Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Stemmingsryke stuk vir wye teaterpubliek aanbeveel

Briewe aan ’n rooi dak, opgevoer by die Stellenbosse Woordfees 2002. Met Elize Cawood. Teks en regie deur Harry Kalmer.

Resensent: Malan Steyn

Onder kwaai finansiële druk word die Suid-Afrikaanse teater nou al ’n geruime tyd getref deur die goedkoper opsie van solostukke, oftewel one (wo)man shows. Kunstenaars voel hulle al meer genoodsaak om ter wille van finansiële selfbehoud hierdie eens gevreesde en moeilike teatervorm (sonder handskoene) aan te pak. Die uiteinde is ongelukkig dikwels kunstefeeste vol eenselwige teaterproduksies wat op niks meer as ’n pynlik-prosaïese gepratery uitloop nie.

Harry Kalmer se treffende Briewe aan ’n rooi dak kan beslis nie hiervan beskuldig word nie. Dit is ’n ryklik geskakeerde en boeiende teks wat tereg met die Anglo-Gold Smeltkroes-prys vir die beste nuutgeskrewe teks bekroon is tydens laasjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees.

Dit vertel die verhaal van die bejaarde Magdalena Otto se vereensaamde bestaan in ’n geweldgeteisterde Johannesburg. (’n Bejaarde, sê Magdalena, is iemand tien jaar ouer as jyself.) Om van haar eie eensaamheid te ontsnap skryf sy briewe aan haar bure se rooikleurige dak. Só word die kleingeskiedenis van Magdalena ingeskryf binne die groter historiese kontekste van haar 73-jarige leeftyd.

Die stuk reageer op die aktuele kwessie van die weerloosheid van bejaardes in ons land, sonder om ooit te verval in reaksionêre wit angst. Vertellings oor die aanranding van haar vriendin Mavis Potgieter en haar vrese dat dieselfde lot haar sal tref, word vervleg met herinneringe aan ’n lewe van ingeperktheid.

Magdalena vertel onder meer oor haar verbode jeugliefde, die Afrikaner-patriargie se onverdraagsaamheid teenoor andersheid, haar oorgawe aan ’n onromantiese burgerlike bestaan en ’n huwelik vol eensame stiltes. Die wrang-humoristiese vertelling oor haar onbevredigende sekslewe vorm weer ’n kontras met die ontroerende gesprek oor die letsels aan haar eie lyf. Dit is ’n stemmingsryke werk waarin die melancholiese, die (soms wrang) komiese, die liries-romantiese en ’n gewelddadige realisme met mekaar verweef word.

Deur die klank- en stelinkleding word ’n beklemmende ruimte geskep wat iets weerspieël van die “argitektuur van vrees”. Voor op die verhoog staan die lemmetjiesdraad waardeur rooi blomme groei; agter staan die roesbruinveiligheidsdeur en op die klankbaan dreun die geblaf van waghonde. Hierdie beelde beklemtoon die broosheid van lewe binne die stadsruimte. Terselfdertyd illustreer dit hoe die individu uit vrees vir misdaad al verder van haar gemeenskap geïsoleer word en verder vereensaam.

Elize Cawood, wat Henrietta Gryffenberg ná Aardklop vervang het, lewer ’n genuanseerde en deerniswekkende vertolking van Magdalena Otto. En haar komiese tydsberekening is foutloos.

Briewe aan ’n rooi dak is geen sentimentele ou-tannie-teater nie, maar ’n ontroerende produksie wat vir ’n wye teaterpubliek aanbeveel kan word.

Dit speel eersdaags op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Rimpelfees.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.