|
|
1975 se appels val trefsekerWillemien Brümmer1975 Wat onthou jy nou eintlik oor 'n jaar wat lukraak uitgekies word uit die apartheidsgeskiedenis? Hoe skei jy jou drome en persoonlike herinneringe van dit wat almal onthou, en hoe sorg jy dat jy jou nie weerspreek nie? Bowenal: Hoe doen jy verantwoording vir dit wat jy tóé geweet het? Dit is van die kernvrae wat die dramaturg Saartjie Botha vra met haar toneelstuk 1975, wat tans in die Kunstekaap-arena opgevoer word. 'n Jong joernalis (De Vaal) voer 'n onderhoud met twee "ou hande" (Cilliers en Kellermann) wat in 1975 joernaliste was by die dagblad Beeld. Hulle vertel hoe joernaliste in "stinkende grys gerookte kamers gesit het met hul tikmasjiene" en hoedat kabinetsministers op die Pers se direksie was. Elvis Presley en Maria Callas het nog geleef, Antjie Krog het nog "huisvrougedigte" geskryf, en die eerste skote is gevuur in die bosoorlog. Maar wat De Vaal veral van die twee grandes dames wil weet, is dit: "Wat het julle gemaak met wat julle geweet het?" Hy wil hul neuse vryf in die selfgenoegsaamheid van hul herinneringe en die "baggage en guilt" waarmee sy generasie nou noodgedwonge moet leef. Op die oppervlak is 1975 dus 'n soort Waarheid-en-Versoeningskommissie waar indringende vrae gevra word oor die verlede en veral oor die aandeel van die Afrikaanse, NP-gesinde media aan die apartheidsjare. Soos in Pieter Fourie se toneelstuk Boetman is die bliksem in word die ouer generasie die beskuldigdebank ingedwing. Gou kom jy egter agter daar's méér. Wat jy sien, is nie teater soos jy dit "ken" nie - dis 'n repetisie vir 'n drama. Die teks word plek-plek herhaal en dele daarvan word uitgelaat. Die drie akteurs speel nie net die rolle van die drie joernaliste nie; hulle speel ook hullesélf. Gedeeltes van die akteurs se persoonlike geskiedenis word opgerakel, en hulle praat oor die stand van die teater. Uiteindelik word teater, verlede en herinnering met mekaar vergelyk, selfs gelyk gestel. Want al dié dinge is tog 'n spel met die werklikheid. Dié "spel" word op vernuftige wyse geïllustreer deur die inkleding van die verhoog as 'n soort snoekertafel waarop die ouer en jonger generasies mekaar probeer troef. Die akteurs se magsposisie verskuif soos hulle van stoele verwissel, en hulle stamp nes snoekerballe teen mekaar. Net, in plaas van gewone snoekerballe het Basson egter gekies om rooi en groen appels te gebruik wat op hul beurt die simboliek van die Sondeval oproep. Die drama kon maklik verval het in bloot 'n slim postmodernistiese spel tussen werklikheid en droom, hede en verlede. Maar danksy 'n knap teks, fyn tydsberekening en meesterlike spel deur veral Cilliers en Kellermann, word dié val vrygespring. Al verwys De Vaal spottenderwys na die twee verhoogdivas as die "ou koeie" van die teater, is dit 'n beléwenis om hulle saam te sien speel. Hulle voed mekaar en hits mekaar aan, en hulle het dié soort formidabele verhoogenergie wat jou nie vir 'n oomblik toelaat om weg te kyk nie. En dít wil gedoen wees. Want 1975 is 'n serebrale stuk, gemik op 'n intellektuele gehoor, wat in minder geoefende hande selfs die slimmes sou laat gaap het. Maar veral Botha, Basson en Kellermann het 'n lang geskiedenis van samewerking, en daar's al gefluister dat hulle selfs van hooi sou kon goud spin. Dalk het hulle dit nou wéér reggekry. Want daar's min ander wat die satgeprate Suid-Afrikaanse debat oor skuld aan die verlede weer kan laat skitter.
Wil jy reageer op hierdie inligting? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |