Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 2: Koekenaap - Springbok

Lies Barnabas op Lambertsbaai het gister misnoegd haar kop en skouers geskud: “Dis die fraiings wat mense aan Afrikaans heg wat die bedreiging is, nie Afrikaans nie.”

Henry hou links op die pad wat vleg deur lappe wingerd en wat in die vroegmôre blink na gisteraand se Namakwalandse reën. Op die voorruit skitter-wikkel ’n paar oorblywende druppeltjies teen die kante. Op linkerhand draai ’n wit voël laag oor blaarlose bruin druiwestokke. Op Koekenaap by die Henry Jacks geslaap, nou mik ons Vredendal toe – ’n halfuur se ry. Vredendal is ’n soort sentrum vir die omgewing: drie en ’n halfuur van Kaapstad draai jy links van die N7 af.

  • Vredendal – Hier praat jy net Engels vir selfverdediging!

Die Wimpy lok ons nader vir ’n koppie koffie. “Hmm,” sê Henry, “ons vra bietjie die bestuurder uit oor Afrikaans en as hy of sy enigsins daarvoor is, dan troef ons met ’n vraag oor die Engelse spyskaarte.” Met die ingaan kopknik Henry dan ook betekenisvol na die Please wait to be seated-bordjie. Ons het skaars gesit en bestel of ’n beleefd-vriendelike vrou in Wimpy-uniform kom vra of als in orde is. Sy lyk selfversekerd en Henry, wat maklik geselsies aanknoop, is in die kol met ’n vraag of sy die bestuurder is.

“Man, dis Afrikaanse Mekka dié!” Entoesiasties val sy weg oor die taal van haar kontrei toe ons ons speurtog verduidelik. Ek dog Henry troef te vinnig – sy gaan beskuldigd voel, maar hy vra haar sommer daar en dan: “Nou wat sê die mense hier van die Engelse spyskaarte?”

“Nee!, kyk bietjie daar,” en verontwaardig blaai sy amper die spyskaart uit sy hand.

Sowaar, ek en Vriend was so oortuig Wimpy se spyskaarte sal net in Engels wees, ons het nie eers gekyk nie! Trots vertel sy hoe sy en haar man sedert die twee jaar wat hulle die Wimpy het, die top-toekenning van die streek ontvang, en hoe hulle kapsie gemaak het toe Wimpy ’n klomp van sy bedrywighede net in Engels gedoen het. “’n Besigheid werk mos nie van bo af ondertoe nie” – en so het hulle nou by die behoefte van hul klante aangepas. Skielik voel ek nie meer verkramp en skuldig dat ek ’n Stellenbosse eetplek gevra het hoekom hulle op een vreemde dag skielik net Engels begin word het nie.

Sy laat val effens verskonend dat haar skoonseun ’n “rou Engelsman” is. Die kleinkinders is ook in ’n Engelse skool. Maar dit maak nie saak nie, sê sy, want dit gaan oor keuse. “Hoe de hel kan ons dan ons taal verraai? Dit moet net so ’n taal wees soos ander tale!” Haar donker, kort hare wip eintlik soos sy vies haar rug reguit maak. Maar sy baklei nie téén iets nie – sy baklei vír iets: Afrikaans sonder bybedoelings.

Tien treë verder is Radio Namakwaland, 93.4 FM, Gemeenskapstasie van Paternoster tot Garies. Ons gesels in ’n oop ateljee met Jeanette, pas klaar gestudeer, en Sonja, pastoriedogter. “Hier bel die mense in as jy selfs net die Afrikaanse uitdrukkings verkeerd gebruik! Engels is net vir selfverdediging.” Ons lag lekker.

Veral Jeanette klink bietjie gefrustreerd wanneer ons uitvra oor die radiostasie: “Ons mag glad nie liedjies speel met wyn-, drank- of seksuele konnotasies nie.” Maar sy gee toe dat die stasie eintlik mik vir die ouderdom 30+, veral ook afgetredenes. “Dis net dat Afrikaanse kunstenaars dit vir hulself moeilik maak deur te konformeer [tot die hoofstroom vermaak].”

Ek swaai die gesprek na Afrikaans in tersiêre onderrig. Ferm: “Die Universiteit van Stellenbosch se probleem lê in hoe hulle beurse en lenings versprei. Hoekom gee ons eerste beurse aan swart en bruin Engelse studente [as Stellenbosch juis die enigste universiteit is waar gewillige, maar arm talent in Afrikaanse geslyp kan word]?” Sy sal weet, sê sy; dis die vraag wat hulle mekaar keer op keer moes vra tydens die US se Andrew Mellon-diversiteitstoer na die VSA.

