|
|
Opera met n verskil vermaakCor ScholtzThe Beggars Opera (Ibali looTsotsi) Opera is vir my n saak van groot erns. Ek hou van opera in tradisionele formaat en vermy gewoonlik moderne verwerkings, wat myns insiens dikwels die integriteit van die hoogste prestasies van die menslike gees geweld aandoen. Derhalwe is ek in die meeste se oë waarskynlik bietjie van n puris. Die feit dat ek hoegenaamd van opera hou en dit gereeld bywoon, maak seker van my n Eurosentris daarby. Dít kan ek ongelukkig nie verhelp nie, al wil ek. Ietwat skepties is ek dus na Dimpho Di Kopane se produksie van The Beggars Opera, deel van Spier se somerfees. My normale konserwatisme wanneer dit by opera kom, is egter reeds uitgedaag deur die feit dat die oorspronklike Beggars Opera. allesbehalwe die suiwer produk is van n magiese vennootskap tussen librettis en komponis. Die oorspronklike teks is deur John Gay (n tydgenoot van Jonathan Swift en Alexander Pope), maar die musiek is n sameflansing en verwerking van tradisionele Engelse volkswysies en ballades deur Christopher Pepusch. Dié laslappie-musiekspel is eintlik bedoel as n parodie op die ernstige operas van komponiste soos Händel. Die formaat van die opera seria, resitatief-plus-aria-da-capo word gebruik om die spot te dryf met die ongeloofwaardige verhaallyne van die operas van dié tyd, waarskynlik ook n saak van groot erns vir die teaterpubliek van Georgiaanse Engeland. Punt is: die première in 1728 in die Theatre Royal, Lincolns Inn Fields, was n wegholsukses en Händel en dié se ernstige kollegas se egos is waarskynlik ietwat gekrenk. Die verhaal wentel om die verbode romanse tussen Polly, dogter van die mafiabaas Peachum, en Macheath, n aantreklike struikrower wat vir haar pa werk. Peachum se invloed strek tot in die polisie, en enige onderpresterende rowers in sy diens word summier aan die owerhede uitgelewer om sodoende dié tevrede en instemmend te hou. Mnr en mev Peachum hou glad nie daarvan dat hul dogter haar met n misdadiger ophou nie en hulle bekonkel die effektiewe verwydering van Macheath. Dimpho Di Kopane, oftewel die South African Academy of Performing Arts, is n dinamiese teatergroep van sowat veertig sangers wat enkele jare gelede gestig is en hul eerste buiging in Desember 2000 by die Spierfees gemaak het. Sedertdien het hulle al in Brittanje, Australië en Kanada opgetree in produksies soos The Mysteries en Carmen. The Beggars Opera word deur DDK n nuwe, Afrika-gedaante gegee. Die kamerorkes word deur n ensemble van tradisionele tromme vervang (die sangers is merkwaardig nootvas in n andersins toonvakuum), en die oorspronklike gesproke dialoog word hier en daar met n Xhosa-tussenwerpel of twee besprinkel. Teen alle verwagtinge (of eerder vooroordele) in, het dit vir my gewerk. Die aksie beweeg teen n vinnige pas en verloor nooit momentum nie, selfs nie tydens teerder oomblikke nie. Die humor van die oorspronklike teks blyk tydloos te wees en pas amper soomloos in die Afrika-mantel. Die sang is oor die algemeen voldoende; tog dink ek nie dié opera-produksie gee voor om briljante sang te lewer nie. Hier moet ek egter die naam van Bulelwa Cosa uitsonder wat die rol van Lucy Lockit, dogter van die tronkbewaarder, speel. Die gehalte van haar sang is puik. DDK se Beggars Opera het my laat lag en vir my pret verskaf. In Mozart of Donizetti se komiese operas vergeet ek gewoonlik van die onsnaakse storie en luister net na die musiek; in hul tragiese operas is ek in vervoering. Ibali looTsotsi het die musiek ondergeskik aan die komedie gestel, en die komedie was n verfrissende viering van multikulturaliteit deur n talentvolle groep sangers en akteurs, waarna meer mense moes gaan kyk.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |