Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jannie Moolman vlieg solo

Marina Griebenow

Die tenoor Jannie Moolman is nie juis daarvoor bekend dat hy dinge op konvensionele wyse aanpak nie. Trouens, hy slaag telkens daarin om te verras (en sommiges te skok) met sy loopbaankeuses en die praktiese, aardse manier waarop hy sake benader. Anders as wat ’n mens van operasangers verwag, is dié man nie vol geite nie.

Soos die meeste operasangers wat eens by die streekskunsterade was, moet Moolman ook deesdae noodwendig sy inkomste uit ander oorde aanvul. Hoewel hy in bykans elke opera optree wat opgevoer word, veral in Kaapstad en omstreke, doen niemand meer genoeg opera om ’n muis aan die lewe te hou nie. Moolman het homself egter intussen stewig in die genre van ligte musiek gevestig, onder meer as een van die gewilde Drie Tenore en as ensemble?lid in trefferproduksies soos Gé: Hoor my lied, Klassieke Pêlle, Sonder Grense en Mario Lanza.

Op 17 April, 11 jaar nadat hy as solis by Truk-opera aangestel is, debuteer hy met ’n solokonsert van ligte musiek by die High Street-teater in Durbanville vir die bekendstelling van sy nuwe CD. En watter heerlikheid was dié konsert nie! Veral vir diegene wat gewoond geraak het aan die uur lange aanbiedings wat die kunstefeeste kenmerk, ’n euwel wat ongenooid ook die tradisionele teaters binnegesypel het.

Vir sowat twee uur lank het Moolman vermaak met gewilde liedere soos “Valencia”, “La donna é mobile”, “Liefling”, “O sole mio”, “Santa Lucia”, “This is the moment” uit die musiekblyspel Jekyll and Hyde en “Caruso”. Tussendeur het hy die gehoor vermaak met ’n verskeidenheid staaltjies wat, tesame met die sang, bygedra het tot die gemoedelike stemming van die waarderende gehoor. Soveel so dat hulle nie eens omgegee het dat sy CD weens ’n oponthoud by die platemaatskappy nie die aand daar beskikbaar was nie. Die bestellings het ingestroom!

Hoewel Moolman sy styl vir ligter musiek aanpas en die mikrofoon natuurlik sy taak as sanger makliker maak, verbloem dit geensins die krag en gehalte van sy stem nie. Dat hy met voorafopgeneemde begeleiding gesing het, het ook nie afbreuk gedoen aan die aanbieding nie, want die opnames was puik en hy het deurgaans vertolk wat hy gesing het. Veral die kitaarinleiding deur Mauritz Lotz tot die aria “Nessun Dorma” was verrassend ongewoon.

Moolman se enkele intonasiefoute weens onvoldoende ondersteuning kan ’n mens hom maar ook vergewe, omdat die geheel so ’n plesier was en jy bewus is van die eise wat so ’n lang program (en dalk ’n bietjie senuwees) aan ’n sanger stel.

Moolman se oudkollega van Truk, die bas Rouel Beukes, het self onlangs ’n CD genaamd Emotions bekend gestel en Moolman het dit goedgedink om hom ter ondersteuning in te span. Terwyl Moolman asem geskep het, het Beukes sy aansienlike reputasie gestand gedoen met emosieryke vertolkings van onder meer “Ol’ Man River” en “If I were a rich man”. ’n Hoogtepunt was die weergawe van “Gebed” van Koos du Plessis wat hulle saam gedoen het, asook Moolman se “Sprokie vir ’n stadskind”. Soos iemand agterna tereg opgemerk het: “Dis seker die eerste keer dat dit op die noot gesing is sedert dit geskryf is!”

Ná Moolman se konsert het ’n mens by die teater uitgestap met ’n gevoel van genoegdoening, want jy het geweet: dit was nou uitstekende waarde vir jou geld en ’n paar uur van jou tyd wat jy nie op ’n beter manier kon bestee het nie. Só hoort dit mos.

  • Om Jannie Moolman se CD te bestel, skakel Bondina Osterhoff van Gigs Galaxy by (011) 726 4345.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.