Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 6: Pretoria–Soweto–Bloemfontein

Omdraaipunt. Baie padbordjies in en om Pretoria is gemerk Tshwane; heelwat van hulle is met spuitverf hermerk tot Pretoria. Almal in Gauteng ry soos hoërskoolseuns op ’n tog van genot, maar Sondagoggend is die N1 kalm. Volg die bordjies. M1 City/Stad. Baragwanath/Chris Hani hospitaal. Dis waar ons moet uitkom om vir Elliot Mashinini en sy mense te ontmoet – so vat die afdraai om te kom waar jy moet kom.

  • Soweto – Ek is ’n feesflerrie. Klaar!

Sondag in Soweto. Baragwanath is ’n helserder plek as wat ons gedink het; ons ontmoet mekaar eerder by die BP net buite die hospitaal en skiet van daar af na Mathula’s Inn, iewers tussen ’n taxi-rank en bontgeverfde kernkrag-torings. ’n Amper onophoudelike sireneloei is slegs agtergrond, tweederangs, tot die reuke, die roepe, die kakofonie van sintuie en stimulasie, wat op ’n half bekende manier sin maak.

Elliot Mashinini“Demokrasie in Suid-Afrika, dit is nie demokrasie nie,” vertel Elliot in vlot Afrikaans, met ’n skop van ’n Sotho-aksent. Hy het gehelp om een van die drie ATKV-takke in Soweto te stig agt jaar gelede. “Die regering hier wil nou Afrikaans as vak in die skole in Soweto uitgooi. Hulle besluit al weer vir ons! Kyk, hier is nie wit Afrikaanses in Soweto nie. Nie een nie. Maar daar is mense wat Afrikaans wil leer.”

’n Ou man, bemussie en beblou-trui, stap verby Mathula’s. Hy herken blykbaar vir Elliot: “Goeiemôre, goeiemôre. Hoe gaan dit?! Man, ek vra ’n pond. Ek vra ’n pond.”

“Ek gee jou ’n pond. Netnou,” lag hy terug.
“Ek soebaat. Ek soebaaat, man.”

Die manne van Mathula’s maak skoon na Saterdagaand; ons sit op gekleurde tuinstoele op die stoep, die drankies sit op die vloer. Ander lede van die ATKV-groepie het intussen hulself bygevoeg tot die geselskap. Jongmense – Samson (sy bynaam is Hoenner, as gevolg van ’n spontane oorwinningsdansie tydens ’n sokkerwedstryd), Mapalisa (“die moeder van die blomme!”) en Kelebogile (“‘baie dankie in Sotho”).

“Daar is ’n stigma aan die negentien duisend ses en sewentig.” Elliot is nou ernstiger. Sy rooi ATKV-T-hemp is lig in die oggendson. “Die mense wys dit nie. Dit is in hulle harte. Maar dit was nooit teen Afrikaans nie – dit was teen hoe dit gebruik is. Die regering het net ingekom en gesê, julle móét dit so doen. Ek het die traangas geruik, maar ek was nog ’n piekanien!” lag hy. Dan: “Dis hoekom, baie van die ouer mense is nog negatief teenoor Afrikaans. Dis hoekom mens daardie liefde moet bou, vir die taal. Dit begin by ’n liefde vir die taal.”

’n Liefde vir die taal. ’n Liefde vir ’n taal … Hoekom? Hoe?

Vlnr: Elliot, Henry ,Kelegobile en Samson. Voor is die ander meisie, vergeet  nou haar naam!“Ek was in die Vrystaat op hoërskool gewees. Van my vriende was Afrikaans daar, ek het die taal opgetel, en net lief geraak daarvoor. Ek kan dit nie verduidelik nie,” lag hy weer. “En hier in Soweto – mense is nog soms versigtig om die Afrikaans te praat. Daarom, ons wil ’n platform gee, laat mense die taal kan gebruik. Ons doen toneel, koor – hulle sing al die mooi dinge, man: “Al lê die berge nog so blou” en ... “Mannetjie Roux” … daais.”

Samson is die enigste onder ons wat in die sonlig sit – hy maak sy baadjie oop. Die aksie verklap ’n pienk-en-swart hemp om sy bolyf: “Ek is ’n feesflerrie.”