  • Nuwerus – Nee, nee! Stem fokkôl ’ie saam nie. G’n Apartheidstaal nie.

Noord, op met die N7, gaan dit afdraand met die bossies. Maar die wêreld is groen! En reën het in die laat voormiddag kol-kol poel-poel saamgekom. ’n Windpomp draai luierig terwyl vlekke skadu en son net so rustig oor die landskap skuif. By ’n sinkafdakkie langs die pad stop ons, eet broodjies en sing pasgeskepte Afrikaanse blues.

Nuwerus (vroeër jare Erdvarkgat) is die dorpie met ’n onderhalfduisend mense waar my Afrikaans-onderwyser skoolgegaan het. Uit hierdie klein dorpie het hy gegaan om later ’n US-graad te kry. Ons mik na die skoolgebou teen die bult om nog aspirant-Maties op te soek – aan die arm kant van die deurpad.

Ek sluk-sluk toe die kar op die stuk skoongrond voor die gebou stop, want die bruin man met die blou pet wat effens skeef op sy kop sit, kyk nog meer skeef en vol vrae na ons kant. Ons stap nader, vra of ons ’n oomblik van sy tyd kan gebruik. “Nee, ons is eintlik nou bietjie besig.”

Dis duidelik nie net ’n skooltjie nie, want ’n agttal bejaardes kyk belangstellend by deur en ruit uit. Tannie Johanna Cloete, kort en bejaard, maar vol lewenskrag, kom tot ons redding en begin vriendelik maar huiwerig uitwei: “Die probleem hier is visie: die jongmense sien nie ’n weg oop anderkant skool nie. … Charles!, kom praat jy hier!” roep sy mnr Cloete, ’n gemeenskapsleier, nader.

Mnr Cloete is nie links nie en val vinnig weg oor Afrikaans, haal aan uit Die Burger, is goed ingelig oor taalsake, en verklaar selfversekerd: “Julle kan maar hier opry, Springbok verby, maar die mense sal Afrikaans nooit vervang. Iets byleer, ja, maar nooit as taal aanneem. Dit is die gevoel van die Wes-Kaap.” Dan: “Engels is nie die taal van demokrasie nie.” Hy beklemtoon die Grondwet se voorskrifte oor veeltaligheid.

Ek speel effens duiwelsadvokaat en probeer Afrikaans as instrument van onderdrukking ontbloot. Waardigheid en gemeenskapsleier ten spyt, hy laat glip dit gedemp uit: “Nee, nee! Stem fokkôl ’ie saam nie. G’n Apartheidstaal nie.”

Ons raak lekker gemoedelik, maar Garies lê ver en ons moet groet. Hy sluit af: “Dis nie ’n wit taal nie, dis ’n taal, dis Afrikaans, dis Afrikaans, dis Afrikaans.”

  • Garies – Dis Grietjie!

Ons kry vir tannie Grietjie by die pienk huisie met die groen deur, by Daisystraat nommer 59, oorkant nommer 18. “Wag net bietjie,” sê sy, “ons ry nou na Sophy se gastehuis toe.” Voor in die straat wat nou, na die reën, nie stof nie, leer ek gou ’n nuwe, blitsvinnige variasie van sokker. Ek sal dit volgende semester op Stellenbosch vertel!

Sophia bly in die hoofstraat, en tannie Grietjie beduie ons soheen. Op die voordeur druk sy die klokkie en ’n stem vra wie dit is. “Dis Grietjie!!!” Die hek gaan dadelik oop. Tannie Grietjie lag lekker – opgewonde om met “Sophy” te praat.

Henry & tannie GrietjieDie gasvrou glimlag breed. Sy en tannie Grietjie is ou kennisse en sy nooi ons kombuis toe, waarna sy ander sake gaan regkry vir haar gastehuis. Ons kom vinnig agter hoekom tannie Grietjie so gewild is: sy gesels so lekker. Waar kom “Lekker ou Jan” vandaan, volgens watter vyf woorde moet mens jou lewe rig, hoe sy Grietjie van Garies geword het, hoe sy dit geniet het om “Suikerbossie” met Steve Hofmeyer saam te sing, en sy verknies haar bietjie oor die jonges wat net “Lekker ou Jan” sing en die ander liedjies vergeet. Haar ouma-hand wys kort-kort met ’n wysvinger in die lug as sy vermaan en as sy wil hê ’n punt moet insink, dan pers sy haar lippe styf op mekaar en haar oë kyk skerp. Amper asof jy moet kan herhaal wat sy gesê het.

