Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The fence

Coenraad Walters

Geskryf en opgevoer deur Peter Hayes
Regie deur Jacqui Singer
In die Baxter Sanlam-ateljee tot 17 April 2003

Ek lek nog wonde nadat ek die rolprent The pianist gesien het toe ek regskuif vir Peter Hayes se eenpersoonstuk The fence.

Die feitelike gegewe waarop die stuk gebaseer is, is bekend: as jy dit nie uit nuusberigte van 1998 onthou nie, lees jy daarvan in die program en in die koerantknipsels wat in die foyer uitgestal word. Bowendien som Hayes die verhaal op binne die eerste minute van die stuk: Op een bepaalde Dinsdagaand in 1998 het die 21-jarige Matthew Shepard ’n kroeg in sy studentedorp (Laramie in die Amerikaanse staat Wyoming) verlaat saam met twee ander jong mans. Ongeveer 18 uur later is hy in die veld naby Laramie gevind: vasgemaak aan ’n heining, voos geslaan en vir dood agtergelaat. Hy is hospitaal toe geneem, waar hy ses dae later dood is. Die mees algemene verklaring vir dié haatmisdaad word daarin gesoek dat Matthew gay was.

Hayes dis egter nie ’n stuk emosionele manipulasie of pleitrede vir gayregte op nie. Hy betrek die gehoor dadelik deur direk, as homself, met die teenwoordiges te praat en enkelinge te vra om sekere voorwerpe vas te hou. Hierdie voorwerpe gaan haal hy tydens die stuk; elkeen verteenwoordig een van die tien betrokkenes by Matthew se dood wat Hayes uitbeeld. ’n Bos sleutels identifiseer die eienaar van die kroeg; ’n string pêrels word omgehang wanneer hy Matthew se ma is; brille, serpe, ringe en ’n manshoed word vir ander karakters gebruik. Hayes het gelukkig besluit om nie aksente aan te draai om die karakters te onderskei nie: klein aanpassings van die stem en handgebare help hom om van die een karakter na die ander oor te slaan. Die woorde wat hierdie karakters deur Hayes se mond spreek, is nie Hayes se maaksel nie. Hy het onderhoude met hulle geneem en hul werklike woorde gebruik om die stuk op te stel.

Die besonderse aanbieding, saam met die eenvoudige stel, verleen groot trefkrag aan die stuk. Hayes se innige benadering en sy (letterlik!) ontblotende eerlikheid omtrent homself as mens lei daartoe dat ’n appèl tot die rede gerig word. Die gehoor word nie emosioneel gemanipuleer nie.

Hayes slaag goed daarin om die essensie van die tien betrokkenes (ironies almal heteroseksueel) uit te beeld: van die droewige berusting van die ouers tot die energieke woede van een van die moordenaars. Hy wys ook op die vrae wat nooit beantwoord sal kan word nie, soos: Waarom het Matthew die kroeg verlaat in die geselskap van hierdie twee wat sy dood sou veroorsaak?

Die slotsom waartoe hy kom, is dat as ons almal klim op die heinings wat mense in groepe verdeel, dit dan sou platval en die onderskeid tussen “ons” en “julle” dan sou verdwyn — net “ons” sal oorbly. Hy noem nie alleen die homofobie wat uit die aanval spreek nie, maar ook onder meer sy eie rassisme, en hy verwys na die aggressie en militêre optrede in Irak. Voorts verwys hy terug na ’n vorige eenpersoonsopvoering, Get hard van 1994, waarin hy Suid-Afrikaners genoem het wat in haatmoorde op gays gesterf het. Hy noem weer hierdie name, maar vul dit aan, sluit onder meer die slagoffers van die Sizzlers-tragedie in Seepunt in. Dit sou alles vermy kon word, suggereer hy, wanneer die skeidings omval.

Is die slotsom te maklik? Is dit te ver geëkstrapoleer uit die een gebeurtenis? Miskien. Maar wanneer ’n mens magteloos voel oor magsmisbruik, wanneer jy jou tande stompies kners oor mishandeling, verkragting, misdaad, of ’n taxi wat voor jou inswaai, dan besef jy jy wens hy is reg; jy hóóp sy ideale wêreld kry vorm.

Ons almal behoort dié stuk te kan sien, omdat dit ons op intelligente wyse dwing om na alle kante van ’n saak te kyk sonder om te manipuleer. Dit roep ’n mens op om te sorg dat jou lewe, hoe klein of eenvoudig ook al, nie nutteloos geleef word nie. Dit laat ’n mens diep dink.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.