Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Spek Harmse kersie op Pendoring se verjaardagkoek

Mediaverklaring

Soos demokratiese SA, is die Pendoring-reklamewedstryd en -projek vanjaar tien jaar oud. Om dit te vier het die werkkomitee van die stigterslede - ATKV, Caxton, De Kat, Kopieskrywersforum, kykNET, Media24 (Koerante en Tydskrifte), RSG en Rapport - besluit om 'n spesiale toneelstuk deur die bekroonde dramaturg en voormalige Pendoring-prestigepryswenner, Harry Kalmer, te laat skryf.

Wie is Spek Harmse en hoekom skryf hy Afrikaanse advertensies? gee 'n aweregse kykie in die hedendaagse reklamebedryf en maak op 5 Julie sy buiging in die Sanlam-ouditorium van die Baxter-teater in Kaapstad. Dit is ook eenparig aanvaar as opdragstuk by Aardklop in September.

Spek Harmse is Kalmer se agtiende toneelstuk op die professionele verhoog die afgelope twintig jaar. Hy het reeds sowat dertig plaaslike en internasionale reklametoekennings gewen en het ook al die belangrikste teatertoekennings vir sy teatertekste ontvang, onder meer 'n Vita, die Dalro Dawie Malan-toekenning vir die beste Suid-Afrikaanse toneelstuk en die Anglo-Aardklop-toekenning. Dan was daar nog tientalle benoemings en kleiner pryse.

"Dis 'n amper-donker komedie wat handel oor Afrikaanse reklame. Maar dit gaan ook oor 'n donderstorm, 'n pap wiel, 'n kaal man, 'n kragonderbreking en stukkende ruitveërs. Voeg hierby twee van Afrikaans se top-komediante - Frank Opperman en Pierre Breytenbach - en 'n meisie wat so jonk is dat sy nog alles weet, en jy het hopelik bestanddele vir 'n lekkerlag-teaterervaring," sê Kalmer.

Die hoofkarakter is die Afrikaanse kopieskrywer Spek Harmse (Frank Opperman), wat afgedank word die oggend nadat hy die Pendoring-prestigeprys gewen het.

Spek sit op die stoep van sy eksvrou se strandhuis. Hy is werkloos, sy jong vrou het weggeloop met haar personal trainer, sy eksvrou is by haar ghoeroe in Indië en sy seun Frik (Pierre Breytenbach) is die hoofsanger van die Afrikaanse punk-band Die Wurmkoppies. Dus onderhou Spek hom nog steeds.

Die kunsjoernalis Lizanka (gebore Elizabeth Anna Katharina) Aucamp (Carmin Coetzer) kom om 'n onderhoud met Spek te voer … maar sy verag alles en almal wat enigiets met reklame te doen het. Spek Harmse, gewapen met 'n bottel rooiwyn, sy sinisme en sy galgehumor, is reg vir haar. Die enigste probleem is, Spek is 'n ook romantikus - hy glo nog aan dinge soos harde werk, lojaliteit, advertensies en Afrikaans.

Lizanka sien haarself as 'n kampvegter vir Afrikaans, maar na een aand saam met Spek en Frik besef sy dat sy dalk die kat aan die stert beet het oor reklame, oor kaal mans, oor Afrikaans en heel moontlik oor die lewe.

Waar dit die derde keer is dat regisseur André-Jacques van der Merwe en Kalmer saamwerk, en Opperman en Breytenbach albei al rolle in Kalmer-komedies vertolk het, is dit Coetzer se buiging in een van Kalmer se verhoogstukke.

As ervare stemkunstenaars bring die drie mans natuurlik ook hulle opinies van, en insigte oor, reklame na die paartie.

Van ervaring gepraat: twee weke nadat Kalmer sy eerste werk in die reklamebedryf gekry het, het sy eerste toneelstuk geopen. Sedertdien loop dié twee loopbane van hom parallel en hand aan hand.

"Albei het hul hoogtepunte en laagtepunte gehad. Gelukkig is dit in beide gevalle meer hoogtepunte as laagtepunte. Reklame fassineer my en ek het 'n dik genoeg vel om dit nou al vir twintig jaar lank te oorlewe. Trouens, reklame was goed vir my - en ek glo ek was ook goed vir reklame.

"Ek sou nooit oor reklame geskryf het as Pendoring my nie gevra het om dit te doen nie. Dit was op die ou end moerse pret, maar het weer eens bevestig wat ek nog altyd weet: skryf is skryf - maak nie saak of jy 'n advertensie of 'n Griekse tragedie skryf nie. En om Spek te parafraseer: 'Skryf is hoekom ek gebore is en as ek kan skryf en daarvoor betaal word, is ek in die hemel …'"

* Borgskappe van Sanlam, Eerste Nasionale Bank en Santam het gehelp om dié produksie moontlik te maak.



LitNet: 01 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.