Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Woordfees 2004 beloof om ’n reusesukses te wees

Johan Pienaar

Die Woordfees is op baie maniere uniek. Onder andere is dit die enigste kunstefees in die land wat in sy geheel deur ’n universiteit aangebied word, en dis by uitstek die een fees wat homself dompel in die kunste en nie verplig voel tot die verskaffing van populistiese vermaak nie. Die grootste probleem met die fees is dat daar met soveel goeie produksies in so ’n kort tyd net eenvoudig te veel keuses is om te maak.

Tussen soveel goeie produksies behoort die feesbees (die woord vir ’n kompulsiewe feesganger in Nederland) die Woordfees te gebruik om die produksies te sien wat nog oorspoel van verlede jaar se kunstefeeste, maar ook te probeer om uit te kom by die produksies wat uniek is aan die Woordfees.

Woordfees 2004 het nie — ten minste op papier — slegte of oor-kommersiële aanbiedinge nie. Hoe kies mens dan? Soos in die verlede is daar heelwat kategorieë waaraan die feesbees óf kan proe, óf homself doodeenvoudig in kan gaan dip in die drama-, musiek- of skrywersfees, soos dit hom behaag. Dis nie maklik om aanbevelings te maak nie, maar ’n paar produksies staan beslis vir my uit:

By die Skrywersfees gaan ek beslis by Laertrek by Pramberg uitkom. Nie net is dit die bekendstelling van Andries Bezuidenhout se CD Insomniak se Droomalmanak nie, maar die Buckfever Underground keer ook tot die verhoog terug ná Toast Coetzer se jaar lange draai in Korea.

Jackie Nagtegaal, Tertius Kaap, Saamrou en die skitterende Albert de Vos (sy nuutste CD, Wolfman, het pas verskyn) kom ook ’n draai gooi. Dit gebeur alles in die nou reeds legendariese Hidden Cellar op Woensdag 10 Maart.

Die Boeksusters hou indaba in die JC de Wet-saal op Saterdag 13 Maart om 12:00. Die gesoute boekkenners Cecile Cilliers en Madeleine van Biljon gaan beslis vermaaklik wees as hulle gesels oor hulle passies.

Een van die hoogtepunte van die Skrywersfees gaan sekerlik Rubriek en Polemiek wees. Etienne van Heerden, Joan Hambidge, André le Roux en Martie Meiring gesels oor hoe hulle rubrieke skryf en die moeilikheid waarin hulle al beland het. Met Emile Joubert as gespreksleier behoort die blote kombinasie van karakters op die verhoog ’n lekker gevatte gesprek rondom die kuns van rubriekskryf te waarborg.

In Stories agter Skrywers gesels Christiaan Bakkes oor sy lewe en sy boeke. Christiaan, wat ’n krokodilaanval oorleef het, kan met een arm ’n bier vinniger oopmaak as die meeste mense met twee. Christiaan is ’n natuurbewaarder in Namibië en het ’n unieke perspektief op die mens en sy omgewing. Enige gesprek met hom is ’n safari van die brein.

In die Filosofiekafee sê skrywers en filosowe mekaar die stryd aan. In die verlede was hierdie een van die gunstelinge van die Woordfees en vanjaar behoort geen uitsondering te wees nie. Die fassinerende rigtings wat ingeslaan word met ’n obskure onderwerp soos die betekenis wat in voorvoegsels opgesluit is, is nie net filosofies en akademies nie, maar ook kopvermaak op sy beste.

Natuurlik is die Woordfees ook bekend vir sy kwaliteitdramas. Diegene wat die briljante Jan & Jorie, wat die lewe van Jan Rabie en Marjorie Wallace volg, by Aardklop misgeloop het, kry nou kans om die toneelstuk te sien. Carwatch, wat by die Volksblad Kunstefees ’n wegholsukses was, is ook by die Woordfees. Vir die wat wil skaterlag, is Lindie Stander hier met Alleen so Alleen. Lindie is ’n meester van die verhoog en haar eenvrouvertonings is ’n hoogtepunt van hedendaagse Afrikaanse komedie.

Woorde op die maat van musiek is ook nie agterweë gelaat nie en mense kan uitsien na Coenie de Villiers en Lucas Maree in Coenie en Lucas, Stroop met oa Nicole Holm, wie se byna spookagtige weergawe van Koos Kombuis se “Onder in my Whiskeyglas” op die CD Eva soveel trane gesteel het oor die jare, en heelwat ander produksies waarin die kwaliteit van die liriek bo verdenking is.

Vir die wat laatnag wil feesvier is daar Spinnekop, Bed on Bricks en Akkedis op drie verskillende aande by die Mystic Boer om die fees uit jou kop te jaag, en Die Dorpstraat Teaterfees het dDisselblom, Anna Davel en Lize Beekman om jou ore te streel.

Woordfees 2004 gaan — as mens so kyk na die program — ’n reusesukses wees. Feesgangers gaan tegelykertyd vermaak en gestimuleer word. En tussen al die produksies en praatjies is daar natuurlik die vooruitsig van kuier ... Kan die laaste een wat die Woordfees verlaat, asseblief onthou om my lewer saam te bring?



LitNet: 3 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.