Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 7 & 8: Bloemfontein - Beaufort-Wes

’n Fier veldwagter van die Karoo is die sekretarisvoël, hier dertig meter regs van die teerpad by ’n halfweg tussen Bloemfontein en Petrusburg.

“Askuus, Meneer,” vra ek, “kan ek u so laat op ’n Maandagmôre pla met ’n navraag?” 

Die statigheid self draai hy sy langnekkop bo die droë waaigrasse en knieghoë miershope uit my kant toe en “Hmmmm?”

“Ek stel belang in die ontstaan van Afrikaans en Oom is mos nou al jare ’n sekretaris. Ek’t gehoop Oom kan my die notule gee van die Groot Vergadering toe hulle die dag besluit het om die taal te maak. Wat was die motivering, Oom?”

Die oom sug – hy’s moeg vir die vraag. “Vlieg dan tog agter my aan.”

Die wêreld is ’n uitgestrekte geel wanneer jy die Vrystaat in die rigting van Hopetown verruil vir Noord-Kaap. ’n Roesbruin valkie se lae swiep oor die pad voor ons vervang die ongeluk wat ’n swart kat sou bring.

  • Maandag, Hopetown – Hoender vir ’n uitstappie

Met ’n “Welkom in die Gebied” nooi Danmer Lucas (oba Pot) ons na sy huis in Hopetown. Hy’s ’n finalejaar BRek-student saam met ons aan die US. Sy pa is ’n Afrikaans-onderwyser hier. “Hy’t ’n graad by Wits gekry – dit was destyds een van die min universiteite waar ’n bruin man kon studeer.” Eddie, sy vrind, steek met ’n plastieksak die vuurtjie aan op ’n sinkplaat in die agterplaas. Toe ons biere halfpad is, gooi Danmer die heerlikste Karoo-lam oor die kole.

Batta kom deur die erf langsaan gestap met ’n dofwit emmer. Hy en Danmer begin gemoedelik gesels, maar van Batta se kant af sukkel ek sowaar om kop of stert van sy Afrikaans uit te maak. Die man praat ’n Plattelands wat oom Isak, die Koringberger van Dag 1, besonder trots sou maak. Ek vang net die woord koeksister en dis dan ook wat Pot vir ons vir voorgereg aanskaf. Batta kuier later sommer saam en tydens die na-ete-koffie spot Danmer hom oor die hoender en die polisie. Batta hou voet by stuk: hy’t die hoender net vir ’n uitstappie gevat!

“Kyk hier om jou,” sê die sekretaris-oom. “Wil jy nou die mense hier vra hoekom hulle Afrikaans is?” Ek voel bietjie simpel, want dit klink werklik onvanpas – antwoord die oom dus nie.

  • Hanover – Ons wil so maklik die taal vir onsself toe-eien

Die vriendelike boeretannie maak vir ons die voordeur van Bun Clody Inn op Hanover oop. Dis reeds donker en bitterlik koud – nie ’n wolkie voor die helder sterre nie.

Sy maak ons tuis met ’n warm koppie koffie in die gastehuis se sitkamer en ons kry ’n breedvoerig-berekende voorspelling oor wie die Afrikaanse Idols gaan wen. Sy kyk graag daarna: “Besef jy hoe hierdie program wys hoeveel sprekers daar werklik van Afrikaans is? Jy weet, ons wil so maklik Afrikaans vir onsself toe-eien.”

Ek en Henry kyk vir mekaar. Ons is sensitief vir “ons” teen “hulle”. Maar dis duidelik die tannie het nie tyd vir politieke korrektheid nie – sy’s ’n boeretannie wat al die jare geglo het Afrikaans is haar taal en nou dring ’n besef deur: dis nie net hare nie.

“Kan jy iemand keer om Afrikaans te wees – lidmaatskap beheer?” vra oom Sekretaris. “Dink jy daar was ’n Vergadering waarna die Bestuur ’n prospektus aan die algemene publiek uitgereik het met uitnodigings om aandele te koop?” Die oom maak my ongemaklik. So dan is Afrikaans seker maar ’n oop klub – as jy hom eers praat, is jou lidmaatskap verseker. Iets van ’n geboortereg? Vra mens iemand of hy wil lewe?

Die nag skakel Hanover af en ons slaap soos dooies.

  • Dinsdag, Hanover – Die biblioteek is jou kragstasie

Hanover se oggendkoue is dramaties in die skaduwee. Die dorp se piekanien-koppie bak uitlokkend in die môreson.

“Kom ons klim dit en kyk of ons Afrikaans kan sien,” nooi Henry my.

“Wat as Afrikaans by die punt van ’n reënboog lê en ons in elk geval nooit daar gaan uitkom nie?” blus ek sy avontuur.

