|
|
Die KKNK- en Grahamstad-feeste waar Boer en Brit (en swart en wit) deur die kunste (en kuier) verryk wordErns GrundlingJy hoor hulle van ver af. Die stemmetjies wat a capella sing, vol skril emosie. Sonder instrumente óf backtrax. Maar hulle sing hul harte uit. Met gebakte hande en n verrinneweerde mussie wat oopgevou op die gras lê en wag vir brons simpatie. Hulle is die straatkinders van ons twee groot nasionale kunstefeeste. Op Oudtshoorn sing hulle Ska-rumba en Boesmanland, op Grahamstad sing hulle die Click Song en Shosholoza. n Dekade terug was volbloedkunstefeeste regoor die land so skaars soos n internetkafee in die 80s. Vandag kan mens skaars tred hou met n nuwe fees-imperialisme wat ons landkaart, lewers en ledige ure vul. Dit is juis die onlangse bekgevegte oor die Volksblad-fees op SêNet wat my genoop het om n paar gedagtes oor vanjaar se KKNK- en Grahamstad-feeste te deel, aangesien dit Suid-Afrika se twee groot nasionale kunstefeeste is. Dit is nie soseer kommentaar, n terugblik of selfs n empiriese verslag nie. Die karwats is ook veilig weggebêre. Noem dit maar n middernagtelike gebrabbel deur n feesvoos verslaafde vryskutglyjakkals. Al wat nou op Big Brother II wys, is die twee katte wat baklei (die wat whiskas eet, nie die in bikinis nie), so daar is in elk geval niks beter om te doen nie ... Oudtshoorn en Grahamstad is soos twee verskillende planete in dieselfde feestelike konstellasie, met die gemeenskaplike doel om die kunste uit te leef en te bevorder. Daar is egter n hele spul fassinerende verskille én ooreenkomste wat in die huidige Suid-Afrikaanse werklikheid interessant is om te ondersoek. Op n basiese vlak is die verskil in seisoene, wanneer dit by die fees se aanbieding kom, relevant. Waar die KKNK gekenmerk word deur snikhete sonskyn (en n gebibber snags, veral in n tent), val die Grahamstad-fees saam met ysige winterweer. Dit het dus n natuurlike invloed op die onderskeie feeste se atmosfeer. Die twee dorpies se geskiedenis en geografie verskil ook hemelsbreed. Oudtshoorn, in die hartjie van die Klein Karoo, net so neffens die Swartbergpas, het n ryk geskiedenis. Net buite die dorp is die Kango-grotte, wat beslis n natuurwonder is. Verder het n kleurryke karakter soos CJ Langenhoven n baie spesifieke identiteit aan die dorp verleen. En dan is daar natuurlik die volstruise en die geskiedenis van die veer-industrie. Grahamstad is weer geleë in die ongenaakbare landskap van die Oos-Kaap, en het self ook n geskiedenis om van kennis te neem. Dit is hier waar die Setlaars en Xhosas toentertyd oorlog gevoer het, en Egazini (Place of Blood) is stil getuienis van groot veldslae. Die legendariese Xhosa-leier Makana het ook teen die heuwel buite die dorp gewoon, terwyl die Setlaarsmonument en Rhodes-universiteit die invloed van Britse imperialisme saam met hul name dra. Tog was Grahamstad deur die jare n liberale en kreatiewe hutspot, en die nasionale kunstefees het veral in die donker jare van Apartheid n groot rol daarin gespeel. Om die twee feeste beter te begryp moet mens natuurlik ook kyk na die borge. Waar die Grahamstad-fees vir jare ondersteun was deur Standard Bank as hoofborg, het dié bank vanjaar sy borgskap aansienlik verminder. Daar was dadelik groot konsternasie toe dié nuus bekend word en die doemprofete het hulself dadelik begin verlekker. Maar gelukkig het veral die Oos-Kaapse regering ingespring en gehelp dat daar vanjaar selfs meer mense was wat die fees besoek het. Die feit dat geld van regeringskant gekom het, het egter geen politieke demper op die fees geplaas nie. Trouens, die volgehoue en uitgebreide diversiteit van die vertonings was ontsettend welkom ... By die KKNK speel Nasionale Pers, veral die koerant- en tydskrifafdeling Media24, n integrale rol in die fees se opset, veral wat borgskappe betref. (Dalk die Klein Karoo Nasionale Pers Kunstefees? Grappie, grappie ...) Waar die fees natuurlik n wonderlike platform is vanwaar die maatskappy se tydskrifte en koerante bemark word en n volgehoue Afrikaanse leserspubliek aangemoedig word, is dit natuurlik ook n viering en uitbouing van die kunste in Suid-Afrika. Verskeie ander borge, soos Sasol, Parmalat en ook die Wes-Kaapse regering (wie is hulle premier deesdae?), het ook oor die laaste agt jaar hul geldwaentjies bygehaak. Die KKNK verskil dus in dié opsig van Grahamstad in die sin dat die Karoo-fees ook n spesifieke doel het om Afrikaans te bevorder en te laat juig (waarmee daar nie noodwendig iets verkeerd is nie). Grahamstad is weer meer eklekties ingestel en kom vanuit n totaal ander tradisie en milieu. Vanjaar was nostalgie en retro n belangrike tema by die KKNK, waar die Grahamstad-fees nie n spesifieke reklameveldtog geloods het nie. Geliefde TV-karakters soos Haas Das, Liewe Heksie en Sarel