Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The Kentucky Cycle prikkel, voorbehoude ten spyt

Resensente: Sieraaj Ahmed en Marthinus Jansen van Vuuren

Teks: Robert Schenkkan
Regie: Charles Dumas
Met: Studente van die Departement Drama, Universiteit van Stellenbosch

Plek: HB Thom Teater van 23 tot 26 April, en van 29 April tot 3 Mei 2003 om 20h15. Vir navrae of besprekings skakel (021) 808 3216.

In die huidige tyd van meningsverskille en debat onder Suid-Afrikaanse (veral Afrikaanse) teaterlui oor wat presies die teater van vandag nodig het om innoverende eietydse werk voort te bring, beleef die Pulitzer-pryswenner The Kentucky Cycle deur die Amerikaner Robert Schenkkan sy Suid-Afrikaanse première - op Stellenbosch. Die studente van die Universiteit van Stellenbosch se Departement Drama staan onder die knap regie van Charles Dumas, ’n besoekende Fulbright-professor in Drama van die Penn State-universiteit. Hulle slaag daarin om ’n grootliks kwaliteit-vertolking van ’n kwaliteit-teks te gee.

The Kentucky Cycle is ’n historiese kragtoer wat handel oor vier generasies van ’n Amerikaanse familie, van die middel agtiende eeu tot die Amerikaanse Burgeroorlog. Die sage begin met ’n Ierse setlaar, Michael Rowen (Jan-Hendrik Opperman), wat grond bekom in die Kentucky-gebied.

Die kwessie van grond is ’n deurlopende tema in die teks, met verskeie bose kringlope wat daarmee gepaardgaan. Rowen “vat” vir hom ’n Inboorlingvrou en dwing haar in ’n huwelik in, met net een doel voor oë: om sy kinders te baar. Teen hierdie ongelukkige agtergrond word grepe uit drie agtereenvolgende Rowen-generasies uitgebeeld.

Die minimalistiese aanbieding van die teks slaag. Daar is geen oordadige dekor of kleurryke beligting nie; net die treffende, goed geformuleerde woorde van die teks wat op die verhoog uitgespeel word. Dít is ’n benadering wat ’n Pulitzer-prys verdien. In elke greep wat opgevoer word, is die oorblywende akteurs saam met die teatergangers toeskouers van die geskiedenis wat op die verhoog uitgespeel word. Sodoende word die illusie deurgaans opgehef. Die boodskap is duidelik: die stuk word in die gees van storievertelling opgevoer.

Tog pla sekere aspekte. Eerstens die aksente: Dumas meld in sy regisseursnota dat geen poging aangewend is om die produksie te veramerikaans nie. Waarom dan die powere pogings van sekere spelers om die Deep South-aksent te bemeester? Die Ierse aksente is wel geslaagd, maar dan word hulle weer oordonder deur ’n Suid-Afrikaanse aksent wat die teatergangers disoriënteer.

Suid-Afrikaanse elemente word geïnkorporeer deur Inboorlingdialoog in inheemse Afrika-styl te lewer. In ’n mate stel hierdie bekende Afrika-klanke teatergangers gerus, maar dit vervreem ook weer teatergangers van die Amerikaanse konteks waaraan daar gestalte gegee word.

Afrika-wiegeliedjies soos “Thula Baba” laat teatergangers ook soms kopkrap: handel hierdie stuk oor die Amerikaanse of die Suid-Afrikaanse geskiedenis? Is dít miskien juis die vraag waarmee Dumas sy gehore huis toe wil stuur? Deur die gebruik van sekere van hierdie plaaslike elemente trek Dumas duidelike parallelle tussen die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse verlede. In sommige opsigte werk dit, in sommige weer nie.

Veral Brenda Julius en Jackie van den Heever blink uit in hulle vertolkings van Star, Michael Rowen se Inboorling-houvrou. Die emosionele en fisieke eienskappe van die karakter word deurgaans goed uitgebeeld. Eben Genis sorg vir komiese verligting in die rol van die skynheilige Ezekiel Rowen, Michael Rowen se kleinseun. In hierdie opsig sorg Stian Bam ook vir ’n lagbui of twee in sy vertolking van Jeremiah, die misterieuse boekhouer.

Dis jammer dat The Kentucky Cycle sy Suid-Afrikaanse debuut moet maak op ’n studentedorp waar ernstige, epiese teater beslis nie by die meerderheid studente aanklank sal vind nie. Veral nie as hulle verneem van die tydsduur van twee en ’n half uur van die stuk nie.

Nietemin sorg die effektiewe aanbieding van Schenkkan se teks deur dié groep studente dat twee en ’n half uur vinnig verbygaan. Beslis die moeite werd om te sien.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.