Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kamper en sy kampgenote is uitstekend

Carin van Vuuren

Straties
Teks: Braam van der Vyver
Regie: Nico Luwes
Spelers: Gerben Kamper, Lida Botha, Onida Cowan, Barry Strydom, Merlin Daffe en Lizelle Delport
By die Volksbladfees in Bloemfontein
Julie 2004

'n Besliste hoogtepunt van die fees was Braam van der Vyver se Straties. 'n Uitstekende span spelers - en veral Gerben Kamper, wat 'n kragvertoning lewer - dra in 'n groot mate dié stuk.

Dit handel oor 'n paar armblankes in 'n plakkerskamp wat 'n flenterhuisie deel. Gammie (Kamper) is die "Moses" van die kamp, wat leiding gee en die versorging van die ander plakkers as sy verantwoordelikheid sien.

Venus (Cowan) is die geharde maar goedhartige prostituut wat help om die pot aan die kook te hou, of eerder om die kele nat te hou. Lida Botha is Antie Slym, wat besig is om van kanker te sterf.

Strydom vertolk die rol van 'n professor wat besig is om deelnemende navorsing te doen oor armblankes en wat vir 'n wyle by die span bly. Daffe is 'n kleurling-inwoner, en Lizelle Delport 'n "bevoorregte" wat porseleinpoppe op vlooimarkte verkoop.

Die gehoor het dadelik empatie met die karakters. Hulle is bar, rassisties en vol swakhede, maar hulle kruip in jou hart in. Van der Vyver slaag daarin om nie in sentiment te verval of hulle bloot as slagoffers uit te beeld nie.

Die dialoog is skerp en die stuk is vol humor. Dit het trefkrag en bied insig in die karakters se lewens en omstandighede.

Veral Kamper skep 'n fyn-genuanseerde karakter wat volksbesit kan word, soos 'n Ampie of 'n Hans die Skipper van ouds. Ten spyte van sy eie ondervindings het Gammie geen simpatie met anderskleuriges wat in dieselfde bootjie as hy vaar nie. Jy kry egter begrip vir sy optrede en bitterheid, sy sorgsaamheid vir weerloses en sy verlange na 'n normale lewe wat deur waardigheid en liefde gekenmerk word.

Botha se Antie Slym is 'n wonderlike karakter. Sy is kwistig met die tong, en vol humor en slim planne om 'n dop te kry. Haar gelate aanvaarding van haar naderende dood spreek van hopeloosheid en tog ook van 'n vrede met 'n lot waaraan sy niks kan verander nie. Sy kom oppervlakkig voor asof haar obsessie met drank alles oorheers; tog openbaar sy insig in die karakters om haar se pyn en lot.

Iets rondom dié karakter is egter vals, en dit lê in die teks eerder as in die vertolking. Geeneen wat al iemand aan kanker sien sterf het, sal glo dat hulle soveel drank kan inneem nie. Hulle kan skaars 'n lepeltjie water inhou.

Cowen lewer 'n goeie vertolking as Venus, die spreekwoordelike hoer met 'n hart van goud. Ongelukkig weet ons nie veel van haar verlede nie. Sy maak egter nie verskoning vir wat sy doen nie.

Strydom se vertolking van die professor is goed, maar ek sou 'n ouer man in die rol wou sien. Sekere aspekte rondom die karakter kom geforseerd voor en is ook nie heeltemal geloofwaardig nie, soos sy obsessie met Venus. Dis ook asof hy soms net gebruik word om statistiek weer te gee en die omvang van die kwessie van armblankes in die land te belig.

Daffe gee 'n uitstekende vertolking as "die kleurling wat ewig op die rand van die Suid-Afrikaanse samelewing is". Hy verteenwoordig dié groep van die bevolking wat steeds aan die kortste ent trek omdat hulle nie wit genoeg was nie en nou nie swart genoeg is nie. Hy's ook die skyf waarteen die rassisme wat steeds in ons samelewing is, gemik is. Tog skep hy 'n geloofwaardige karakter waarmee jy empatie kan hê.

Delport verteenwoordig die sogenaamde wit middelklas, maar sy waarsku ook dat die groep vinnig aan 't verdwyn is en dat die hele vlooimarkkultuur dalk net die begin van die einde vir dié groep is, want dis dikwels hul laaste heenkome.

Luwes se regie is uitstekend. Die ritme, tempo, spanningslyn en krisismomente word uitstekend hanteer. Die interaksie tussen die karakters bind die stuk tot 'n hegte eenheid en ten spyte van die vals note in die teks wat hier en daar kop uitsteek, is dit 'n uitstekende produksie.



LitNet: 30 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.