“Mense vra my van die hemp as ek in die straat afstap. Ek sê hulle dis my hemp, ek het hom gekoop. Ek is ’n feesflerrie! Dis klaar!” Sy hande beweeg vinnig terwyl hy praat. Elliot lag uit sy maag. ’n Intense debat ontstaan oor wie tussen my en Piet die grootste flerrie is. Die uitslag van die debat is onbepaald. Alles is relatief.

Elliot lag nog, sit dan vooroor. “Dit is twee wêrelde in een in hierdie land. Met die taal, die Afrikaans, probeer ons die brûe bou. My visie, my droom, is dat ’n wit man in die huis langs my sal wakker word. Ons trou … nee, is dit vertrou? Ja. Vertrou mekaar.”

Piet le Roux wonder hardop hoe baie Afrikaans mens op die straat, alledaags, in Soweto hoor.

“Die outoppies, hulle praat nog baie, soos, ‘Kyk daai cherrie!’ Die tsotsi’s ook … wat noem mens dit, vleitaal? Nee, dis maar Tsotsi-taal … die hele tyd Afrikaanse woorde, sonder dat hulle dit besef. Soos Hof, jy weet, ek was by die Hof … daar is in elk geval so baie wat net voorgee om Tsotsi’s te wees.”

Die twee meisies giggel skielik onder mekaar – iets (iemand) opmerkbaars het pas verbygeloop. Al twee is op die komitee wat help om dinge te reël vir die 200-lid sterk tak.

“Ons begin klein … jy moet klein begin,” stel Elliot dit. Niemand het iets om te sê wat daarop kan verbeter nie ... ironies genoeg.

Die Golfie kruip tussen tientalle taxi’s terug N1 toe. Elke taxi is ’n Toyota, geen twee is heeltemal dieselfde kleur nie.

En wat is ’n road trip sonder karmoeilikheid?! Net buite Johannesburg spring die uitlaatklep se pyp uit sy … vashou-ding uit. Piet is heeltemal handig, maar by Kroonstad is dit weer los. Moerse geraas en alles. As iemand ooit op ’n Sondagmiddag in Kroonstad na ’n nr 13-moersleutel op soek is, elke kelner in die Spur het ’n toolbox in sy kar. O ja, kyk ook uit vir die La Porte Bed & Breakfast, wat nou in "VASE 4" is.

  • Bloemfontein – Dalene Matthee en die kettingwinkels

Die aandlug met skemer is blou kougom, die horison is spookasem. Junie het Bloemfontein wintergeel gelaat, maar jy sal dit nie weet van binne die Mimosa-winkelsentrum nie. Oorkant die Mugg & Bean is Mr Price Home, Wimpy is aan die regterkant; as jy die roltrap wil aandurf, sal jy gemaklik by Musica, Panarotti’s en die flieks kan uitkom.

“Ek skryf deeltyds vir ’n nuwe tydskrif, die Passie. Dit is om te wys dat mense van die Vrystaat en die Noord-Kaap tog klas het,” sê Maresa, een van vier Kovsies-studente om die tafel. Flake Latté’s en tee. “Ek woon maar die Engelse klasse by. Dis minder moeite met die vertaling, en so. Hier het ons parallelmediumklasse.” En parallel-medium koshuise. “Kyk, hulle het agtergekom in die Vrystaat werk dit net nie om koshuise te meng nie. Daar is nou wit koshuise, en koshuise vir die ‘anderskleuriges’. Dit is nie vasgestelde reëls nie, dit het nou maar net tradisioneel so geraak. Die studente verkies dit so.”

Die Kovsies: Maresa, Huibre, Jano en SuleenIs Afrikaans die taal van apartheid? Huibrie dink lank. “Dis seker hoe dit vir almal lyk – maar dit is nie so nie. Ek’s nie seker hoekom nie.”

“Bruin mense praat ook Afrikaans,” sê Jano.

“Bo in Suid-Afrika is dit miskien so. Na die onderkant toe is dit nie,” voeg Suleen by.

Iemand verjaar vandag in Bloemfontein; dit is duidelik uit die geraas wat uit die Spur op die boonste vloer kom.

“Ek is lief vir Afrikaans … wel, obviously, dis waarmee ek grootgeword het,” frons Maresa. “Daar is baie goeie Afrikaanse boeke. Soos … soos …”

“Dalene Matthee!” roep Huibrie.

“Ja, Dalene Matthee. En die ding van Afrikaans is, dit verander. Ons moet dit toelaat om te verander, nie soos hierdie rigiede handboeke nie ... Ons het so een gehad in Matriek, ons het dit die groen Bybel genoem.”

Suleen stem saam. ”Afrikaans raak vinniger, lekkerder, maar hierdie ‘kommenkaans’ van ouens soos Kurt Darren staan in die pad.”

Jano: “Dit raak nou nie juis my binneste nie.”
 
“Maar baie mense luister dit omdat dit Afrikaans is. Dis seker goed.”

Jano lag. “Ek luister nie Afrikaanse musiek nie, as gevolg van dit!”

“Dit laat Afrikaanses soos ’n klomp kommen, dronk mense klink,” sug Huibrie.

Die latté’s is op. André Swiegers, Frank Opperman en Pedro Kruger loer dorserig vir ons vanaf hul plakkate – hulle sal binnekort in Bloemfontein wees.
Black label-torings  en die broederbond

Die Mystic Boer in Bloem doen nie sy reputasie gestand vanaand nie. Die kroegvrou blameer dit op Sondagaand, fliekaand en boonop vakansie. Die getroue siele is egter op hul plek, húl plek.

“For god’s sakes, it’s got nothing to do with the language. You get racist whites, racist blacks … don’t attack the language. It’s just a form of communication.”

“Netso – dis ’n kommunikasiemiddel.”

Die Mystics – Jurie, Michael, Zelda, Jamie en AmandaDie klomp aan die tafel is aan die stry. Jamie is Engelssprekend, die res is Afrikaans. Maar hulle verkies Engels. “Ek kan myself beter uitdruk in Engels, ek was in ’n Engelse hoërskool. Behalwe vloek! There is no better language to swear in than Afrikaans.”

Almal klink daarop.

Amanda se vel is lig, haar oë en lippe donker gemaak. “Dis Afrikaanse ouens wat die apartheid ding begin het. En die rassisme ding deurgevoer het. Jy weet, Broederbond, Eugène Terreblanche, al daai crap.”

“But it’s exactly the same as other people!” Jamie raak opgewerk. “I’m of Portuguese decent, but it’s not my fault that they started the slave trade.”

“Ek weet nie … ek voel soms skuldig.”

“Gesondheid vir die rondheid!” roep Michael van die kant af soos nog ’n ronde bier by die tafel opdaag. Jurie konsentreer hard om ’n toring te bou met die vyf leë Black Label-botteltjies voor hom.

“Sure, ek’s lief vir Afrikaans. Want as ek dink aan Afrikaans, dink ek aan goeie tye met my Afrikaanse vriende, jy weet, lekker kuiers.” Zelda neem ’n Marlboro Filter-sigaret uit die pakkie wat die hele tafel deel. “Memories. Jy weet, almal wat Afrikaans praat, sit die Engelse woorde tussenin. Partymaal dink ek dis cool. Ander kere … ek weet nie, dis half jammer.”

“Maar Afrikaans is ’n “African language,” sê Michael. “Met ’n klein label by. TM!”

Jurie laat hoor die eerste maal van hom. “Dis in elk geval ’n moerse debatable topic.”

Almal knik. Dit is stil.

AFDELING C
VRAAG 2.4(g) (i)

Liefde vir ’n taal is:

  • afkomstig van ’n kontak wat jy maak, waar jy iets herken wat jou  aangryp, al kan jy dit nie verduidelik nie
  • ’n gevolg van dit waaraan jy gewoond is, waarmee jy grootgeword het
  • liefde vir die herinneringe waarmee jy die taal assosieer
  • enige van, of al, die bogenoemde, met ’n goeie skoot idealisme om die baksel lekker te laat rys
  • net belangrik in soverre dit in die streng sosiale leefwêreld  van die indiwidu manifesteer.
  • Los my uit. Dit is stupid en ’n mors van tyd om oor hierdie goed te dink.

As hulle net wou sê hoeveel punte die vraag tel.

(Jammer – seker onttrekkingsimptome of iets. Die vakansie is lank.)

Vrede uit

Henry


Terug na Taaltoer

LitNet: 4 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.