Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 9: Beaufort-Wes - George

Donkinstraat se hoofdoel is om motors sonder te veel moeite deur Beaufort-Wes te kry. Die misnat oggend sleep karakters met hom saam in dié hoofstraat in, soos die jong vrou wat twee kinders, een aan elke hand, veilig oor die pad wil bring. ’n Man in ’n bruin jas bestudeer die voorkant van ’n brief, in die hoekie gemerk Permit Mail, intens terwyl hy stap – hy maak dit nie oop nie. Die boonste koppie van ’n lemoenskil land in die sloot. Van iewers af, op pad iewers heen.

Ons is warm op Gert Vlok Nel se spoor. Soveel so dat ons gou aan die raam van sy voordeur klop (eerder as die deur self – dit mag dalk inval). Die spoor is koud – Gert is nie hier nie. Mens kan nie help om dit so te verkies nie – dit sou net nie hy gewees het as hy beskikbaar was en ons ingenooi het vir ’n teetjie met Jolly Jammers en botter nie.

  • Beaufort-Wes se beautiful sms’e

Annette van der Merwe is die hoërskool se Afrikaans-onderwyseres. Sy het ’n ligblou woltrui aan, met knopies voorop. “Hierdie is Afrikaanse omgewing. Jy gaan nie ophou om die taal te praat nie, al is dit aan die verander.” Sy sukkel met die groot takhaarhond op haar skoot. In die sitkamer sit haar vriendin en kyk televisie. Dit is ’n fliek op M-Net; die klank is hard en oral. “Ouers het nie meer tyd vir hulle kinders nie. Hulle sit en praat nie meer met mekaar nie; die kinders leer van die televisie af. Ouers hardloop net rond, hulle is te besig ... ja, selfs op Beaufort-Wes!” lag sy. “Maar ek wil ook nou nie ‘teen tegnologie’ klink nie. Die sms’e, die videospeletjies, dis alles goed en wel. Wat wel gebeur, is dat die idiomatiese Afrikaans gebrekkig raak, jy weet, daai uitdrukkingsvermoë. Dit gaan oor blootstelling – dit is daarom dat die Engels vir die jongmense soveel makliker vloei.”

Iemand in die sitkamer skreeu, “Yeah, an image of hope ... I like that.” Die halfleë bottel wyn en foeliestukke in die kombuis antwoord nie terug nie, ook nie die skildery van Tafelbaai teen die muur of die een van ’n Karoo-landskap (Edward Spies, 1989) langs hom nie. “Mens kan nie ’n puristiese houding teenoor Afrikaans hê nie; dit is aan die verander. Dit is die uitdrukkings wat nie moet verlore gaan nie.”

  • Klaarstroom – wil jy daai gewel gaan aanrand?

Klopjag sing iets van Klaarstroom – ek dink dit is dat die paaie en die petrol hier opraak. Hy’t ’n punt beet: die tamatierooi tong proe-proe al aan die metertjie, onder ’n prentjie van ’n petrolpomp. En hier is nie veel paaie nie, maar wel ’n koppie tussen die huisies en die begraafplaas.

“Ek kan mos nie lekker grappe maak met ’n man in Engels nie! Ons gaan nie lekker lag nie,” stel Awie die saak met ’n gerolde Boxer-sigaret in sy hand. Hy wag vir ’n geleentheid Oudtshoorn toe, die ander wag net vir geleenthede. “Ek is van my moeder se skoot Afrikaans. Ek is nie ’n Xhosa nie, ’n ander man is nie Afrikaans nie, maar ons leer by mekaar.”

Sampie Wildschut stap nader. Met ’n hees stem: “Afrikaans is mos deel van Suid-Afrika, man! Jy kan dit nie wegvat, dis van bo vir jou gegee! Hulle wil graag die Afrikaans laat doodgaan, maar hulle kan nie! Nee, ons sal daarteen staan.” Sy opgewondenheid kry die res ook vinnig opgewonde.

’n Ander man kom die koppie uitgestap en draai na Sampie: “Wil jy daai gewel gaan aanrand?” Klaarblyklik is daar ’n gewel op die dorp wat geverf moet word.

Awie gesels weer. “Die mense in die Kaap, hulle sal vir jou skryf “weet nie”, maar hulle sal sê “wietie”! Ons praat nie so hier nie. En gaan hier op De Rust se kant toe, daar’s vreemde verskynseltjies. Maar dis alles Afrikaans.”

Jacob Lewerlot praat met ’n diep stem: “Klaarstroom se Afrikaans is die mooiste Afrikaans. Dit is regte Afrikaans … Waar’s my frokkie?” vra hy aan iemand wat die koppie stadig opstap.
 
“Ek het nie jou frokkie nie,” antwoord hy rustig. Hy draai na ons. “Weet jy dat jy ses-en-twintig keer oor die rivier ry in Meiringspoort?”

“Die bakkie is hier, koebaai, koebaai,” draf Awie weg.