“Die uur raak vol,” leer ons ’n sêding by haar. Ons neem haar terug huis toe. “Moenie grond oorslaan nie!” vermaan sy ons in die groet om nie haastig te wees nie.

Vreemd, besluit ek en Henry op die pad Springbok toe. Elke keer as ons Afrikaans of sy nut of sy doel wou bevraagteken, was dit asof sy dit vinnig van die tafel gevee het – asof sy lekkerder stories gehad het om te vertel. Afrikaans is vir haar geen kwessie nie. Dis soos die water wat sy drink. Wie tob dan nou oor of hy graag wil hê sy kinders moet eendag water kan drink?

  • Springbok – LSE QBE SE

Ons vang die laaste lig halfpad op die 70 km tussen Garies en Springbok. “Henry, dis nie aldag dat mens in hierdie wêreld ry onder milde reën soos hierdie nie!”

Springbok Lodge gee goeie kos, en die Tassenberg hier laat ons besef hoe ver ons reeds van Stellenbosch is. Oom Jopie is die eienaar en is rustig-bedrywig agter sy lessenaar soos jy inkom in die restaurant-gedeelte. Die Lodge se mure vertel kontreigeskiedenis.

Oom Jopie glo nie in politiek nie. Hy glo in die vrug van harde werk. Hy’t vroeg die skool gelos. Vir die Jood wat hom kleintyd gevra het wat wil hy word, het hy op agt jaar gesê: “Ook ’n ryk Jood.” Oom Jopie vertel van sy reise Amerika, Hongkong en Meksiko toe. Ek vra hom oor die waarde van naskoolse studie: “Verder studeer? Goed, party het dit seker nodig.” Hy roem egter op Jopie Kotzé, “LSE QBE SE – Left School Early, Qualified By Experience, Self-Employed”.

Hy’s wêreldwys en pragmaties.

“Oom het nou al wyd gereis, Oom is ’n suksesvolle sakeman. Was Afrikaans ooit enigsins beperkend vir Oom gewees in wat Oom ook al wou bereik?”

Hy dink ’n bietjie. Dan beslis: “Nee, dit het nooit teen my getel nie.”

’n Dame kom betaal haar Springbok Lodge-rekening by hom. Naomi Muller is van Namibië en dadelik vol belangstelling toe sy hoor dit gaan oor Afrikaans. “Engels is ’n bedreigde spesie in Namibië; net die politiek is Engels.” Haar seun studeer nou juis op Stellenbosch, laat val sy, en haar siviele-ingenieur-man het ook destyds daar gekwalifiseer.

“Waarheen en vir watter redes stuur die Afrikaanse mense in Namibië hul kinders ná skool vir universiteitsopleiding?” vra ek.

“Goeie, Afrikaanse universiteite,” sê sy. Haar kinders was in ’n Engelse skool; daar was nie ’n Afrikaanse een naby hul huis nie.

“As jy in Afrikaans wil studeer, moet jy kan,” sluit sy af en groet.

Ons groet oom Jopie ook en reël dat ons Woensdagoggend sal betaal vir die verblyf. Die dame wat ons die sleutel vir die slaapplek gee, veeg ons bekommernisse oor die kar se veiligheid weg sonder om twee keer te dink. “Julle’s nou op die plaas!” sê sy in die hartjie van Springbok.

  • Laatnag – Fraiings aan Afrikaans?

Dit tref my: die enigste persoon wat sover nog ons bedoelinge met hierdie soektog na Afrikaans bevraagteken het, was een, middeljarige Afrikanervrou. Natuurlik moet ’n mens weet waarom jy iets doen, en ons sal sekerlik weer daarna gevra word, maar dis nie die punt van die waarneming nie.

Die afgelope twee dae moes ek en Henry nog net een motivering gee wanneer ons vrae wil vra oor Afrikaans: die feit dat ons Afrikaans is. Dit was kwalifikasie genoeg vir ons om toegang tot die tyd en huis van wildvreemdes te kry.

Is dit nie dalk al wat werklik nodig is nie? Die goed wat maak dat ons soms dink iemand het bybedoelings met ’n liefde vir, aandrang op en bemoeienis met Afrikaans ... Is dit nie net fraiings nie?

Groete

Piet

 


Terug na Taaltoer

LitNet: 27 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.