Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Boontjierank van ’n ander kleur

Ingrid Lehmensich


’n Handjievol boontjies, ’n skrikwekkende reus, ’n dapper held … en Spider-Man kom tot die redding!

Kinders, ouers, tannies, oupas … eintlik sommer almal is beslis grootskaalse vermaak te wagte wanneer hulle die nuutste Jack and the Beanstalk by die Johannesburgse Civic-teater gaan kyk.

Janice Honeyman, wat ’n aanbieder was toe televisie net uitgekom het in Suid-Afrika, en nou seker al amper by die 80 moet trek - het dit wéér gedoen! Haar vertonings raak net groter en pittiger jaar na jaar.

Die verhoog en beligting sal enigeen se asem wegslaan: die allermooiste kunswerk is op lae gaas geskilder wat dan, saam met slim beligting, elke toneelwisseling laat lyk asof jy deur ’n baie groot en duur kinderboek blaai. Janice het die hulp van die Britse maatskappy Qdos Entertainment, die grootste vervaardiger van pantomimes ter wêreld, ingeroep om van dié eeue-oue sprokie ’n betowerende extravaganza te maak.

Soos by enige pantomime of Shakespeare-toneelstuk draai dit gewoonlik nie om die held nie. Die held is gewoonlik mooi, maar vaal, in vergelyking met die ander hoofkarakters, en hier is dit weer die geval: daar’s die jonge Jack the Joller (gespeel deur Francois Schreuder van Zing-faam) wat als “hectic” vind. Jack raak verlief op die aanvallige Raspberry Rose (Tessa Denton) en hy moet eers die reus (wat ’n vierverdieping-robot is) doodmaak voor die twee ’n “happily ever after” lewe kan beleef.

En dís waar Tobie Cronjé - of liewer Henry Hideosa - inkom. Want Henry is die reus se handlanger en “I’m just carrying out the Giant’s Latest Threat”! Henry Hideosa sal in die mees dramatiese kostuums jou melk uit jou koffie steel. Hy’s ook die skelm tannie wat vir Jack so verneuk dat hy sy ma se enigste koei, die grootogige Daisy/Nespré on Hooves, met ’n erg pienk uier, verruil het vir ’n paar All Gold-boontjies.

Tobie Cronjé se spel is, soos gewoonlik, onverbeterlik. Chris Barnard sou seer sekerlik sy voortande verruil het vir die ewige jeug-towermiddel waarop Tobie skynbaar moet wees, want hy beweeg soos ’n sestienjarige op die verhoog. Daar’s een plek in die stuk waar Tobie ook ’n rukkie lank ’n kort vroutjie moet speel, wat hom natuurlik noodsaak om aand vir aand op sy kniee te wees, en dít wil gedoen wees vir enige 30-jarige, nevermind 58-jarige!

Die immergroen Basil Appollis moet ook spesiale vermelding kry. Hy speel Jack se eksentrieke en skreeusnaakse ma, Dame Dora Dimpledumpling, wat ook daarop uit is om ’n man te vang. Met sy/haar kostuums het Janice duidelik heeltemal oorboord gegaan, tot groot vermaak van die gehoor.

Daar’s ook pittige woordspelings wat spesiaal vir grootmense bedoel is, maar hulle word gewoonlik in weggooilyne gedoen, dus is die kinders beskerm.

Dan’s daar ook ’n hele paar ander kleurryke karakters wat aan jou hartsnare trek, soos byvoorbeeld die oulike Simple Suzy, sussie van Simple Simon (gespeel deur Bronwyn Evans).

Al karakter wat my effe geïrriteer het, was die fee Fenella Fynbos, gespeel deur Val Donald Bell, die een wat Madam speel in Madam and Eve. Hoekom sy altyd, maar altyd, in opwaartse infleksies praat, gaan my verstand te bowe.

En dan kom die redder van die aand: Spider-Man! Hy sweef uit die dak uit van agter deur die gehoor nadat die fee en Jack vir hom ge-SMS het vir hulp. Ek moet sê, selfs ék het vlinders in my maag gekry, en ek is nie eens ’n Spider-Man-fan nie. Die hulp van Karl Magee, ’n spesiale Bakleiregisseur, of Fight Director, van Brittanje is hiervoor ingeroep, sodat die Superheld met die reus kan afreken.

Neem die kinders en gaan kyk Jack and the Beanstalk. Julle sal nie spyt wees nie, al is dit net om na die dekor en kostuums te gaan kyk.

1 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.