Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

JANA CILLIERS BRING INGRID JONKER-STUK WEER KAAP TOE

Jana Cilliers, wat onlangs vir die 2001 Fleur du Cap teatertoekenning vir beste aktrise in aanmerking gekom het, is terug in die Kaap met haar veelbesproke eenvrouvertoning Opdrag: Ingrid Jonker. Opdrag: Ingrid Jonker word vanaf 12 Maart vir ’n kort speelvak in die Baxter Sanlam Ateljee opgevoer.

Opdrag: Ingrid Jonker is in 2000 deur die ENB Teaterpaneel as Beste Nuwe Suid-Afrikaanse Toneelstuk en Jana as Beste Aktrise aangewys. Die stuk, wat in samewerking met skrywer Ryk Hattingh en regisseur Mark Graham die lig gesien het, het in 1997 met ’n uitverkoop speelvak by die KKNK gedebuteer en sedertdien uitverkoop speelvakke landwyd geniet. Cilliers is onlangs vir haar rol in The American Popess verlede jaar vir ’n Fleur du Cap benoem.

Ingrid Jonker se waterdood aan die einde van ’n kort, maar briljante loopbaan, asook haar ontwykende skoonheid en bekoring en die algemene persepsie dat haar lewe tragies was, het haar byna mistieke status gegee. Dit is egter oud-president Nelson Mandela wat dié tragiese digteres onder die aandag van die wêreld gebring het toe hy, tydens die eerste opening van die nuwe Suid-Afrikaanse demokratiese parlement in 1996, haar gedig Die Kind, voorgelees het. Haar plek as blywende ikoon in die Afrikaanse letterkunde is hiermee verseker.

In 1996 het Jana Cilliers, vars van haar verstommende triomf as Maria Callas in Terence McNally se onvergeetlike drama Master Class, begin soek na ’n nuwe uitlaatklep vir haar talente. Die studie van die kreatiewe proses in verhouding tot die werklike kunstenaarslewe het Cilliers gefassineer in haar skepping van die rol van Callas en sy wou die idee verder in verhouding tot haarself as kunstenaar ondersoek. ’n Vroeë belangstelling in Jonker se fragiliteit as mens sowel as ma het gestalte gekry in ’n program Ingrid Jonker: ’n Kind vol Geheime, deur Cilliers saamgestel en aangebied by die eerste Oudtshoorn Kunstefees.

IN 1997 het sy Mark Graham, haar regisseur in Master Class en Ryk Hattingh, skrywer van dramas soos Sing jy van Bomme en Mynhoop, genader. Die resultaat was Opdrag: Ingrid Jonker.

Die stuk is ’n interne monoloog waarin die aktrise (Cilliers) die kreatiewe prosesse van beide skryf en toneelspel ondersoek. Dis geensins ’n sentimentele huldeblyk aan Jonker nie. Die bekroonde verhoogstuk ondersoek sowel die kunstenaar en die mens met genadelose eerlikheid en insig. Dit raak verskeie aspekte van Jonker se onstuimige lewe aan, insluitende haar rampspoedige soeke na liefde, haar emosionele ineenstortings en haar komplekse verhouding met haar enigste kind, Simone.

’n Groot deel van Jonker se artistieke lewe word ondersoek deur haar digkuns waaraan Cilliers ’n vars en opwindende interpretasie gee. Daar word ook sterk emosionele parallelle getrek tussen die lewe van die digteres en die van die aktrise. Baie van die skryfwerk het gespruit uit persoonlike en professionele ondervindings van Cilliers self.

Opdrag: Ingrid Jonker is vanaf 12 Maart in die Baxter Sanlam Ateljee te sien. Vertonings begin om 20:15 van Dinsdae tot Saterdae. Twee middagvertonings word op 20 en 27 Maart om 14:30 aangebied. Afslag is beskikbaar aan studente en pensioenarisse asook blokbesprekings. Bespreek by Computicket, 083 915 8000.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.