Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Meesterlike put ruk diep

Yvonne Beyers

The Well Being
Andrew Buckland en Lionel Newton
Regisseur: Lara Foot Newton
Teks: Andrew Buckland
Musiek: Phillip Miller
Beligting: Wesley France
By die Baxter-teater in Kaapstad
Tot 13 Desember.

Kort voor ek nou die aand my hare plat kam en maskara aansit vir ’n night at the theatre, jaag ek deur ’n stapel statistiek vir ’n nuusberig wat die volgende oggend in die koerant moet verskyn.

“Afgryslik. Verskriklik,” prewel ek terwyl ek aan die berig tik: Een uit elke vyf tienerpa’s erken hy het al ’n vrou verkrag, bykans ’n derde van dié verkragtings lei tot ongewenste swangerskappe, ’n vyfde van alle tienerma’s sê hulle is voorheen verkrag. Tienerma’s sê hulle word na hul swangerskap deur die gemeenskap verwerp en vergeet.

Gruwelstories wat die leser sal ruk.

“Laat stik die lesers in hul graanvlokkies,” sê ’n kollega.

Maar die berig beland iewers in die agterkant van die koerant en op pad na die Baxter maak ek geselsies oor die weer, die werk, en Nuwejaar — die skokkende statistiek skoon vergete.

Syfers op ’n blad bly mens nie by nie. Getalle laat jou nie gril nie en breuke maak jou nie naar nie. Maar later die aand — met min woorde, minder props en geen getalle — ruk die toneelstuk The Well Being my maag tot bo in my keel.

Die verkragting en verwerping van ’n jong meisie in dié stuk is so verskriklik, so hartverskeurend en so werklik dat dit voel of dit ék is wat in ’n hopie op die aarde bly lê ná my liggaam oopgespalk en bevrug is deur ’n bliksem sonder ’n gewete.

The Well Being, Andrew Buckland en Lionel Newton se meesterlike stuk oor bygeloof, geweld, sonde en scapegoats, vrugbaarheid en vergeet, is soos ’n droom wat meer werklik is as die waarheid.

Twee bekkige paddas vertel die verhaal van Flo Deluge, ’n onskuldige meisie wat deur die dominee op die dorp verkrag word en haar daarna onttrek aan die gemeenskap en sy skinderbekke en galbrakers.

Terwyl Flo wegkruip in die bos en begin grou aan ’n gat wat naderhand so diep is dat dit ’n waterput word, preek die dominee oor vergifnis en aanvaarding, die ondersteuning van randfigure en die gees van ’n goeie en Godsgetroue gemeenskap.

Flo se verkragting word eers bejammer, dan beskinder en bespot en uiteindelik vergeet. Totdat die dorp se anties oor hulle teekoppies kloek oor die “heks” in die bos, bronstige dronklappe saans in die bar bespiegel oor of Flo se gat tot in die Hel strek, en twee kletsende kugels wonder of sy die Duiwel se dansmaat is.

Asof die hemele hoor van dié geheul, doem donker wolke oor Flo se vallei op en reën dit vir dae aaneen. ’n Vloed spoel die ganse dorp weg en al wat kop bo water hou, is die paddas en Flo — wat veilig op die hoop aarde wat sy uit haar gat gegrou het, skuil.

In dié tyd word Flo besoek deur ’n spulse dolfyn met ’n bek vir die Blues en ’n lus vir lepellê. Wanneer die waters uiteindelik sak, is Flo verwagtend met die soogvis se kind en volg ’n droogte wat die dorpenaars eers na hul tuistes laat terugkeer en daarna na lafenis laat snak.

Die vloed én die droogte word op Flo blameer en die giftige gemeenskap haal hul woede, frustrasie en angs op die onskuldige slagoffer van hul oersondes en haar hulpelose visbaba uit.

Ondanks die verhaal se tonele van verkragting en geweld laat Buckland en Newton se stuk die lagspiere kramp en bied dié fisieke teater ’n uur en ’n half van histeriese vermaak en roerende, deernisvolle oomblikke wat so aangrypend is dat jy begin glo sprokies en fabels móét waar wees.

Met net ’n paar stroke papier, ’n emmertjie en ’n oorryp waatlemoen skep die akteurs ’n wêreld waar ’n dolfyn en ’n aardskind mekaar regtig die hof kan maak, waar geboorte mooier en seerder as op enige werklikheidsreeks is, waar die waterwêreld vol magiese betowering is, en waar die verbeelding lewe en lyf kry.

Die twee akteurs verwissel humor en hartseer so vinnig soos die gety van die gemoed verander en gebruik nét hul lywe om sowat 20 uiteenlopende karakters lewe te gee.

Na die vertoning wil jy gil en skreeu oor dié vergestalting van statistiek en oor die afgryse van ’n wêreld waar mense deur bygeloof en vrees oorheers word, en krimp jou hart oor die honderde meisies wat, soos Flo, met hul “baster”-babas op ’n eiland van eensaamheid woon.

Maar jy sluk die skreeu en bly eerder stilverwonderd oor dié virtuose vertoning wat jou laat wonder of jou drome — en nagmerries — nie meer feit as fiksie is nie.

10 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.