  • Oudtshoorn – oor drank, drama, bands en die X-faktor

Daar is ’n kunstefees elke jaar in April op Oudtshoorn. Dié wat al daar was, sou sekerlik al water gaan haal het onder by die Rock Art Café. Rob is nou al ses jaar lank die Engelsman-eienaar, maar het al voor dit die dorp en die fees begin besoek. “Ja, ek was baie beïndruk met die fees. Dit was ’n fantastiese poging om weg te beweeg van die ‘ou’ Afrikaans. Jy kon sien die organiseerders het dit doelbewus probeer.”

Wat is ’nuwe’ Afrikaans?

“Afrikaans is ’n taal wat ongelooflik ryk is aan uitdrukkings … dit het daardie iets wat dit eie aan Afrika maak. Engels het dit nie. Afrikaans is ook nie ’n moeilike taal om aan te leer nie; ek dink Afrikaans kan daardie brug tussen gemeenskappe wees. Dit is nuwe realiteite, en Afrikaanse mense was nog altyd mense met sterk opinies.” Oor die musiek het hy heelwat te sê. “Daar is ’n helse gap tussen goed en sleg. Baie ouens kan daardie gap oorsteek, maar die meeste kan nie. Hierdie backtrack-nonsens is ’n mors van tyd; ek laat hulle nie hier speel nie. Dit moet oorspronklik wees. Afrikaanse liedjies is dikwels soos Afrikaanse boeke – die Afrikaanse ervaring kan ten beste in Afrikaans vertel word.”

Die woord Afrikaans(e) het agt keer in daardie paragraaf voorgekom, en vier keer in die laaste sin.

“Laasjaar was die langnaweek nie ingesluit in die fees nie. Dit was sleg vir besigheid, maar goed vir die fees! Daar word ook nou minder produksies na die fees gebring, maar dis van hoër kwaliteit. Die ander mense as net die wit Afrikaanses word ook al meer betrokke – dis goed om te sien. Maar eerlikwaar, baie feesgangers hou nie daarvan nie.” Rob sluit af: “Wanneer mense die bagasie wat saam met Afrikaans kom, kan afgooi, sal mense weer die taal kan waardeer. Daar’s nog ’n helse ver pad om te stap … miskien die volgende generasie,” glimlag hy.

  • George – kan ’n mens liefde maak in Afrikaans?

“Nee, verseker nie! Ek is Afrikaans ... but not proud of it,” stel die blonde meisie dit. Die kuierplek Coyote’s Cactus in George is vol vir ’n Woensdagaand. Kan Afrikaans die taal wees van die intieme? In watter taal fluister mens woorde in ’n beminde se oor?

“Afrikaans is lame, lame, lame. Dit klink net crap. Daar is nie spiritual woorde in Afrikaans nie, jy kan dit nie voel nie. Ek het nog nooit ’n mooi Afrikaanse gedig gelees nie.”

Die res van die tafel reageer dadelik strydend, terwyl die kelnerin nog ’n Hunters voor haar neersit. Daar is mooi Afrikaanse gedigte, volgens hulle.

Die ou met die bruin hare stel dit goed: “Ons het briljante sangers. Die mense hou net ongelukkig van die kak.”

Die gestryery hou aan oor Afrikaans en boepens-en-brandewyn-assosiasies, die feit dat jy “passion” meer kan “express” in Engels, en ’n uitdaging aan iemand om in Engeland te gaan woon en nie haar taal te mis nie.

Aan die hoek van die tafel sit ’n meisie met lang, bruin hare. Sy luister heeltyd, sê dan vinnig: “Ek wil net sê …” Half verbaas draai die res van die tafel na haar. “Mense het vergeet … óns is besig om te vergeet … Afrikaans is mooi.”

Die blonde meisie rol haar oë.

Die aand is vol reaksies: Kan ’n mens liefde maak in Afrikaans? “Ja,  verseker.” “Nee, mens klink te ernstig, dit klink of jy wil trou.” “Afrikaans het te veel woorde.” “No, you can’t.” “Dit gaan oor die twee persone.” “Ek is die bewys daarvan dat daar in Afrikaans liefde gemaak kan word.”

Ons het vandag die 4 000ste Afrikaanse kilometer agtergelaat. In George het die whiskey in die bottel wat Pot ons op Hopetown in die hand gestop het (“vir die langpad, man”) laaggety bereik … drie skepe gaan binnekort op die rotse loop.

Die een ou in die kuierplek het gesê as jy eers in Engeland is, sal jy trots op Afrikaans raak, en dit mis ... dus ’n oog-en-hart-geval. Ek wonder of Jakob Lewerlot Engeland op ’n kaart sal kan uitwys.

Tien dae lê agter, met nie veel meer om daarvoor te wys as modderige voete, stink klere, volgekrapte boekies en ’n paar ekstra stoppels nie. En ons nader.

Tata

Henry


Terug na Taaltoer

LitNet: 6 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.