Seemonster het n terugkeer op T-hemde, lamppale en reklame-materiaal gemaak. Dit was beslis n slim taktiese skuif om veral n jonger generasie te betrek, hoewel Haas Das se terugkeer nie sonder kritiek was nie. Daar was heelwat vrae oor of dit gepas was om n ikon uit die vorige regime te gebruik as hoofsweep van n nasionale kunstefees se reklameveldtog. Iemand het selfs gevra of Haas Das nie dalk die Paashaas (Paas Das) is nie! Dit was egter gou duidelik dat Haas Das meer as welkom was by die KKNK. En hier speel humor n groot rol, want dit bly die een kenmerk van die Afrikaanse dinamika. Solank ons in die taal kan lag, is dinge nog orraait. Ek is nou nog baie spyt dat ek nie haas-tig genoeg was om betyds n Haas Das T-hemp te koop nie dáár is nou vir jou n gaping in my versameling! Mens kan tog n lansie breek vir nostalgie, want as n verteenwoordiger van die geslag wat grootgeword het met n televisie in die huis, is n terughunkering na ou helde van kinder-TV (bv Dawie die Kabouter, Brakkenjan en Niels Holgersson) een van die lekkerste tydverdrywe én aanknopingspunte na n paar glasies wyn. As die KKNK iewers nog n K kon inpas by hul kenmerkende akroniem, sou dit beslis vir kuier gewees het. Kom ons span Caps Lock in: KUIER! As Alan Paton vandag nog in ons midde was, sou hy dalk Braai the beloved country oorweeg het as titel vir n roman. Maar die (soms oordrewe) kuierkomponent is natuurlik goed én sleg. Vir baie mense is die KKNK, benewens die vertonings en kunste, die ideale plek om weer kontak te maak met ou vrinne en trawante. En dít kan mos nou nie sonder n grootskaalse gekuier gepaardgaan nie. Tog is dit asof die gekuier die laaste paar jaar al hoe meer begin toeneem het, tot op die vlak wat dit baie mense grensloos irriteer. (Laat ek sommer hier dit prontuit stel: Ek sukkel self om matigheid voor oë te hou as n fees eers op dreef kom; miskien het dít my aan die drink ... oeps ... dink gesit. Maar mens moet ook iewers seker maar n streep trek, want soms voel dit net asof die kuierkabaal die kuns self oorweldig, en selfs verswelg.) Hoewel daar vanjaar by albei feeste meer polisieversterkings was, en misdaad kenmerkend afgeneem het, het daar beslis meer drank by die KKNK gevloei as op Grahamstad. En dit, vanuit n kuierperspektief (let wel: NIE KUNSPERSPEKTIEF NIE), maak die KKNK tegelykertyd lekkerder én slegter as die Grahamstad-fees. By Grahamstad is die vibe heelwat stiller die wyntent maak byvoorbeeld reeds na 17:00 saam met die Village Green se stalletjies toe. Saans kuier mens vanweë die koue eerder binnenshuis by plekke soos die Long Table Restaurant of die warm kaggels van Die Taphuis. As iemand met n redelik soliede Afrikaanse verwysingsraamwerk mis ek soms die uitbundigheid van die KKNK se kuiersessies, maar dis wonderlik om in Grahamstad te loop, wetende dat jy nie deur n dronk massa oorval gaan word wat al strompelend Ou Ryperd a capella sing nie. Of Die Stem. Dit gee mens ook kans om in rustigheid na te dink oor alles wat mens die dag beleef het. Die feit dat Grahamstad minder verkeer het as die KKNK, maak parkering makliker, maar sorg ook vir n totale aanslag van car guards. As mens elke dag op tien plekke stop (wat heel moontlik is tydens n fees) en vir elke car guard en hawelose bedelaar R2 gee, is mens se beursie beslis dolleeg teen die einde van die week. Maar dit vir eers daar gelaat ... Mens kan baie kwytraak oor die vertonings wat by die twee feeste aangebied word, maar dit het die meeste resensente reeds gedoen. Hier volg kortliks n paar opmerkings en gedagtes wat sommer nou in my kop opkom dit sal n tesis verg om gestand te doen aan al die vertonings en wedervaringe wat mens by die onderskeie feeste beleef: Albei feeste lewer ongetwyfeld n belangrike bydrae tot die kunste in Suid-Afrika. En dit is ook logies dat party mense die een bo die ander sal verkies. Ek stel voor dat mens n draai by albei maak, en self besluit. Gelukkig is daar twee wonderlike padkafees n ent buite beide feesdorpies wat enige terugrit huistoe die moeite werd maak. Die Nanaga Padkafee op die N2 buite Grahamstad het beslis die beste pasteie onder die son, en dit pla niemand om in die wye oop Karoo op Route 62 tot R8 vir n bier by die magiese Ronnies Sex Shop uit te haal nie. Die dae is verby dat Boer en Brit en swart en wit moet swaarde kruis, veral wanneer dit by kunste kom. Hoewel elkeen van die twee feeste hul eie geur het (wierook vs braaivleis ... grappie!) is daar tog baie wedersydse lesse wat geleer kan word. En albei moet op die ou einde die hele nasie dien, want dit staan so in hul onderskeie name! Ek dink egter steeds dit sal wonderlik wees om eendag by n kunstefees rond te dwaal en die Click Song en Boesmanland op dieselfde straathoek te hoor ...
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |