Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 4: Kathu - Kimberley

’n Ander Soweto ontmoet ons vandag op Sishen  – waar die onmiddellike, roesrooi aarde afgewissel word met reuse-oopgroefmynhope links en regs. Welkom in ysterwêreld.

Andy, die Indiër wat Afrikaans met trots aanleer op Kathu, het gisteraand dié wêreld se ryppatroon verduidelik. Gemiddeld vyftien dae per jaar, maar vanjaar is kouer as gewoonlik.

Oggend vier van die LitNet Taaltoer: die vaalgevriesde grasperk kraak met sonsopkoms, die koudste tyd van die dag, onder jou voete as jy na die kar toe stap.

  • Sishen – Alles hang af van ingesteldheid: soek jy iemand om te blameer?

As jy vanaf Kathu, bietjie verder as halfpad tussen Kimberley en Springbok, uitry in ’n noordelike rigting, kry jy groot masjiene op groot wiele langs die pad. Tien kilometer verder herken jy vir die eerste keer die rantjies van die tronende mynhope wat dit in werklikheid is. Sishen is die plek waarvan jy in Aardrykskunde op laerskool geleer het. Die Sishen-Saldanha-spoorlyn is die vervoerband wat die hoogste-kwaliteit ystererts in die wêreld vir uitvoer kus toe neem. Die Sishen-myn is ’n indrukwekkende ingenieursprestasie. Alles aan die myn is roesrooi, met een of ander geoksideerde ysterskynsel.

Net duskant ’n omskepte skeepsvraghouer parkeer Henry sy Volksie met agterkant eerste, getrou aan die streng mynvoorwaardes. Ryno Opperman, sy gasvrye swaer en metallurgiese ingenieur by Sishen, het vir ons ’n afspraak gereël met Kabelo Leeka, sy Tswana-ingenieurstudent by indiens-opleiding. Ryno lei ons na die vraghouer toe – hy gaan ook sommer saam gesels.

Kabelo Leeka is 23, van Pretoria, en sy lessenaar lyk bedrywig, maar hy onderbreek vriendelik sy tikkery op die rekenaar om ons binne te nooi. In die vraghouer (sy kantoor) maak die verwarmer die plek amper ongemaklik, die koue buite ten spyt. Ons praat Engels met Kabelo. Sy Afrikaans is nog nie goed genoeg nie, sê hy, maar hy leer.

Henry val met die deur in die huis: dis 30 jaar na Soweto; hy wat Kabelo is kom van Gauteng – wat is die houding oor Afrikaans? En ek maak my reg vir ’n lang geskiedenisles oor watter rol Afrikaans gespeel het in die Soweto-opstande en hoe dit destyds ’n onderdrukkingsmeganisme was en vandag steeds as skeidingsmiddel aangewend word. Wat ’n verrassing kry ek nie! Kabelo wys ons tereg oor ons persepsie van die rol van Afrikaans in Soweto in ’76.

“Die media neig om goed op te hemel wat nie daar was nie. My ma was in Soweto – sy kon Afrikaans praat. Die opstande was teen die onderwysstelsel in die algemeen. Die jeug het gevoel hulle kry swakker onderwys as wat die blankes kry. Die media stuur vandag ’n beeld uit dat ons teen Afrikaans self was – dis nie waar nie.” My hart klop vinniger en vinniger terwyl ek jaag om sy goedgeformuleerde standpunte in my dagboek vas te pen. Ons praat verder oor nog redes waarom die township-jeug toe in opstand gekom het, soos die swak munisipale dienste.

Kan dit waar wees? Hierdie man se ma was in Soweto tydens die opstande. Van wat ek in Stellenbosch gehoor het, het ek byna nie eers hierdie moontlikheid oorweeg nie: ’n swart man met ouers uit Soweto maan ons teen popularisering van 1976 teen Afrikaans. Dit was teen ’n stelsel in die algemeen, sê hy.

Kabelo het spontane opinies oor Afrikaans en studie in ander tale as Engels. ’n Deurlopende tema, ’n soort refrein, duik telkens in sy motiverings op. Dit gaan oor houding. Dit gaan oor gewilligheid om uit jou gemaksone te kom. Uitdruklik en amper kras praat hy van die gewilligheid om vir jouself verantwoordelikheid te neem. “Mense moenie doddel in die verlede nie.” En “… as daar ’n behoefte aan ’n Afrikaanse universiteit is en ek wil om een of ander rede daar, of by ’n Russiese universiteit, gaan studeer, dan sal taal my nie terughou nie. Miskien kan daar taalklasse wees?” Ek wonder tussen my aantekeninge deur hoe wydverspreid Kabelo se sentimente kan wees. Dan: “Daar is natuurlik verskillende houdings teenoor Afrikaans regoor die land, maar anti-Afrikaans is nie dominant nie. Ouer mense het dalk nog ’n probleem met Afrikaans, maar my ouderdomsgroep, die jeug ... nee, wat.” Hy praat later van nog iets wat by die generasieverskil aansluit: “Die onderwysers waar ek vandaan kom, hou nie van Afrikaans nie – dis hoekom die Afrikaans-onderrig soms swak is.”

Die verwarmer en die opgewondenheid saam is ’n hete kombinasie, maar Kabelo gesels koel en kalm voort. Ek is verlig as Ryno se selfoon lui en hy die deur oopmaak sodat ’n vars Sishen-koeltetjie my nuwe asem gee.

Kabelo probeer verduidelik: as daar negatiewe houdings is, dan is dit nie teen die taal nie, dis teen die mense. As iemand steeds die verlede teen wit mense hou, dan gaan dit nie die houding verander om alles in Engels te kry nie – “Engelse mense is ook wit! … Taal is ’n gemeenskapsding; dit kom van onder af op, nie van bo af na die mense toe nie.” My gedagtes spring skielik: dit was die storie agter Soweto ’76, dat die gemeenskap nie hul eie lot mag beslis het nie. “Mense wat Afrikaans as ’n struikelblok sien, kyk nie na die groter prentjie nie.”

Dis tienuur as ek en Henry die rooi gruishope rugwaarts keer op pad Kuruman toe. Ons lag in Afrikaans oor hoe een van die reuse, verdiepings hoë vervoerbande sal lyk met ’n spelfout.

  • Kuruman – Die dorpie met die Afrikaansisme

Tussen Kuruman en Daniëlskuil, wat sy naam kry van ’n groot sinkgat daar, is daar ’n besienswaardigheid. Kuruman bemark die plekkie mooi, want vir toeriste se onthalwe (watter land se toeriste weet ek nie) verkondig die aanwysingsbord helder en duidelik: “Wonderwork Caves”. Miskien ’n variasie op wat die Pofadder-outjie gister genoem het Kombuisengels?

Die pad tussen Kuruman en Kimberley is sowat drie uur lank. Die Groot Noordweste is mooi. Die grasse golwe in die windjie wat oorrol, en mens hou jou oë oop vir bokke en ander veldlewe, maar jy kyk telkens vas in lappe groter bosserigheid en bome.
 

  • Laataand Kimberley – ’n Ander Soweto?

Eileen Snyders, wat LLB studeer aan die US, ontvang ons net na die middag op Kimberley. Haar pa maak ’n bottel Maties Rooi oop vir aandete en ons neem ons koppe bietjie weg van die taal.

Vir ’n bietjie blootstelling aan die Kimberleyse naglewe gaan draai ons in die stad se nuwe Dros. Ons bottel Tas word Pandora se boks en die gesprek gaan onvermydelik terug Matieland toe.

Eileen kry ’n soort regstudent-selfvertroue wanneer sy die saak vir die klaersparty stel: “... en hulle lag, want hulle weet ons kan niks doen nie. Dis ook nie net so met die taaldebat nie. Vir ’n klomp goed moet ons nou aanpas by foute wat 30 000 jaar gelede gemaak is.”

*

“In sinne is alle woorde myne …” was die frase wat my onderwyser-pa destyds op die bord in die Afrikaans-klas geskryf het. Net toe ons in die klas begin dink ons weet wat dit beteken, sit hy ’n stert by: “... waarin ek na verborge skatte delf.”

Op die Sishen-myn het ek en Henry vandag gemyn in die sinne van Kabelo Leeko. Ons gaan in die dae wat volg, nog mynwerk doen in andere s’n, verder op in Suid-Afrika, waar Afrikaans ’n minderheidstaal begin word.

Daagliks, padlangs, debatlangs, Taaltoer-langs probeer ons ook ’n veredelingsproses – die erts-sinne moet bruikbare yster word. Die eerste frases wat ons nou optel: gaan daar iets bykom in die volgende dae wat die betekenis gaan verander? Ons soek nog na die berugte ... haat teen Afrikaans waarvan ons so baie al gehoor het.

Was die Soweto-opstande werklik so noodlottig vir Afrikaans soos wat ons dit soms veronderstel?

“Heeeeeeeeeaaaaaaaaaauuuuuuuuwwwwww!!!” skree Henry vol moed toe ons Sishen verlaat vanoggend.

“Mens kan mos ’n land bou met so ’n nasie,” sê ek, gedagtig aan die klem wat Kabelo op positiewe gesindhede geplaas het.

’n Oomblik is dit stil met net die kar se gesuis oor die teer. Daar’s avontuur in die hart en ’n tinteling in die hand. Ek dink hulle noem dit jeugdige optimisme – en Henry waag dit: “Miskien kan mens ’n nasie bou met so ’n land.”

Groete,

Piet


Terug na Taaltoer

LitNet: 30 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.