Daar’s ’n biblioteek hoër op in die straat.

Kleintydse herinneringe aan die wonderwêreld van HS van Blerk en Fritz Deelman kom skud blad op die stofkraak-houtvloer, vanuit rakke kophoogte vol vreugde. Maria Sthonga neem waar as bibliotekaresse – van jongs af al eet sy “uit een skottel” met die mense van die omgewing, ook die wittes. Sy wys ons trots die Afrikaanse, Xhosa en Engelse afdelings.

“Ek like my taal, maar ek is lief vir Afrikaans ... Engels ook, maar die Engels is bietjie swaer vir my,” vertel die Xhosa-vrou. “Ek kan nie help nie, ek raak groot by die Afrikaans.”

“Wat dink jy van hierdie as die notule van die Groot Vergadering?”

“Hoe bedoel Oom? Hierdie is mos iets wat na die Groot Vergadering gekom het. Die Groot Vergadering het mos Afrikaans moontlik gemaak?”

“So jy dink die notule is klaar geskryf? Wat sê jy van daardie plakkaat agter Maria: ‘Kennis is krag – die biblioteek is jou kragstasie?’ As die Groot Vergadering dan kamma die krag aangeskakel het, dan kan hulle dit mos weer afskakel ook. Watter vergadering se bestuur mag ’n boek afskakel terwyl iemand dit nog wil lees?”

  • Victoria-Wes – Die taal hoort in die mond van dié wat hom praat

Uit Hanover draai mens so 40 km voor Drie Susters regs van die N1 af. Die baie eetplekkies in die lang hoofstraat vertel van al die toeriste wat soms hier deur Victoria-Wes moet kom. Dis ’n dorpie waar die mense jou groet.

Ons is reeds op die kunsvlytwinkeltjie se voorstoep wanneer Elsabé Bester net na twee oopmaak. “Die mense hier – as jy praat van ’n bedreiging van Afrikaans, sal hulle vir jou lag.” Sy lei ons na binne, waar ons ’n lekker middaghappie bestel.

Ek besef dat ek hierdie woorde al baie gehoor het – op plekke soos Victoria-Wes is omtrent almal Afrikaans.

Hannes Horn en Johan Hartogh woon al drie jaar op Victoria-Wes. Dis ’n mooi oudorpse huis met die tipiese ommuurde onderdak, smal, lang stoep reg teen die hele voorkant van die huis. Henry, toermaat, klop en terwyl ons wag, verkyk ons ons aan die driedimensionele kunswerke teen die huismuur.

Hannes en twee van hul honde maak die deur oop. “Kom binne, kom sit,” beduie hy hartlik na binne, waar ons vinnig tuis raak op ’n Victoriaanse sitkamerstel wat na ’n tydjie onderbreek word deur ’n koppie koffie. Hy dring aan op “Hannes”, al draai sy stories vinnig by die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog, waarvan hy persooonlike herinneringe het. Vir 13 jaar was betrokke by Tukkies-drama, waarna hy hom onder andere in Windhoek gevestig het. “Namibië is Afrikaans,” laat val hy terloops.

Hy vertel van die dae van die “Vên dir Murwu’s,” toe die verarmde Afrikaner in stede begin vestig het en Engels grênd was. Dis ’n fase wat verbygaan; sommige bruin mense gaan nou deur dieselfde fase, sê hy.

Sy vriend Johan sluit by ons aan en val vinnig weg wanneer ons praat oor Afrikaans as apartheids- of onderdrukkingstaal. Wat dan nou van diegene wat dit voor apartheid gepraat het? Of diegene wat dit gepraat het terwyl hulle onderdruk was?

“Afrikaans hoort in die mond van diegene wat hom praat,” sê Hannes.

Ons begin praat oor eienaarskap en ek spekuleer dat dit in wese eintlik misleidend en arrogant is om aantygings teen Afrikaans te maak asof dit ’n apartheidstaal is. Dis as ’t ware om Afrikaans bloot gelyk te stel aan een staatsbestel en so sy sprekers van eienaarskap te ontneem.

Hannes is vinnig trots oor die “groot hoogtes” wat Afrikaans in ’n kort tyd bereik het. Wat is dit wat Afrikaans tot daardie hoogtes gekry het? Ons praat oor die instellings en sosiale strukture wat ’n taal uitbou. Oor ’n paar dinge is daar vir Hannes en Johan wel duidelikheid: die voortbestaan van die taal lê in die skryf daarvan en jy moet ook die taal hoor om dit in jou mond te kan kry, daar waar dit hoort. Verder is dit die skynheiligheid van die Afrikaner-Calvinisme wat die taal bedreig.

Hul afkeer van die ou NP-regering en dit wat hulle daarmee assosieer, is duidelik te bespeur: “Kyk daardie vieslike fallus daar by die Pêrel,” verwys Hannes met ondersteuning van Johan na die Taalmonument. In my enigheid wonder ek oor ’n kontras: Hannes wat so spontaan trots is op die hoë hoogtes van Afrikaans in so ’n kort tyd en kort daarna beide se weersin in die monument. Slegte herinneringe aan apartheid en deurlope onder Afrikaner-Calvinisme?

As die taal hoort in die mond van dié wat hom praat, waarvoor het iemand ’n genotuleerde besluit nodig waar hy goedkeuring daarvoor kry? Dis die skerp, stilswyende vraag wat oom Sekretaris my met sy silwer kyk gee.

  • Beaufort-Wes - My ma se pram-taal is Afrikaans

Dis reeds donker wanneer ek en Henry die vulstasie-winkel op Beaufort-Wes binnestap. Ons is ietwat haastig, dorstig vir ’n bier en gretig om Duitsland sokkergewys te ondersteun in die Wêreldbeker-halfeindronde.

Van voor die Steers-toonbank af, tien tree weg in dieselfde gebou, klink ’n selfversekerde geraas op: “Jy praat Zulu, Xhosa, Sotho, Afrikaans en al die ander tale met my, maar jy praat nie Brits nie! Ek’s gebore in Suid-Afrika. Jy moet verskoon, ek’s maar ’n baie hardkoppige man, wetie hoekom nie.” Absoluut onbeskaamd. Die aanklag is gemik teen die Steers-kelner deur ’n middeljarige man wat haastig lyk, asof hy net deur Beaufort-Wes ry en vinnig hier ’n stop gemaak het.

Ek en Henry kyk verras na mekaar. Jislaaik, dis omtrent die tipe ding waaroor ’n mens die volgende dag ’n leser sou kon hoor kla in ’n briewerubriek: hoe verstok hierdie ou Boer is – een voet nog in die Anglo-Boereoorlog en die ander in die Groot Trek.

Die man is regtig haastig en luister met sy kop skuins gedraai terwyl die ander helfte van sy lyf die betaling afhandel. “Meneer, ons is twee studente van Stellenbosch, op soek na Afrikaans en wat dit beteken om Afrikaans te wees. Hier hoor ons nou uit die bloute iets daaroor by jou. Wat laat jou op hierdie manier aandring op Afrikaans?”

“As jy in hierdie land gebore is, dan moet jy Afrikaans verstaan. As ek in Suid-Afrika is, dan wil ek Afrikaans praat – enigiets, maar net nie Brits nie.” Hy voeg by: “Jy weet as ’n ou nou van ’n ander land af kom, dan is dit ’n ander saak, dan praat mens Engels, maar hier in Suid-Afrika, nee!”

Hy’s klaar betaal en ons stap net so onverwyld soos hy saam na buite waar hy na ’n groot trok mik. Ons wil hom nog nie laat gaan nie en hou aan praat, want ons moet eers nog meer hoor.

“Ek moet Afrikaans praat. Ek is ’n Afrikaner.”

“Hoekom moet jy dit praat, Meneer?”

“Man, my ma se pramtaal is Afrikaans,” kom dit ondeund.

Sy naam is Deon Steyn, gebore in Beaufort-Wes, bly nou elders. “Ek’s ook ’n Karoo-Boesman,” sluit hy af, hy, wie ek sou beskryf as ’n bruin man. As sy vel enigsins ligter was en dit nie vir sy kleurling-aksent was nie, sou hy seker afgemaak kon word as verkramp en van agter die Boerewors-gordyn. Maar hy’s onbeweeglik Afrikaans en laat hom nie van Afrikaans onteien deur sy velkleur nie.

“By wie’t hy toestemming gekry om Afrikaans te wees?” vra oom Sekretarisvoël my later die aand net voor slaaptyd. “Besef jy dat daar geen besluit is om Afrikaans te wees nie? Dat jy geen toestemming nodig het en geen verduideliking verskuldig is nie? Daar’s geen Groot Vergadering waar die redes vir Afrikaanswees uitgedink is nie. Mense het dit met tyd gemaak en nou is dit. Mense moet besluit wanneer hulle dit nie meer wil praat nie – deur dit net op te hou praat. Tot dan is daar geen Groot Vergadering wat daaroor kan besluit nie.”

“Hoekom moet jy vir enigiemand verduidelik hoekom jy Afrikaans wil praat? As jy maniere soek om dit te praat, daarin te leer, te werk en jou kinders daarin groot te maak, moet jy begin met ’n rede?”

Groete

Piet


Terug na Taaltoer

LitNet: 5 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.