om jare se kundigheid by die deur uit te gooi, maar ook terselfdertyd dié met talent te help om 'n voet in die deur te kry - om hulle op 'n sinvolle en nie net kosmetiese manier nie te betrek. Kunstefeeste (en dan veral Afrikaanse kunstefeeste) het enorme potensiaal om te kan dien as die teelaarde vir die aankweek van onderlinge verdraagsaamheid - 'n kans vir Afrikaans om te bewys dat sy ekonomies bevoorregte gesig lankal nie meer net Wit is nie. Of soos wyle Kerkorrel in Hillbrow bepleit het: Gee, gee, gee … Met ander woorde, as daar op SABC2 gekies moet word tussen Cruywagen (wat goed is, maar hy het sy innings gehad) of Cloete, waarom moet laasgenoemde die deur gewys word? Te veel van ons staan buite en pleit; weer eens in Jensma se skisofreniese woorde: "I must show you my clippings", want ook ons het 'n storie om te vertel, 'n liedjie om te sing, 'n stuk rou om te deel - in Afrikaans. Ons wil ook binnekom - maak in Godsnaam oop die deur.
Aantekeninge 1 John Matshikiza se essay is opgeneem in Voices of the transition, saamgestel deur Edgar Pieterse & Frank Meintjies en uitgegee deur Heinemann. 2 Wopko Jensma se digbundel Where White is the Colour, Where Black is the Number het in 1975 by Ravan Press verskyn.
Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page. Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |