Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 3: Springbok - Kathu

Tussen sewe en agt voormiddag word soetste REM elke tien minute wreed en sadisties ontnugter deur die kermende selfoonalarm. Die oggend wat kom is vol – Internet moet op Springbok gesoek word, dinge moet gestuur word, en halfure moet by die bank verwyl word (want iemand het Piet se kaart gegabsa). Bowenal het ons vandag name om te sien, sonder enige adresse of afsprake, en iewers langs die pad moet ons ’n goeie 650 km agterlaat.

  • Steinkopfwat sal nou da’van kom van staan en hallo, hallo sê!

Ons vat ’n ordentlike systap in die rigting van Steinkopf, so 50 km duskant Namibië. Ons het gehoor van wat met die Nama-taal aan die gang is in Steinkopf. Ene juffrou Matroos het glo gehelp om só lewe terug te blaas in die taal dat meer as 600 kinders op dié dorpie, wat net duskant Namibië lê, die taal as vak op skool neem. Dit is dieselfde taal waarvoor jy geshat (nie ’n Nama-woord nie, maar wel een wat ek by juffrou Matroos geleer het – jy moet jou hande oor mekaar klap terwyl jy dit sê, anders klink dit stupid) is as die koloniste jou dit hoor praat het.

Deur ’n roekelose gerondvraery spoor ons eindelik die pienk geboutjie op waar Entheresia Petronella Matroos tuisgaan. Dit is die skool se koshuis.

“Juffrou! Jy word gasoek!”

’n Swetterjoel kinders sit rond op die trappe voor haar kamer. Daar’s ’n goeie rede vandag – die Nama-koor-en-dans-groep wat sy gestig het en dirigeer, vertrek vanaand met die bus na Johannesburg vir ’n vertoning.

“Ek is ’n bedrywige vrou – jy kan mos sien. Is julle nie lus vir ’n swart teetjie nie?”

Juffrou Matroos & PietTwee naaimasjiene staan op die tafel, met liggroen rokkies wat soos blare om ’n boom daarrondom lê. Die muurpapier is administrasie – lysies name en kolomme, sommige met ’n stomp potlood doodgetrek, ander vol tweesyfer-getalle. Daar is baie oop spasies in die kolomme. Die admin teen die muur word slegs verbreek deur ’n afdruk van Die boesman se Onse Vader.

Swart teetjie, asseblief ja.

“Kyk, dis juis oordat hy besig is om uit te sterf dat ons al hierdie bewusmaking van die Nama-taal doen. Dis oordat die gemeenskap opstaan en vra vir die Nama. En die kinders is so entoesiasties, hulle sien dit as die moedertaal – baie van hulle gesinne praat dit dikwels by die huis. En ek sal aanhou werk en baklei vir die taal, want dis my taal, my trots, en bloed en murg. Jy moet dit het aan jou.”

’n Jong lat klop skamerig aan die oop deur. ”Jammer juffrou, kan ek jou gou sien?”

“Ek soekie probleme nie. Jy gaan nêrens nie, ons ry sesuur!”

“Dis die ding, Juffrou. My broer’t nie opgekom nie. Hy moes geld gebring het, van Springbok af, juffrou.”

“Nou vir wat bel jou jy hom nie!”

“Het nie geld vir bel nie, Juffrou.”

Sy haal die silwer foontjie wat om haar nek hang, af en gee dit aan hom. ”Praat net gou, daarsie baie op nie.” Sy draai haar weer na ons toe. “Die Afrikaans, dis nog ons taal, maar Nama, dis die culture! Daar is nie rêrig ’n identiteit wat die mense aan die Afrikaans kan koppel nie, jy sien. Maar dis dan ook al taal wat ons hier mee kommunikeer. Daar hoort nie so ’n bohaai oor die Afrikaans te wees nie. Daai SABC-mense was mos laasjaar hier; hulle kom na my toe kwaad en sê: ‘These people are not willing to speak English.’ Maar daai mense wat die taal so mix, veral die Capies, ek moet vir hulle sê, dis al taal wat julle praat, maar julle praat hom so kak!”

Ons hoor uit die gang buite die kamer, vir die hoeveelste maal: “Hallo, hallo, hallo”.

Sy vervies haar amper. “Wat sal nou da’van kom van staan en hallo, hallo sê! Bring daai foon, kom jong, jy gee nie nou al moed op nie, dis nou eers halftwaalf, ons ry eers sesuur.”

Ek slaan water af in die koshuis se badkamer voor ons gaan. Bo die wasbak is ’n papier opgeplak:

Moenie kranne oopmaak nie.

THANKS

Ta Toxoba //Game //Khowaamre.

Soos ’n saai, dorbruinbevlerkte skoenlapper … die dun, swart lyfie is vasgepen en oneindig uitgerek tot in die niks – die N14 – en hy behoort vandag aan ’n stuk metaal wat gemerk is “CA”. Ek herken van ver af al vir BB King waar hy duimgooi langs die pad naby Aggeneys. Piet le Roux sê hy’s lus vir blues. Die meester skuif in op die agtersitplek tussen Breyten en Boerneef in, en doen sy ding. “Nooobody loves me but my motheeeer …” 

Name op groen bordjies word lirieke: Varsputs, Beenbreek, Grootdrink. Ek loer na die agtersitplek – die gekraakte nylonsnaarkitaar is stil. Die wind spoeg goggas na my voorruit, ek tokkel aan telefoonkabels langs die pad. Daar’s geen twyfel meer nie … dit is taaltoooeeeeer blluuueees …

  • PofadderMens noem dit noupale, soos in smal.

Voor die Pofadder Hotel groet die eerste man wat jou verbystap jou: “Orraait orraait”. As jy antwoord: “Orraait orraait ja”, antwoord hy: “Is mooi, is mooi ja.”

Bibber effens, en jy het ’n geselsie, of jy dit soek of nie. “My langana, moenie count nie, ek sien die kar hierso. Jy’s vannie Kaap af. Mense van hier rond, Onseepkans se mense. Pella. Daai mense ken die hitte. As hulle hier kom, is hulle aangetrek maybe soos jy, dan’s dit klappertanne!”

Aan die ander kant van die N14 in Pofadder sal jy nie ’n hotel vind nie. Of ’n dubbelverdiepinghuis nie. By die oranjeste kafee wat ek nog ooit gesien het, lê en staan en sit ’n paar Afrikaanse jeugdiges en jeugdiginne. Verveeld, skepties.

”Ons is ook vannie Kaap, daar van Atlantis. Op Pofadder vir vakansie! Nee, nou nie almal nie. Ek, hy en hy kuier hier.” Hy beduie met sy hand na die ander, wat op hul beurt ’n hand oplig asof om teenwoordigheid te erken.

“Is Afrikaans ja! Nee, daai’s wat ons praat, ek praat nie van dêddy nie, ek praat van Pa.”

Van die ander kant: ”Ek het nie ’n pa nie ... maar ek sou hom Pa genoem het.”

Nog twee kêrels daag op: die een is groot gebou en het duidelik onlangs ’n misverstand met ’n pot tuisgemaakte peroxide gehad. “Die gemixde taal van die kaap, dis Kombuisengels daai. Dis wat ons hom noem.”

Ons geselskap raak groter. Dié keer is dit Clive met ’n beanie laag oor sy oë. “Hoesit man. Clive, ek’s met die ANC man. Waar’s julle ouens vandaan?” Hy kyk Piet op en af. “Ja, jy lyk soos Clanwilliam se mense.” Hy loer na my. ”Het jy nie vir my ’n ghwaai nie?”

Clive vertel hulle’s besig om die “Engelse proses” aan die gang te sit. “Vir die mense wat hier inkom, wat nou nie Afrikaans verstaan nie, jy sien. En jy weet, ons praat sewe tale hier binne die Khaima.”

Ek wil nog vra wat die sewe tale is, maar die gebrek aan ghwaai het hom blykbaar onplesierig gestem, en hy wandel weg met ’n natterige Stuyvesant in sy regterhand.

Tony met die blou hemp skram weg van die kamera af. “Ek het nie gewas nie.”

“Ma’ jy kan mos nie dit sien op ’n foto nie!” 

Hy trek hard aan die stompie tussen sy vingers, skiet dit dan weg na waar die gruispaadjie die teer aan die oorkant ontmoet.

  • KathuMy ma’t altyd gesê, praat Afrikaans, laat mense kan sien daar’s ordentlike Afrikaanse mense ook.

Die mense van Kathu’n Tiental of so van die Sishen-myn se jonger ingenieurs is vanaand by Ryno Oppermann se huis op Kathu – een van dié huise wat die myn voorsien. Ons hoef skaars ’n gesprek aan te roer.

“Mens praat nie meer Afrikaans in die stad nie, veral nie Johannesburg nie.”

“Mense hanteer jou anders as jy Afrikaans is.”

“Afrikaners … die hele geskiedenis wys hulle is kanniedode! Dis daardie veggees wat ek wil hou as erfenis.”

“Afrikaans word gesien as plat en common, Engels is mos grand.”

“Afrikaans was destyds die Fanakalo, die mengseltaal wat mense saamgesmee het.”

Ensovoorts.

Andy is egter stil, aspris stil, jy kan dit sien aan die manier wat hy glimlag. Wanneer hy praat, praat hy berekende en verstommend mooi Afrikaans.

“Kyk, ek moet seker net vir julle vertel waar ek vandaan kom. Ek is vierde-generasie Indiër; my groot-groot-oupa het hierheen gekom vir die suikerplaas-arbeid. Hulle kon nog hul Indiese taal praat (daar is omtrent twintig tale daar), maar ek kan glad nie meer nie. Die taal is ’n groot deel van die kultuur, so ek praat nie meer die taal nie, ek ken nie die kultuur nie.” Hy lag soos hy duidelik die herinneringe oproep van Engels en Afrikaans. “Ek het Afrikaans as tweede taal gehad op skool, maar my onderwyser het gesê: ‘Don’t worry about that language. You won’t need it.’ Wel, vier jaar later is ek op ’n plek wat omtrent niemand Engels praat nie! Op Kathu het ek, moes ek leer Afrikaans praat. En ek’s bly ek het, dis al ander taal wat ek kan praat. En ek ken glad nie my moedertaal nie.”
Hy skuif op in sy stoel. “Maar as die universiteite nie meer Afrikaans is nie, beteken dit nie julle gaan daai taal en kultuur verloor nie. Die universiteite en skole in Indië is almal Engels as gevolg van die Britte wat die Engels afgedwing het, maar hulle praat almal nog hul huistaal by die huis, vier kulturele feeste, jy weet. My eerste oorsese trip was ek soontoe, dis wat ek gesien het,” glimlag hy.

En die geselsies rol voort, die groepies breek op, die grepies styg uit in mengelmoes.

“Ja, dit het my vier maande gevat om Afrikaans te leer.”

“Geen vorm wat ingevul moet word hoort nog ’n vraag oor ras in te hê nie!”

“En daai Europeërs was bloedrooi gebrand, soos worsies!”

“Die kursus more, dis ’n trokkursus, jy weet – hier’s die wiel, hier’s die enjin, daai tipe ding.”

Dit is nou 01:40 op Donderdagoggend die 29ste Junie. Aguur kry ons vir Kabelo by die Sishen-ystermyn. Dit raak Noorder en geleidelik Ooster, en jy ontmoet volbloed Suid-Afrikaners wat swoeg om hul moedertaal aan te leer, of geen toegang daartoe het nie. Daar is ’n gevoel van drang en verlies en hoop, en mense steek mekaar aan – dit kan nie betwyfel word nie.

Mooibly

Henry

 


Terug na Taaltoer

LitNet: 29 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.