|
|
Rustlers kon soveel meer gewees hetMarina GriebenowDrama: RUSTLERS deur Geraldine Aron, onder spelleiding van Roy Sargeant. By die Kunstekaap-teater. Tot 29 Maart.
Die storie is redelik eenvoudig: n Vrou van net oor die veertig bevind haar in n onverkwiklike huwelik en boonop is haar knorrige en eiesinnige ma te oud en sieklik om langer na haarself te kyk. Die keuses wat sy in daardie stadium uitoefen, naamlik om n buite-egtelike verhouding met n bloedjong spierpaleis aan te knoop en om haar ma in die My Way-ouetehuis te laat plaas, lê die grondslag vir die aksie in die drama en bied aan die dramaturg die geleentheid om n verskeidenheid kwessies te berde te bring. Rustlers word egter gekniehalter deur verbeeldinglose regie en Aron wat te veel kwessies tegelykertyd probeer bysleep, met die noodwendige gevolg dat geeneen van hulle ten volle ontgin word nie. Wat onder meer ter sprake kom, is die mishandeling en verwaarlosing van bejaardes, verhoudings wat oor die muur is, rassevooroordele, die frustrasies wat die ouderdom meebring, die dood, die lot van diegene wat hulle verwyderd van hul heimat bevind, die komplekse verhouding tussen ma en dogter, en dies meer. In dié maer tye spog Rustlers met n bykans banaal groot stel. Die verhoog is in twee uiteenlopende ruimtes verdeel, geskei deur n oop gedeelte na agter, waardeur n mens n stadsbuitelyn van Londen sien wat sterker herinner aan die leunende Toring van Pisa as aan dié wêreldstad. Aan die een kant is Willa se beklemmende kamertjie in die ouetehuis. Aan die ander kant, in kontras hiermee, is die moderne, oop ruimte van die jong, bruingebrande model se luukse woonstel met die dubbelbed natuurlik as die fokuspunt. Dit is in hierdie twee ruimtes waar die aksie hoofsaaklik afspeel, hoewel die voorverhoog nou en dan ingespan word as die woning van Catherine en haar vaal wederhelf, Jack. Die stuk draal deurgaans, en veral die eerste helfte gaan mank aan afwisseling. Die gelykmatige tempo en oormaat van kwessies wat veroorsaak dat die spelers nie die geleentheid kry om behoorlik aan hul karakters definisie en diepte te gee nie, lei daartoe dat jy ook nie deernis ontwikkel vir dié groep mense nie. Hier en daar bied die dramaturg n blik op die gedagtewêreld van haar karakters of op hul meer eienaardige karaktereienskappe, en dis of die stuk dan lewe kry, maar ook dít word nie altyd behoorlik ontwikkel of ingekleur nie. Heeltemal te veel klem word gelê op die verhouding tussen Catherine en haar katelknaap. Dit veroorsaak dat te min aandag bestee word aan haar toenemende verwaarlosing van haar ma en die ontluikende verstandhouding tussen Willa en haar oppasser in die ouetehuis, Byron. Te veel kere word as vanselfsprekend aanvaar dat die gehoor die progressie in die verhaal gesnap het terwyl hulle besig gehou is met onbenullige besonderhede. So kom die konfrontasie tussen Catherine en Jack oor haar buite?egtelike verhouding met Ted byvoorbeeld bykans uit die bloute en laat n mens effe onthuts met die gevoel dat jy êrens iets gemis het. Petersen en Wilson, albei gesoute en bekroonde aktrises, doen hul bes binne die beperkings van die teks en regie om aan hul onderskeie karakters lewe te gee, maar selfs hulle bereik nooit groot hoogtes nie. Marti beïndruk as n jong aktrise met potensiaal, terwyl Mbebe oortuig as die ontheemde Byron wat sy gesin so tragies verloor het. Brent is skaflik as Jack, maar McAslan so aantreklik soos hy is kom werklik nie die mas op nie. n Mens verlaat die teater met n effense gevoel van verlies, asof jy van iets beroof is maar jy weet nie presies wat nie. Eers later besef jy wat dit is: Rustlers kon in soveel opsigte soveel méér gewees het. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |